LEVITIKUS 22:1-16

LEVITIKUS 22:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns hulle moet versigtig omgaan met die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, sodat hulle nie my heilige Naam ontheilig nie. Ek is die Here. Sê vir hulle: Nie een van julle of julle nakomelinge mag ooit van die gewyde gawes wat die Israeliete aan My wy, gebruik terwyl hy onrein is nie. Die persoon wat dit doen, mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die Here. “Geen priester uit die geslag van Aäron wat 'n velsiekte of 'n afskeiding het wat hom onrein maak, mag van die gewyde gawes eet voordat hy weer rein is nie. As 'n priester aan enigiets geraak het wat deur 'n lyk verontreinig is, of as hyself 'n saadvloeiing gehad het of aan enige dier of persoon geraak het wat hom op enige manier onrein maak, is hy die res van die dag onrein en mag hy nie van die gewyde gawes eet nie. Eers nadat hy gebad het en die son onder is, is hy weer rein. Daarna moet hy toegelaat word om van die gewyde gawes te eet, want dit is al kos wat hy het. Hy mag nie die vleis eet van 'n dier wat gevrek het of wat deur roofdiere verskeur is nie. Dit maak hom onrein. Ek is die Here. “Die priesters moet my bevel gehoorsaam en nie sondig nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek, die Here, heilig die priesters. “Geen onbevoegde persoon mag van die gewyde gawes eet nie, ook nie 'n bywoner of dagloner van 'n priester mag daarvan eet nie. Slawe wat deur die priester gekoop is, of dié wat van geboorte af deel is van sy huishouding, mag wel eet van die kos wat hy ontvang. Wanneer 'n priester se dogter trou met iemand wat nie lid is van die priesterfamilie nie, mag sy nie langer van die gewyde gawes eet nie. “As so 'n dogter egter 'n weduwee word of van haar man skei en sy geen kinders het nie, mag sy weer by haar pa gaan inwoon soos toe sy 'n jongmeisie was en kan sy ook van die kos eet wat hy ontvang. Geen onbevoegde persoon mag egter van die gewyde gawes eet nie. “As 'n onbevoegde persoon per ongeluk van die gewyde gawes eet, moet hy die waarde daarvan plus twintig persent aan die priester uitbetaal. “Die priesters moet egter toesien dat die gewyde gawes wat die Israeliete aan die Here gee, nie ontwy word nie. Hulle mag nie toelaat dat onbevoegde persone van die gewyde gawes eet nie, want dan sal hulle straf oor hulleself bring. Ek, die Here, heilig die priesters.”

LEVITIKUS 22:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “ Praat met Aäron en sy seuns, sodat hulle die •heilige gawes wat die Israeliete aan My toewy, met eerbied hanteer en my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die HERE. Sê vir hulle, ‘As daar onder toekomstige geslagte enigiemand van julle nakomelinge is, wat terwyl hy •onrein is, naby die heilige gawes kom wat die Israeliete aan die HERE gewy het, moet daardie persoon uit my teenwoordigheid verwyder word. Ek is die HERE. Enige man uit die nageslag van Aäron wat 'n velsiekte of afskeiding het, mag totdat hy rein is, nie van die heilige gawes eet nie. Iemand wat aan enigiets raak wat deur 'n lyk verontreinig is, of 'n man wat 'n saadvloeiing gehad het, of 'n man wat aan enige kruipende dier geraak het waardeur hy onrein geword het, of aan 'n mens deur wie hy op enige wyse onrein geword het – so iemand sal onrein wees tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige gawes eet nie. Maar as hy sy liggaam met water afgespoel en die son ondergegaan het, is hy rein. Daarna mag hy van die heilige gawes eet, want dit is sy brood. Iets wat doodgegaan het of verskeur is, mag hy nie eet nie sodat hy nie daardeur onrein word nie. Ek is die HERE. Die priesters moet die verpligtinge nakom wat Ek oplê. Hulle moet nie skuld op hulle laai en sterf omdat hulle die heilige gawes ontheilig het nie. Ek, die HERE, heilig hulle. “ ‘ Geen onbevoegde persoon mag eet wat heilig is nie. 'n Priester se bywoner of dagloner mag nie eet wat heilig is nie. Maar wanneer 'n priester met sy geld iemand as sy besitting koop, mag so iemand daarvan eet; en slawe wat in sy huis gebore is, hulle mag ook van sy brood eet. Wanneer die dogter van 'n priester met 'n onbevoegde persoon getroud is, mag sy nie meer van die •wydingsgeskenk van heilige gawes eet nie. Maar wanneer die dogter van 'n priester 'n weduwee word, of verstoot word, en sy geen nageslag het nie en na haar vader se huis terugkeer soos in haar jeug, mag sy van haar vader se brood eet. Geen onbevoegde persoon mag daarvan eet nie. Wanneer iemand onopsetlik iets eet wat heilig is, moet hy die heilige gawe aan die priester teruggee en 'n vyfde byvoeg. Die priesters mag nie die heilige gawes van die Israeliete wat hulle as wydingsgeskenke aan die HERE gee, ontheilig nie. Wanneer hulle die heilige gawes eet, sal hulle skuld wat boetedoening vereis op die Israeliete laai, want Ek, die HERE, heilig dit.’ ”

