Lukas 1:67-79

Lukas 1:67-79 AFR20

Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê: “Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het omgesien na sy volk en hulle bevryding bewerkstellig. 'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg, soos Hy reeds lank gelede by monde van sy heilige profete beloof het – verlossing van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat. Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond in gedagte te hou, die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het , sodat ons, gered uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees sou dien, en al ons dae voor Hom in heiligheid en •geregtigheid kan leef. En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitloop om sy paaie gereed te maak, en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word deur die vergewing van hulle sondes, danksy ons God se innige ontferming, waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skadu van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas.”