Levitikus 22:1-16

Levitikus 22:1-16 AFR20

Die HERE het vir Moses gesê: “ Praat met Aäron en sy seuns, sodat hulle die •heilige gawes wat die Israeliete aan My toewy, met eerbied hanteer en my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die HERE. Sê vir hulle, ‘As daar onder toekomstige geslagte enigiemand van julle nakomelinge is, wat terwyl hy •onrein is, naby die heilige gawes kom wat die Israeliete aan die HERE gewy het, moet daardie persoon uit my teenwoordigheid verwyder word. Ek is die HERE. Enige man uit die nageslag van Aäron wat 'n velsiekte of afskeiding het, mag totdat hy rein is, nie van die heilige gawes eet nie. Iemand wat aan enigiets raak wat deur 'n lyk verontreinig is, of 'n man wat 'n saadvloeiing gehad het, of 'n man wat aan enige kruipende dier geraak het waardeur hy onrein geword het, of aan 'n mens deur wie hy op enige wyse onrein geword het – so iemand sal onrein wees tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige gawes eet nie. Maar as hy sy liggaam met water afgespoel en die son ondergegaan het, is hy rein. Daarna mag hy van die heilige gawes eet, want dit is sy brood. Iets wat doodgegaan het of verskeur is, mag hy nie eet nie sodat hy nie daardeur onrein word nie. Ek is die HERE. Die priesters moet die verpligtinge nakom wat Ek oplê. Hulle moet nie skuld op hulle laai en sterf omdat hulle die heilige gawes ontheilig het nie. Ek, die HERE, heilig hulle. “ ‘ Geen onbevoegde persoon mag eet wat heilig is nie. 'n Priester se bywoner of dagloner mag nie eet wat heilig is nie. Maar wanneer 'n priester met sy geld iemand as sy besitting koop, mag so iemand daarvan eet; en slawe wat in sy huis gebore is, hulle mag ook van sy brood eet. Wanneer die dogter van 'n priester met 'n onbevoegde persoon getroud is, mag sy nie meer van die •wydingsgeskenk van heilige gawes eet nie. Maar wanneer die dogter van 'n priester 'n weduwee word, of verstoot word, en sy geen nageslag het nie en na haar vader se huis terugkeer soos in haar jeug, mag sy van haar vader se brood eet. Geen onbevoegde persoon mag daarvan eet nie. Wanneer iemand onopsetlik iets eet wat heilig is, moet hy die heilige gawe aan die priester teruggee en 'n vyfde byvoeg. Die priesters mag nie die heilige gawes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenke aan die HERE gee, ontheilig nie. Wanneer hulle die heilige gawes eet, sal hulle skuld wat boetedoening vereis op die Israeliete laai, want Ek, die HERE, heilig dit.’ ”

Video vir Levitikus 22:1-16

Gratis leesplanne en oordenkings oor Levitikus 22:1-16