Lukas 12:35-48

Lukas 12:35-48 AFR20

“Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Lukas 12:35-48