LUKAS 1:39-56

LUKAS 1:39-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda; en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word. EN Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe.

LUKAS 1:39-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” En Maria het gesê: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser, omdat Hy na my in my geringheid omgesien het. Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem, omdat Hy wat magtig is, groot dinge aan my gedoen het. Heilig is sy Naam! Hy bewys ontferming van geslag tot geslag aan dié wat Hom eer. Kragtige dade het Hy met sy arm verrig: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur. Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.

LUKAS 1:39-56 Bybel vir almal (ABA)

Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.” Toe het Maria gesê: Ek prys die Here met my hele hart. My hart is bly oor God wat my red. Hy het my gesien en gehelp, vir my, sy nederige dienaar. Van nou af sal al die mense sê ek is baie gelukkig, want God wat alles kan doen, het wonderlike dinge vir my gedoen. Sy Naam is heilig. Hy sal altyd goed wees vir die mense wat Hom eer. Hy het gewys Hy is sterk. Hy het die hoogmoedige mense weggejaag na al die kante toe. Hy het konings laat ophou regeer, maar Hy het mense wat nie belangrik is nie, belangrik gemaak. Hy het vir honger mense genoeg kos gegee, maar vir die ryk mense het Hy niks gegee nie. Hy het sy volk Israel gehelp, Hy het onthou dat Hy belowe het om goed te wees vir hulle, vir ons voorvaders, vir Abraham en sy nageslag, vir altyd. Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly, en toe het sy teruggegaan na haar huis.

LUKAS 1:39-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Maria het in daardie dae opgestaan en haastig na die gebergte gegaan, na 'n stad van Juda; En hy het in die huis van Sagaria ingegaan en Elisabet gegroet. En dit het gebeur dat, toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die baba in haar skoot opgespring; en Elisabeth was vervul met die Heilige Gees: En sy het met 'n groot stem uitgespreek en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot. En waar kom dit vir my vandaan, dat die moeder van my Here na my toe sou kom? Want kyk, toe die stem van u groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot gespring van blydskap. En geseënd is sy wat geglo het, want daar sal uitvoering wees van die dinge wat van die Here aan haar gesê is. En Maria sê: My siel maak die Here groot, En my gees het hom verbly in God, my Verlosser. Want hy het die geringe eiendom van sy diensmaagd aanskou, want kyk, van nou af sal al die geslagte my geseënd noem. Want Hy wat sterk is, het groot dinge aan my gedoen; en heilig is sy naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag oor die wat Hom vrees. Hy het krag met sy arm getoon; hoogmoediges het Hy verstrooi in die verbeelding van hulle harte. Die magtiges het Hy van hulle stoele neergesit en geringes verhef. Hy het die hongeriges met goeie dinge vervul; en die rykes het Hy leeg weggestuur. Hy het sy kneg Israel gehol, tot gedagtenis aan sy goedertierenheid; Soos Hy met ons vaders gespreek het, met Abraham en met sy nageslag tot in ewigheid. En Maria het omtrent drie maande by haar gebly en na haar eie huis teruggekeer.

LUKAS 1:39-56 Die Boodskap (DB)

Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.” Maria het toe gesê: “Ek maak die Naam van die Here groot. Ek juig oor God. Hy is my Redder. Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.” Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan.

LUKAS 1:39-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Maria het geantwoord: “Ek prys die Here. Ek juig in God my Verlosser! Want Hy het omgesien na sy nederige diensmeisie, en nou sal geslag na geslag my geseënd noem. Want Hy, die magtige Een, het groot dinge vir my gedoen. Heilig is sy Naam! Sy ontferming strek van geslag tot geslag oor almal wat Hom eer. Sy kragtige arm doen geweldige dinge! Hy verstrooi die trotse en hooghartige mense! Hy het prinse onttroon en nederiges verhef. Hy het dié wat gebrek ly, met goeie dinge versadig, en die rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy dienaar Israel gehelp! Hy het nie sy belofte vergeet om ontferming te bewys nie. Want Hy het ons voorvaders beloof – vir Abraham en sy kinders – om vir altyd goed te wees teenoor hulle.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe.