Josua 8:30-35

Josua 8:30-35 AFR20

Daarna het Josua vir die HERE, die God van Israel, 'n altaar gebou by die berg Ebal, soos wat Moses, die dienskneg van die HERE, die Israeliete opdrag gegee het, soos dit geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses, “'n altaar van onbewerkte klippe, waaroor geen yster beweeg is nie”. Hulle het toe •brandoffers daarop vir die HERE gebring, en ook •maaltydoffers geslag. Josua het daar 'n afskrif van die Wet van Moses op klippe gemaak, wat hy voor die oë van die Israeliete opgeskryf het. Die hele Israel, landsburgers asook •vreemdelinge en hulle oudstes, die opsieners en hulle regters, het aan weerskante van die ark gestaan, reg teenoor die priesters, die Leviete, wat die verbondsark van die HERE dra. Die een helfte van Israel was aan die kant van die berg Gerisim, en die ander helfte aan die kant van die berg Ebal, soos Moses, die dienskneg van die HERE, vroeër beveel het dat die volk Israel geseën moet word. Daarna het Josua al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vervloeking, net soos dit geskryf staan in die boekrol met die wet. Daar is nie 'n enkele woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele geloofsgemeenskap van Israel en voor die vroue, die kinders en vreemdelinge wat met hulle saamgegaan het nie.