Levitikus 25:47-52

Levitikus 25:47-52 AFR20

“ ‘Wanneer 'n vreemdeling of bywoner by jou besittings bymekaarmaak en jou broer verarm by hom en verkoop homself aan 'n vreemdeling, 'n bywoner by jou, of aan 'n nasaat van 'n familie vreemdelinge, dan behou hy die reg van terugkoop nadat hy verkoop is. Een van sy broers moet hom loskoop; of sy oom of sy neef aan vaderskant moet hom loskoop; of 'n bloedverwant uit sy familie moet hom loskoop; of hy maak dalk genoeg bymekaar sodat hy homself kan loskoop. Hy moet dan, saam met die een wat hom gekoop het, die jare bereken vanaf die jaar wat hy aan hom verkoop is tot die volgende jubeljaar. Die geldwaarde van sy verkoopprys moet ooreenstem met die getal jare, asof hy in dié tyd 'n dagloner by die man was. As daar nog baie jare oor is, moet hy in ooreenstemming daarmee van die geld waarvoor hy gekoop is, terugbetaal vir sy loskoop. Maar as daar min jare oor is tot die jubeljaar, moet hy dit bereken. Ooreenkomstig daardie jare moet hy terugbetaal vir sy loskoop.