LUKAS 12:35-48

LUKAS 12:35-48 Bybel vir almal (ABA)

“Julle moet altyd gereed wees, julle lampe moet altyd brand. Julle moet wees soos slawe wat wag dat hulle eienaar terugkom van die fees by 'n bruilof. Wanneer die eienaar kom en aan die deur klop, dan maak die slawe dadelik die deur vir hom oop. Die slawe wat wakker is wanneer die eienaar kom, sal baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal sê hulle moet by die tafel kom sit. Hy sal sy voorskoot aansit en hy sal hulle bedien. Ja, daardie slawe sal waarlik gelukkig wees as hulle gereed is, ook as die eienaar laat in die nag of baie vroeg in die oggend kom en hy sien sy slawe is wakker. Maar ook die eienaar van 'n huis moet wakker en gereed wees, want as hy weet presies hoe laat die dief kom, dan sal hy seker maak dat die dief nie by sy huis kan inbreek nie. Julle moet ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.” Petrus het gevra: “Here, vir wie vertel U hierdie gelykenis? Vertel U dit vir óns of vir al die mense?” Toe sê die Here: “Ek wil vir jou vertel hoe is 'n bestuurder wat verstandig is en doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om bestuurder te wees van al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee. Wanneer die eienaar terugkom en hy sien sy slaaf is besig om alles te doen wat die eienaar vir hom gesê het, dan sal daardie slaaf baie gelukkig wees. Ek sê vir julle, en dit is seker: Die eienaar sal daardie slaaf die hoof maak wat vir al die goed van sy eienaar moet sorg. Maar 'n slaaf sal miskien dink sy eienaar bly baie lank weg en sal miskien nie weer terugkom nie. En dan begin die slaaf die ander slawe slaan en hy begin eet en drink en dronk word. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. 'n Eienaar wat vir 'n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.”

LUKAS 12:35-48 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

LAAT julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot maak van die ontroues. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.

LUKAS 12:35-48 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Wees gereed, die heupe omgord en die lampe aan die brand! Julle moet wees soos mense wat vir hulle eienaar wag tot hy van die bruilof af terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is die slawe vir wie die eienaar by sy koms wakker sal aantref. Dit verseker Ek julle: Hy sal hulle aan tafel laat sit, self 'n voorskoot aansit en hulle kom bedien. Gelukkig is die slawe wat hy wakker aantref, selfs al sou hy eers om middernag of met hanekraai kom. Maar dit moet julle weet: as die huiseienaar geweet het hoe laat die dief kom, sou hy hom nie in sy huis laat inbreek het nie. Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.” Toe vra Petrus: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons bedoel of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee? Dit is die man vir wie sy eienaar, by sy tuiskoms, so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! Ek sê vir julle die waarheid: Sy eienaar sal hom aanstel oor alles wat hy besit. “Maar as die slaaf by homself sê: ‘My eienaar draai lank om te kom,’ en hy die slawe, mans en vroue, begin slaan, terwyl hy self eet en drink en dronk word, sal die eienaar van die slaaf kom op 'n dag dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak, en hom die lot van ontroues laat deel. “Die slaaf wat geweet het wat sy eienaar wil hê maar wat nie gereed gemaak of volgens die wil van sy eienaar gehandel het nie, sal 'n swaar straf kry. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat straf verdien, sal 'n ligte straf kry. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word; en van hom aan wie baie toevertrou is, sal meer gevra word.”

LUKAS 12:35-48 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die •bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. Wees julle ook gereed, want die •Seun van die Mens kom op 'n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.” Toe vra •Petrus: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons, of vir almal?” En die Here antwoord: “Wie is die betroubare en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy dienaars sal aanstel om hulle rantsoene op tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf wie se eienaar hom so aan die werk sal vind wanneer hy kom. Waarlik, Ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slaaf in sy hart sê, ‘My heer talm om te kom’, en hy begin die dienaars en diensmeisies slaan, en begin eet en drink en dronk word, sal die eienaar van daardie slaaf op 'n dag kom wat hy nie verwag nie en op 'n uur wat hy nie weet nie. Hy sal hom middeldeur laat kap en hom laat deel in die lot van die ontroues. Daardie slaaf wat weet wat sy eienaar wil hê, en nie gereed is of gedoen het wat sy eienaar van hom verwag nie, sal swaar gestraf word. Maar die een wat dit nie weet nie, en dinge gedoen het wat straf verdien, sal net lig gestraf word. Van elkeen aan wie baie gegee is, sal baie geëis word, en aan wie baie toevertrou is, van hom sal meer gevra word.”

LUKAS 12:35-48 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Laat julle lendene omgord wees en julle ligte brand; En julle hou self van manne wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof sal terugkeer; sodat as hy kom en klop, hulle dadelik vir hom kan oopmaak. Geseënd is daardie diensknegte vir wie die Here as hy kom wagtend sal vind; voorwaar Ek sê vir julle, hy sal homself omgord en hulle laat aansit en sal uitgaan en hulle bedien. En as hy in die tweede wag kom of in die derde wag kom en hulle so vind, gelukkig is daardie diensknegte. En weet dit dat as die eienaar van die huis geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie toegelaat het dat sy huis deurbreek nie. Wees dan ook gereed, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle nie dink nie. Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of selfs tot almal? En die Here het gesê: Wie is dan daardie getroue en wyse bestuurder wat sy heer oor sy huisgesin sal aanstel, om hulle op die regte tyd hulle deel van die vleis te gee? Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, dat hy hom sal aanstel as heerser oor alles wat hy het. Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer stel sy koms uit; en sal begin om die diensknegte en diensmeisies te slaan en te eet en te drink en dronk te word; Die heer van daardie dienskneg sal kom op 'n dag dat hy na hom nie kyk nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en hy sal hom uitsny en hom sy deel met die ongelowiges bepaal. En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en hom nie voorberei het nie en nie volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word. Maar hy wat nie geweet het nie en dinge gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. Want aan elkeen wat baie gegee word, van hom sal veel geëis word; en aan wie die mense baie toevertrou het, van hom sal hulle des te meer vra.

LUKAS 12:35-48 Die Boodskap (DB)

“Julle moet reg leef. Laat julle lig helder in hierdie donker wêreld skyn, want die Here kan enige oomblik terugkom. Julle moet soos werkers in ’n belangrike man se huis wees wat die hele tyd wag dat hy van ’n bruilof af moet terugkeer. As hy laat in die aand aan die voordeur klop, maak hulle dadelik vir hom oop. Daardie werkers is gelukkig dat hulle nie aan die slaap geraak het nie, want die werkgewer sal daar en dan vir hulle iets te ete gee. Hy sal selfs dat hulle in sy eetkamer gaan sit terwyl hy hulle bedien. “Daardie werkgewer sal selfs nog blyer wees as hy eers in die middel van die nag by sy huis aankom en sy werkers staan steeds getrou daar by die voordeur vir hom en wag. Dan wag daar sommer ’n groot present op hulle. “Nog ’n voorbeeld: As iemand hoor dat ’n dief beplan om drie-uur in die nag by hom te kom inbreek, sal hy mos gereed wees, nie waar nie? Hy sal die dief met niks laat wegkom nie. Net so moet julle ook sorg dat julle reg is, want julle weet nie wanneer die Seun van die mens kom nie. Al wat Ek vir julle kan sê, is dat dit op ’n tydstip sal wees dat julle dit die minste verwag.” Petrus vra toe vir Jesus: “Met wie praat U nou eintlik? Net met ons dissipels, of ook met al die ander mense?” Jesus het Petrus met nog ’n verhaal geantwoord: “Dink ’n bietjie: Watter soort werker sal die eienaar van ’n fabriek die graagste aanstel om elke maand die ander werkers se lone uit te betaal? Definitief die persoon wat betroubaar is en wat altyd hard werk, of die eienaar nou daar is of nie. So ’n werker sal goed beloon word as die eienaar op ’n dag kom inspeksie doen. Uiteindelik sal hy die bestuurder oor die hele fabriek word. Maar as daardie werker vir homself sou sê: ‘Kyk, die baas is nie hier nie. Nou maak ek wat ek wil,’ wag daar groot probleme op hom. Kort voor lank begin hy dan geld steel en met die ander werkers sukkel. Hy begin ook in werkstyd drink en partytjie hou. Vir hierdie werker wag daar ’n groot verrassing. Op ’n goeie dag, as hy nog so dronk daar rondsit en die ander pla, sal die eienaar onverwags by die fabriek instap. Dit sal natuurlik gebeur wanneer hy dit die minste verwag. Maar dan gaan hy bitter swaar gestraf word. Daardie werker gaan net mooi alles verloor wat hy gehad het. “Die werker wat weet wat sy eienaar van hom verwag, maar wat hom nie daaraan steur nie en doen wat hy wil, sal bitter swaarkry op die dag dat sy eienaar terugkom. Aan die ander kant, daardie werker wat nie mooi geweet het wat sy eienaar van hom verwag nie, maar wat drooggemaak het, sal nie so swaar soos die eerste werker gestraf word nie. “So gaan dit ook in God se wêreld. Hoe meer verantwoordelikhede daar aan mense toevertrou word, hoe groter plig rus daar op hulle skouers om te doen wat God vra. Op die laaste dag sal daar van hulle groter rekenskap gevra word as van ander.”

LUKAS 12:35-48 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Wees geklee vir diens en goed voorberei, asof julle wag vir julle meester om terug te kom van die bruilofsfees af. Dan sal julle gereed wees om die deur oop te maak sodra hy kom en klop. Hy sal hulle wat gereed is en vir sy terugkoms sit en wag baie spesiaal behandel. Ek verseker julle, hy self sal hulle laat aansit, ’n voorskoot aantrek en hulle bedien terwyl hulle sit en eet! Hy kan in die middel van die nag kom of net voor dagbreek. Maar wanneer hy ook al kom, hy sal sy dienaars wat gereed is baie spesiaal behandel. “Weet dit: ’n Huiseienaar wat geweet het presies hoe laat ’n inbreker sou kom, sou nie toelaat dat by die huis ingebreek word nie. Julle moet altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die Mens, sal kom wanneer dit die minste verwag word.” Petrus vra toe: “Here, is hierdie gelykenis net vir ons of vir almal?” En Jesus het geantwoord: “Ek praat met enige getroue, verstandige slaaf aan wie die meester die verantwoordelikheid opgedra het om sy huishouding te bestuur en sy gesin te voed. As die meester terugkom en sien dat die slaaf ’n goeie werk gedoen het, sal daar ’n beloning wees. Ek verseker jou, die meester sal die slaaf aanstel oor alles wat hy besit. Maar as die slaaf dink: ‘My meester sal nie binnekort terug wees nie,’ en hy begin die ander slawe verdruk en gaan hom te buite met kos en drank – wel, die meester sal onaangekondig en onverwags terugkom. Hy sal die slaaf folter en hom laat deel in die lot van die ontroues. Die slaaf sal swaar gestraf word, want alhoewel hy sy plig geken het, het hy dit nie gedoen nie. “Maar hulle wat nie bewus was dat hulle verkeerd doen nie – hulle sal net lig gestraf word. Baie word verwag van hulle aan wie baie gegee is, en nog veel meer word vereis van hulle aan wie soveel meer gegee is.”