JOSUA 8:30-35
JOSUA 8:30-35 Bybel vir almal (ABA)
Josua het vir die Here, die God van Israel, 'n altaar gebou op Ebal-berg. Dit was 'n altaar van heel klippe, dit was nie klippe wat mense gekap het nie. Moses het vir die Israeliete gesê dat hulle dit so moet bou, en dit is geskryf in die Wetboek van Moses. Die Israeliete het vir die Here brand-offers op die altaar ge-offer en hulle het ete-offers ge-offer. Josua het die Wette van Moses oorgeskryf op die klippe. Die Israeliete het gesien dat hy dit skryf. Al die Israeliete was daar, saam met hulle leiers, hulle voormanne en hulle regters. Hulle het langs die twee kante van die kis gestaan, voor die Levi-priesters wat die kis van die Here moes dra. Daar was vreemdelinge saam met die Israeliete. Die een helfte van die mense het voor Gerisim-berg gestaan en die ander helfte van die mense het voor Ebal-berg gestaan. Moses, die dienaar van die Here, het voorheen gesê hulle moet dit doen sodat hulle die volk Israel kan seën. Josua het toe alles gelees wat in die wette geskryf is oor wanneer die Here mense seën of vervloek. Hy het alles gelees wat daaroor geskryf is in die Wetboek. Josua het álles wat Moses gesê het, vir die hele volksvergadering gelees, hy het nie een woord gelos nie. Hy het dit ook gelees vir die vroue en die kinders en die vreemdelinge wat tussen hulle gewoon het.
JOSUA 8:30-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Josua 'n altaar gebou vir die HERE, die God van Israel, op die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: 'n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die HERE brandoffers gebring en dankoffers geslag. En daar het hy 'n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel, terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan — teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die HERE — die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën. En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek. Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie.
JOSUA 8:30-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het Josua op Ebalberg 'n altaar gebou vir die Here die God van Israel, soos Moses, die dienaar van die Here, die Israeliete beveel het en soos dit geskryf staan in die wetboek van Moses: “'n altaar van ongekapte klip waarop daar nie 'n ysterwerktuig gebruik is nie.” Hulle het brandoffers vir die Here op die altaar gebring en ook maaltydoffers geoffer. Josua het daar op die klippe 'n afskrif aangebring van die wet van Moses. Hy het dit voor die oë van die Israeliete neergeskrywe. Die hele Israel, sy leiers, sy beamptes en sy regters het daar weerskante van die ark gestaan voor die Levitiese priesters wat die verbondsark van die Here dra. Vreemdelinge sowel as burgers was daar. Een helfte het regoor Gerisimberg gestaan en die ander helfte regoor Ebalberg, soos Moses, die dienaar van die Here, vroeër beveel het toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang. Daarna het Josua alles wat die wet sê, die seën sowel as die straf, voorgelees, net soos dit geskryf staan in die wetboek. Daar was nie een woord van alles wat Moses beveel het wat Josua nie voor die hele gemeente van Israel voorgelees het nie. Die vrouens en die kinders en die vreemdelinge wat tussen die Israeliete gebly het, was by.
JOSUA 8:30-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het Josua vir die HERE, die God van Israel, 'n altaar gebou by die berg Ebal, soos wat Moses, die dienskneg van die HERE, die Israeliete opdrag gegee het, soos dit geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses, “'n altaar van onbewerkte klippe, waaroor geen yster beweeg is nie”. Hulle het toe •brandoffers daarop vir die HERE gebring, en ook •maaltydoffers geslag. Josua het daar 'n afskrif van die Wet van Moses op klippe gemaak, wat hy voor die oë van die Israeliete opgeskryf het. Die hele Israel, landsburgers asook •vreemdelinge en hulle oudstes, die opsieners en hulle regters, het aan weerskante van die ark gestaan, reg teenoor die priesters, die Leviete, wat die verbondsark van die HERE dra. Die een helfte van Israel was aan die kant van die berg Gerisim, en die ander helfte aan die kant van die berg Ebal, soos Moses, die dienskneg van die HERE, vroeër beveel het dat die volk Israel geseën moet word. Daarna het Josua al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vervloeking, net soos dit geskryf staan in die boekrol met die wet. Daar is nie 'n enkele woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele geloofsgemeenskap van Israel en voor die vroue, die kinders en vreemdelinge wat met hulle saamgegaan het nie.
