Lukas 1:39-56

Lukas 1:39-56 ABA

Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.” Toe het Maria gesê: Ek prys die Here met my hele hart. My hart is bly oor God wat my red. Hy het my gesien en gehelp, vir my, sy nederige dienaar. Van nou af sal al die mense sê ek is baie gelukkig, want God wat alles kan doen, het wonderlike dinge vir my gedoen. Sy Naam is heilig. Hy sal altyd goed wees vir die mense wat Hom eer. Hy het gewys Hy is sterk. Hy het die hoogmoedige mense weggejaag na al die kante toe. Hy het konings laat ophou regeer, maar Hy het mense wat nie belangrik is nie, belangrik gemaak. Hy het vir honger mense genoeg kos gegee, maar vir die ryk mense het Hy niks gegee nie. Hy het sy volk Israel gehelp, Hy het onthou dat Hy belowe het om goed te wees vir hulle, vir ons voorvaders, vir Abraham en sy nageslag, vir altyd. Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly, en toe het sy teruggegaan na haar huis.