LEVITIKUS 22:1-16 Die Boodskap (DB)

Die Here het ook nog verder vir Moses gesê om vir Aäron en sy seuns te waarsku om die offers wat die Israeliete vir die Here bring, met groot versigtigheid te hanteer. “Hulle dra die verantwoordelikheid vir die volk se offers aan die Here. Hulle moenie deur die manier waarop hulle optree die Naam van die Here gaan sleg maak nie. Ek is tog die Here.” Moses moes vir hulle sê: “Enigeen onder julle of julle kinders wat met die offers werk wat die Israeliete vir die Here bring terwyl hy nie reg is daarvoor nie, sal uit sy werk weggevat word. As iemand uit Aäron se familie ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding het, mag hy nie van die offers eet voor hy gesond geword het nie. ’n Dienaar is nie reg vir sy werk as hy aan ’n dooie ding gevat het nie. Hy is ook nie reg as hy saad gestort het of geraak het aan enige kruipende insek wat hom kan besoedel nie. Wanneer hy aan ’n ander mens gevat het en sy onreinheid op hom oorgedra het, is hy ook nie reg nie. Hy moet vir die res van die dag wegbly van die Here se tent af. Hy mag in daardie tyd ook nie van die offers eet nie. Nadat hy homself gewas het en die son ondergegaan het, is hy egter weer reg vir sy werk. Hy mag dan weer van die offers eet, omdat dit die enigste kos is vir die dienaars. Die dienaars moenie ’n dier eet wat vanself gevrek het of wat deur ander diere verskeur is nie. Dit maak dat hy nie reg is om sy werk te doen nie. Ek is die Here. Die dienaars moet doen soos die Here sê. Hulle moet nie die Here se opdragte belaglik maak nie. Hulle sal sterf as hulle die gewyde gawes ontwy. Ek is die Here wat hulle aan my diens toegewy het.” “Iemand wat nie by die Here se tent werk nie, mag nie van die offers eet nie. Iemand wat by hom in sy huis woon en iemand wat vir hom werk, mag ook nie daarvan eet nie. Die slawe wat hy vir homself gekoop het en dié wat in sy huis gebore is, mag wel saam met hom sy deel van die offer eet. As sy dogter met iemand trou wat nie ook by die tent werk nie, mag sy nie langer saam eet aan sy deel van die offers nie. As sy dogter ’n weduwee word of van haar man skei, en sy het geen kinders nie en sy kom bly weer by haar pa soos toe sy nog ’n afhanklike kind was, mag sy saam met haar pa van sy deel eet. Iemand wat nie uit Aäron se familie is nie, mag egter glad nie van die offers eet nie. As iemand van die offers geëet het sonder om te weet dat dit offervleis is, moet hy dit vir die dienaar by die tent vergoed en 120% van die waarde daarvan vir hom teruggee. Die dienaars mag op geen manier toelaat dat die offers wat die Israeliete vir die Here bring, verkeerd gebruik word nie. As hulle ander mense toelaat om daarvan te eet, sal Ek hulle daarvoor verantwoordelik hou. Ek, die Here, het die dienaars Myne alleen gemaak.”

