En kyk, 'n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ” “Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?”
Hierop het Jesus geantwoord: “'n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 'n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. En net so het ook 'n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan. Maar 'n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. Hy het na hom gegaan, sy wonde verbind en olyfolie en wyn daaroor gegiet. Toe help hy hom op sy eie rydier, neem hom na 'n herberg en versorg hom daar. Die volgende oggend haal hy twee denarius uit, gee dit vir die herbergier en sê, ‘Versorg hom, en wat jy ook al bestee, sal ek jou betaal wanneer ek terugkom.’ Wie van hierdie drie, dink jy, was 'n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?” En hy het geantwoord: “Die een wat ontferming aan hom betoon het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”
Terwyl hulle op reis was, het Hy by 'n sekere dorpie gekom waar 'n vrou met die naam Martha Hom as gas ontvang het. Sy het 'n suster met die naam Maria gehad, wat by die Here se voete gaan sit het om na sy woorde te luister. Maar Martha was besig met al die voorbereidings. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê tog vir haar om my te help!” Maar die Here antwoord haar: “Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.”