JOSUA 8:30-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe bou Josua 'n altaar vir die HERE, die God van Israel, op die berg Ebal, Soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe is in die wetboek van Moses, 'n altaar van heel klippe waaroor niemand enige yster opgelig het nie; en hulle het daarop brandoffers gebring aan die HERE, en dankoffers gebring. En hy het daar op die klippe 'n afskrif van die wet van Moses geskrywe wat hy voor die kinders van Israel geskryf het. En die hele Israel en hulle oudstes en die amptenare en hulle regters het aan die een kant van die ark en aan die ander kant gestaan voor die priesters, die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, sowel as die vreemdeling as hy wat is onder hulle gebore; die helfte van hulle teenoor die gebergte Gerisim en die helfte van hulle teenoor die berg Ebal; soos Moses, die kneg van die HERE, tevore beveel het, dat hulle die volk Israel moes seën. En daarna het hy al die woorde van die wet gelees, die seëninge en die vloeke, volgens alles wat in die wetboek geskrywe is. Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het nie, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel nie, met die vroue en die kindertjies en die vreemdelinge wat onder hulle vertroud was.
JOSUA 8:30-35 Die Boodskap (DB)
Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel. Hy het die instruksies gevolg wat Moses vir die Israeliete gegee het. Dit het bepaal dat dit ’n altaar van klippe moes wees wat nie gekap of met enige instrument gevorm is nie. Op hierdie altaar het hulle vir die Here brandoffers en vredesoffers gebring. Die Israeliete het toegekyk terwyl Josua ’n afskrif van die wet van Moses op ’n stel klippe neergeskryf het. Die hele Israel, sowel as die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, hulle leiers, hulle beamptes en hulle regters het aan weerskante van die verbondsark gestaan, met die Levitiese priesters wat die ark gedra het, tussen hulle en die ark. Die een groep het met hulle rug na die berg Gerisim toe gestaan en die ander groep met hulle rug na die berg Ebal toe. Hulle het dit in opdrag van Moses, die Here se dienaar, gedoen sodat hulle die seën van die Here kon ontvang. Daarna het Josua alles wat die wet sê, voorgelees, ook oor seëninge en strawwe, net soos dit in die wet geskryf was. Josua het elke opdrag van Moses aan die hele vergadering Israeliete voorgelees. Die vroue en kinders en die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, was ook by.
JOSUA 8:30-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua het daarna ’n altaar op die Ebalberg vir die HERE, die God van Israel, gebou. Hy het dit gebou soos Moses, die dienaar van die HERE, dit vir die Israeliete voorgeskryf het. So staan dit geskryf in die wetboek van Moses: “Maak vir my ’n altaar met klip wat nie met ’n ysterinstrument bewerk is nie.” Hulle het op die altaar brandoffers vir die HERE gebring en ook maaltydoffers geoffer. Terwyl die Israeliete staan en kyk, het Josua ’n afskrif van die wet van Moses op die altaar se klippe uitgraveer. Al die Israeliete, sy leiers, sy beamptes en sy regters, is in twee groepe aan weerskante van die ark verdeel. Daar was vreemdelinge sowel as burgers. Een deel het aan die voet van die Gerisimberg gestaan en die ander deel onder die Ebalberg. Hulle het na mekaar gekyk met die Levitiese priesters wat die ark dra tussen hulle. Dit was soos Moses, die dienaar van die HERE, vroeër beveel het, toe hy bepaal het dat die volk Israel die seën moet ontvang. Josua het toe vir hulle alles wat die wet sê oor seën en straf voorgelees, soos in die boek van die wet geskryf staan. Josua het voor almal van Israel wat daar bymekaar was, vroue en kinders en vreemdelinge wat saam met hulle gebly het, alles gelees wat Moses beveel het. Hy het niks uitgelaat nie.