LEVITIKUS 22:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns om die heilige gawes wat die Israeliete vir My eenkant afsonder, met sorg te hanteer sodat hulle nie my Naam ontheilig nie. Ek is die HERE. “Herinner hulle daaraan dat nie een van hulle afstammelinge die offer wat die Israeliete aan My opgedra het, mag bring terwyl hulle self onrein is nie. So ’n persoon mag nooit weer in my teenwoordigheid diens doen nie. Ek is die HERE. “As enige priester uit die nageslag van Aäron ’n aansteeklike velsiekte het, of ’n afskeiding wat hom onrein maak, mag hulle nie van die heilige offers eet voordat hulle rein verklaar is nie. As enige priester onrein sou raak deur aan ’n lyk te raak of deur ’n saadstorting, of deur ’n kruipende dier aan te raak wat onrein is, of deur aan iemand te raak wat onrein is vir watter rede ook al, sal hy onrein bly tot die aand toe. Hy mag nie van die heilige offers eet voordat hy sy liggaam met water gereinig het nie. As die son ondergaan, sal hy weer rein wees en mag hy van die heilige offers eet. Dit is immers hulle enigste kos. “Die priesters mag nooit vleis eet van ’n dier wat aan natuurlike oorsake gevrek het of wat deur wilde diere verskeur is nie, want dit sal hulle onrein maak. Ek is die HERE. “Waarsku alle priesters om hierdie reëls noukeurig na te kom, anders sal hulle gestraf word en sterf omdat hulle oortree het. Ek is die HERE wat hulle heilig maak. “Iemand wat nie aan die familie van ’n priester behoort nie, mag nooit van die heilige offers eet nie, selfs nie eers as die persoon in ’n priester se huis woon of een van sy gehuurde slawe is nie. As die priester egter self die slaaf gekoop het, mag hy van die offers eet. As die slaaf kinders het, mag hulle ook deel in die kos. As die dogter van ’n priester sou trou met iemand buite die priesterlike familie, mag sy nie langer van die heilige offers eet nie. As sy egter ’n weduwee word of geskei en nie enige kinders het nie, en sy kom bly weer in haar pa se huis, mag sy weer van haar pa se kos eet. Behalwe vir hierdie uitsonderings, word net die priesters se families toegelaat om van die heilige offers te eet. “Iemand wat van die heilige offers eet sonder om dit te besef, moet die priester daarvoor betaal plus ’n addisionele heffing van twintig persent. Niemand mag die heilige offers wat deur die Israeliete vir die HERE gebring word, onrein maak deur toe te laat dat onbevoegde persone daarvan eet nie. So ’n nalatige priester bring skuld op die volk wat weer betaal moet word. Ek is die HERE wat hulle heilig maak.”

LEVITIKUS 22:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê hulle moet versigtig wees met die gewyde presente wat die Israeliete aan My wy, die priesters moenie my heilige Naam ontwy nie. Ek is die Here. Jy moet vir hulle sê: Wanneer iemand van julle nageslag onrein is, en hy kom naby die gewyde presente wat die Israeliete aan die Here gewy het, dan moet julle hom afsny van my tempel. Ek is die Here. Wanneer 'n man van die nageslag van Aäron melaats is of daar kom iets nat uit hom, dan moet hy eers rein word, en daarna mag hy eet van die gewyde presente. “'n Man word onrein as daar saad uit hom gekom het, of as hy aan 'n lyk geraak het. Hy word ook onrein wanneer hy raak aan 'n man wat onrein geword het van enige een van die klein diertjies, of aan 'n mens wat onrein is. Wanneer hy aan enige een van hierdie dinge of persone geraak het, dan sal hy onrein wees tot die aand. Hy moet eers bad voordat hy van die gewyde presente mag eet. Hy sal rein wees nadat die son ondergegaan het, daarna mag hy van die gewyde presente eet, want dit is sy kos. “Wanneer 'n dier self gevrek het of wanneer 'n wilde dier dit gevang het, dan mag 'n priester nie die vleis eet nie, want die priester sal dan onrein word. Ek is die Here. Die priesters moet aanhou om te doen wat Ek wil hê, sodat hulle nie skuldig word en sterf omdat hulle die tempel ontwy het nie. Ek is die Here, Ek het hulle gewy. Iemand wat nie 'n priester is nie, mag nie van die gewyde presente eet nie. 'n Priester se bywoner of sy dagloner mag nie van die gewyde presente eet nie. As die priester 'n slaaf gekoop het of as 'n slaaf in sy huis gebore is, dan mag die slaaf van die priester se kos eet. 'n Priester se dogter wat getroud is met 'n man wat nie 'n priester is nie, mag nie eet van die offers wat gewyde presente is nie. As 'n priester se dogter 'n weduwee geword het of as sy geskei het van haar man en sy het nie kinders nie en sy gaan woon weer in haar pa se huis soos toe sy jonk was, dan mag sy van haar pa se kos eet. Iemand wat nie 'n priester is nie, mag nie van die kos eet nie. As 'n persoon van die gewyde kos eet maar hy het nie geweet dat dit gewyde kos is nie, dan moet hy vir die priester 'n gewyde present gee en hy moet nog een vyfde van die kos daarby sit. Die priesters mag nie die gewyde presente ontwy wat die Israeliete vir die Here offer nie. As hulle dit doen wanneer hulle van die gewyde kos eet, dan sal hulle skuldig wees, en dan moet hulle 'n skuld-offer bring. Ek is die Here, Ek het hulle gewy.”

