LUKAS 1:67-79

LUKAS 1:67-79 NLV

Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Prys die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk opgesoek en hulle gered. Hy het vir ons ’n magtige Redder gestuur uit die koninklike geslag van sy dienaar Dawid, soos Hy lank gelede deur sy heilige profete beloof het. Nou sal ons van ons vyande gered word en van almal wat ons haat. Hy was genadig teenoor ons voorvaders en Hy het sy heilige verbond met hulle onthou, die eed wat Hy teenoor Abraham ons voorvader gesweer het dat Hy sou sorg dat ons, gered van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien in toewyding en geregtigheid vir altyd. En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal die pad van die Here voorberei. Jy sal sy volk vertel hoe om verlos te word: deurdat hulle sonde vergewe word. Vanweë God se tere ontferming is die lig van die hemel op die punt om oor ons te skyn, om lig te bring aan hulle wat in donkerheid en die skaduwee van die dood lewe, en om ons te lei op die pad van vrede.”