Josua 8:18-22
Josua 8:18-22 AFR20
Toe sê die HERE vir Josua: “Steek die kromswaard wat in jou hand is, uit na Ai, want Ek gee dit in jou hand.” Josua het toe die kromswaard wat in sy hand was, na die stad uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, het die manne in die hinderlaag dadelik opgespring uit hulle plekke, gehardloop en in die stad ingegaan. Hulle het dit ingeneem en die stad vinnig aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omdraai, sien hulle – daar styg die rook van die stad op na die hemel! Hulle kon nie na een van die twee kante vlug nie, nie na hierdie of daardie kant nie, want die manskappe wat na die woestyn op vlug was, het omgedraai na die agtervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die manskappe uit die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Toe trek die ander uit die stad die manne van Ai tegemoet, en so was hulle in die middel van die Israeliete, die een groep aan hierdie kant en die ander aan daardie kant. Israel het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug of ontkom het nie.