LEVITIKUS 22:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns dat hulle versigtig moet wees met die heilige gawes van die kinders van Israel — wat hulle aan My heilig — sodat hulle my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die HERE. Sê vir hulle: Enigeen in julle geslagte wat uit al julle nakomelinge na die heilige gawes aankom wat die kinders van Israel aan die HERE heilig, terwyl sy onreinheid op hom is, dié siel moet uitgeroei word van my aangesig af weg. Ek is die HERE. Niemand uit die nageslag van Aäron wat melaats is of 'n vloeiing het, mag van die heilige gawes eet voordat hy rein is nie. En hy wat aan iemand raak wat deur 'n lyk onrein is, of van wie 'n saadvloeiing uitgaan, of iemand wat aan enige kruipende ongedierte raak, waardeur hy onrein word, of aan 'n mens, deur wie hy onrein word ten gevolge van watter onreinheid ook al — die persoon wat aan so iets raak, sal tot die aand toe onrein wees, en hy mag van die heilige gawes nie eet nie tensy dat hy sy liggaam in die water gebad het. Maar as die son onder is, sal hy rein wees; en daarna kan hy van die heilige gawes eet, want dit is sy voedsel. Aas of iets wat verskeur is, mag hy nie eet, sodat hy daardeur nie onrein word nie. Ek is die HERE. Hulle moet dan my ordening onderhou, dat hulle weens die heilige gawes geen sonde op hulle laai en daardeur sterwe nie, omdat hulle dit ontheilig het. Ek is die HERE wat hulle heilig. Ook mag geen onbevoegde eet wat heilig is nie. 'n Bywoner van 'n priester en 'n dagloner mag nie eet wat heilig is nie. Maar as 'n priester iemand met sy geld koop, mag dié daarvan eet, en die wat in sy huis gebore is; húlle mag van sy voedsel eet. Maar as die dogter van 'n priester aan 'n vreemde behoort, mag sy van die offergawe van die heilige gawes nie eet nie. Maar as die dogter van 'n priester weduwee is of verstoot word en sy kinderloos is en in die huis van haar vader terugkom soos in haar jeug, dan mag sy van die voedsel van haar vader eet; maar geen onbevoegde mag daarvan eet nie. En as iemand by vergissing iets eet wat heilig is, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg, en só wat heilig is, aan die priester teruggee. So moet hulle dan die heilige gawes wat die kinders van Israel aan die HERE afgee, nie ontheilig en op húlle geen strafbare skuld laai deurdat húlle die heilige gawes sou eet nie; want Ek is die HERE wat hulle heilig.

LEVITIKUS 22:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns dat hulle hulle moet afsonder van die heilige dinge van die kinders van Israel, en dat hulle my heilige Naam nie ontheilig in die dinge wat hulle aan My heilig nie: Ek is die HERE. Sê vir hulle: Elkeen uit julle hele nageslag onder julle geslagte wat na die heilige dinge gaan wat die kinders van Israel aan die HERE heilig, terwyl sy onreinheid op hom is, dié siel moet van my aangesig uitgeroei word; die HERE. Elkeen van die nageslag van Aäron is melaats of het 'n vloeiende vloeiing; van die heilige gawes mag hy nie eet totdat hy rein is nie. En elkeen wat aan enigiets raak wat deur die dode onrein is, of aan 'n man wie se saad van hom weggaan; Of elkeen wat aan enige kruipende gedierte raak, waardeur hy onrein kan word, of 'n man van wie hy onrein kan neem, watter onreinheid hy ook al het; Die siel wat so iets aangeraak het, sal tot die aand toe onrein wees en van die heilige gawes nie eet nie, tensy hy sy vlees met water was. En as die son onder is, sal hy rein wees en daarna van die heilige gawes eet; want dit is sy kos. Wat vanself sterwe of verskeur is van diere, mag hy nie eet om hom daarmee te verontreinig nie; Ek is die HERE. Hulle moet dan my verordening onderhou, sodat hulle nie daarvoor sonde dra en daarom sterwe as hulle dit ontheilig nie; Ek, die HERE, heilig hulle. Geen vreemdeling mag van die heiligdom eet nie: 'n bywoner van die priester of 'n dagloner mag nie van die heiligdom eet nie. Maar as die priester enige siel met sy geld koop, moet hy daarvan eet, en die wat in sy huis gebore is; van sy vleis moet hulle eet. As die dogter van die priester ook met 'n vreemdeling getroud is, mag sy nie van 'n offer van die heilige gawes eet nie. Maar as die dogter van die priester 'n weduwee is of geskei is en geen kind het nie en teruggaan na die huis van haar vader soos in haar jeug, dan mag sy van haar vader se voedsel eet; maar geen vreemdeling mag daarvan eet nie. En as iemand onwetend van die heiligdom eet, moet hy die vyfde deel daarvan bysit en dit saam met die heiligdom aan die priester gee. En hulle mag die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE offer, nie ontheilig nie; Of laat hulle die ongeregtigheid van oortreding dra as hulle hul heilige gawes eet; want Ek, die HERE, heilig hulle.