Lukas 15:1-27

Lukas 15:1-27 AFR20

Al die •tollenaars en die sondaars het dikwels nader gekom om na Hom te luister. Die •Fariseërs en die skrifkenners het onder mekaar gemor: “Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.” Toe het Hy vir hulle hierdie gelykenis vertel: “Wie van julle wat honderd skape het en hy verloor een van hulle, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn agter, en gaan agter die verlore een aan totdat hy hom kry nie? En as hy hom gekry het, tel hy hom met blydskap op sy skouers, en gaan huis toe en roep sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle, ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat verlore was, weer gekry.’ Ek sê vir julle, so sal daar in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer het, eerder as oor die nege-en-negentig •regverdiges wat nie nodig het om tot bekering te kom nie.” “Of watter vrou wat tien dragmes het, en een dragme verloor, steek nie 'n lamp op, vee die huis uit en soek deeglik totdat sy dit kry nie? En as sy dit gekry het, roep sy haar vriendinne en bure bymekaar en sê, ‘Wees saam met my bly, omdat ek die dragme wat ek verloor het, weer gekry het.’ So, sê Ek vir julle, is daar blydskap onder God se engele oor een sondaar wat hom bekeer.” Verder het Hy gesê: “'n Man het twee seuns gehad. Die jongste een van hulle het vir sy vader gesê, ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Hy het toe die besittings tussen hulle verdeel. Nie lank daarna nie het die jongste seun al sy goed in geld omgesit en na 'n ver land gereis, en daar alles wat hy besit het, deur sy losbandige leefwyse verkwis. Teen die tyd dat hy alles uitgegee het, het daar 'n baie ernstige hongersnood in daardie land uitgebreek, en hy het begin gebrek ly. Hy gaan werk toe by een van daardie land se inwoners, wat hom na sy boerdery gestuur het om sy varke op te pas. Hy het gewens dat hy sy honger kon stil met die peule wat die varke gewoonlik gevreet het, maar niemand het vir hom daarvan gegee nie. “Toe het hy egter tot sy sinne gekom en gesê, ‘Hoeveel dagloners van my pa het oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger! Ek sal opstaan en na my pa gaan en vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie langer werd om u seun genoem te word nie. Behandel my soos een van u dagloners.’ Hy het toe opgestaan en na sy vader gegaan. Hy was nog ver weg, toe het sy vader hom al gesien. Hy het hom innig jammer gekry, na hom gehardloop, hom omhels en hom gesoen. Die seun sê toe vir sy vader, ‘Vader, ek het gesondig teen die hemel en in u oë. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.’ Maar sy vader het sy slawe opdrag gegee, ‘Bring gou 'n lang stola, die beste een, en trek dit vir hom aan. Gee vir hom 'n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. Bring vir ons die vetgemaakte kalf, slag dit en laat ons eet en feesvier, want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword, hy was verlore en is weer gevind.’ Toe het hulle begin feesvier. “Die oudste seun was in die veld, en toe hy terugkeer en naby die huis kom, hoor hy musiek en 'n gedans. Hy roep toe een van die dienaars en verneem by hom wat aan die gang is. ‘Jou broer het teruggekom,’ het hy hom geantwoord, ‘en jou pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom gesond teruggekry het.’