LUKAS 15:1-27

LUKAS 15:1-27 NLV

Tollenaars en ander sondaars het dikwels na Jesus se onderrig kom luister. Fariseërs en wetskenners het beswaar gemaak dat Hy met veragtelike mense geassosieer het – en selfs saam met hulle geëet het! Jesus het toe hierdie gelykenis vertel: “As jy 100 skape het en een het verdwaal en verlore geraak, sal jy nie die 99 ander net daar laat staan en die een gaan soek tot jy hom kry nie? En dan sal jy hom met blydskap op jou skouers huis toe dra. Wanneer jy tuis is, sal jy jou vriende en bure roep om saam bly te wees omdat jy jou verlore skaap gevind het. Net so sal die hemel blyer wees oor een sondaar wat tot inkeer kom as oor 99 ander wat regverdig is en nie nodig het om tot inkeer te kom nie!” “Of veronderstel ’n vrou het tien waardevolle silwermuntstukke en verloor een daarvan. Sal sy nie ’n lamp opsteek en die huis van hoek tot kant uitvee totdat sy dit kry nie? En wanneer sy dit kry, roep sy haar vriende en bure om saam bly te wees omdat sy haar muntstuk gevind het. Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.” Om dié punt verder te verklaar, het Jesus vir hulle die volgende verhaal vertel: “’n Man het twee seuns gehad. Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Ek wil my deel van die boedel nou hê, eerder as om te wag tot Pa doodgaan.’ Die pa het toe ingestem om sy goed tussen sy twee seuns te verdeel. “’n Paar dae later het hierdie jonger seun al sy besittings in geld omskep, na ’n ver land gereis, en daar al sy geld verkwis met ’n uitspattige lewe. Teen die tyd dat sy geld opgeraak het, het ’n groot hongersnood oor die land gekom en hy het begin honger ly. Hy kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. Die seun het só honger geword dat selfs die peule wat die varke gevreet het, vir hom smaaklik gelyk het. Maar niemand het hom enigiets gegee om te eet nie. “Toe hy uiteindelik tot sy sinne kom, het hy vir homself gesê: ‘By die huis het selfs die gehuurde werkers meer as genoeg kos, en hier is ek besig om van honger dood te gaan! Ek sal teruggaan na my pa toe en vir hom sê: Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie. Neem my asseblief in diens as ’n gehuurde werker.’ “Daarop het hy teruggegaan na sy pa toe. En toe hy nog ver weg was, het sy pa hom gesien aankom. Oorweldig met liefde en deernis het hy na sy seun toe gehardloop, hom omhels en gesoen. Sy seun het vir hom gesê: ‘Pa, ek het gesondig teen die hemel én teen Pa; ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ “Maar sy pa sê vir die bediendes: ‘Gou, bring die mooiste mantel in die huis en trek dit vir hom aan. Kry ’n ring vir sy vinger en sandale vir sy voete. En slag die vetgemaakte kalf. Ons moet feesvier, want hierdie seun van my was dood en hy het nou teruggekeer na die lewe. Hy was verlore, maar nou is hy gevind.’ Toe het hulle begin feesvier. “Intussen het die ouer seun in die veld gewerk. Toe hy terugkom huis toe, hoor hy musiek en dansery in die huis, en hy vra toe een van die bediendes wat aangaan. ‘Jou broer is terug!’ is vir hom gesê. ‘En jou pa het die vetgemaakte kalf geslag. Ons vier fees omdat hy veilig teruggekom het.’

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid