Lukas 1:39-56

Lukas 1:39-56 AFR20

In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet. Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul en het hardop uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue! Geseënd is die vrug van jou moederskoot! Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ” Maria het toe gesê: “My siel loof die Here, my gees jubel oor God my Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen – ja, heilig is sy Naam. Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan hulle wat vir Hom ontsag het. Kragtige dade verrig Hy met sy arm. Die denke van hoogmoediges verwar Hy, heersers ruk Hy van hulle trone af, en geringes verhoog Hy. Hongeriges versadig Hy met goeie gawes, en rykes stuur Hy met leë hande weg. Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan, deur sy ontferming in gedagte te hou, soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het, aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.” Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.