JOSUA 8:18-22
JOSUA 8:18-22 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê die Here vir Josua: “Tel jou spies op en wys daarmee na Ai, want Ek gee die stad vir jou.” Josua het sy spies opgetel en hy het na die stad gewys. Toe hy dit doen, het die manne wat weggekruip het, vinnig opgestaan en hulle het in die stad ingegaan. Hulle het die stad oorwin en dit gevat. Hulle het die stad dadelik aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omkyk, sien hulle die rook uit die stad gaan op in die lug. Hulle wou vlug, maar hulle kon nie, want die Israeliete wat na die woestyn gevlug het, het omgedraai en hulle het die manne aangeval wat hulle gevolg en gejaag het. Josua en al die Israeliete het gesien dat die manne wat weggekruip het, die stad oorwin en gevat het, en dat daar rook uit die stad trek. Hulle het omgedraai en hulle het die manne van Ai aangeval. Die Israeliete wat in die stad was, het ook uitgekom om die manne van Ai aan te val. Daar was nou Israeliete voor die manne van Ai en ook agter hulle. Die Israeliete het al die manne van Ai doodgemaak, daar het nie een aangehou lewe nie en nie een kon vlug nie.
JOSUA 8:18-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die HERE het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit. En die hinderlaag het gou van sy plek af opgestaan en gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het, en hulle het in die stad ingekom en dit ingeneem en die stad gou aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad inneem en dat die rook van die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Daarop trek dié uit die stad hulle tegemoet, sodat hulle tussen Israel in geraak het, 'n deel duskant en 'n deel anderkant; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat vrygeraak of ontvlug het nie.
JOSUA 8:18-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die Here vir Josua: “Steek die swaard wat jy in jou hand het, na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, na die stad toe uitgesteek, en toe staan die versteekte manskappe op uit hulle skuilplekke en storm, net toe hy sy hand uitsteek. Hulle is die stad in en het dit ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai terugkyk, sien hulle die rook van die stad in die lug opstyg. Hulle kon nêrens heen vlug nie, nie hiernatoe of soontoe nie, want Josua se manne wat woestyn se kant toe gevlug het, het omgedraai na hulle agtervolgers toe. Josua en die hele Israel het gesien die versteekte manskappe vat die stad, en toe die rook van die stad uitslaan, draai hulle om en val die manne van Ai aan. Dié mense het die stad verlaat om die Israeliete tegemoet te gaan, maar daar was nou Israeliete weerskante van hulle, en dié het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat ontkom en vrygeraak het nie.
JOSUA 8:18-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê die HERE vir Josua: “Steek die kromswaard wat in jou hand is, uit na Ai, want Ek gee dit in jou hand.” Josua het toe die kromswaard wat in sy hand was, na die stad uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, het die manne in die hinderlaag dadelik opgespring uit hulle plekke, gehardloop en in die stad ingegaan. Hulle het dit ingeneem en die stad vinnig aan die brand gesteek. Toe die manne van Ai omdraai, sien hulle – daar styg die rook van die stad op na die hemel! Hulle kon nie na een van die twee kante vlug nie, nie na hierdie of daardie kant nie, want die manskappe wat na die woestyn op vlug was, het omgedraai na die agtervolgers. Toe Josua en die hele Israel sien dat die manskappe uit die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook uit die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval. Toe trek die ander uit die stad die manne van Ai tegemoet, en so was hulle in die middel van die Israeliete, die een groep aan hierdie kant en die ander aan daardie kant. Israel het hulle verslaan, totdat daar van hulle niemand oor was wat ontvlug of ontkom het nie.
JOSUA 8:18-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir Josua: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai uit; want Ek sal dit in jou hand gee. En Josua het die spies wat hy in sy hand gehad het, na die stad uitgesteek. En die hinderlaag het vinnig uit hulle plek opgestaan, en hulle het gehardloop sodra hy sy hand uitgesteek het; en hulle het in die stad ingegaan en dit ingeneem en gehaas en die stad aan die brand gesteek. En toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle, en kyk, die rook van die stad het na die hemel opgestyg, en hulle het geen mag gehad om hierdie kant toe of daarheen te vlug nie; en die volk wat na die woestyn gevlug het, het omgedraai op die agtervolgers. En toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad ingeneem het en dat die rook van die stad opstyg, het hulle weer omgedraai en die manne van Ai gedood. En die ander een het uit die stad teen hulle uitgetrek; en hulle was in die midde van Israel, sommige aan die een en ander aan die ander kant; en hulle het hulle verslaan, sodat hulle nie een van hulle laat oorbly of ontsnap het nie.
JOSUA 8:18-22 Die Boodskap (DB)
Toe sê die Here vir Josua: “Steek jou swaard na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, in die rigting van die stad uitgesteek. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie
JOSUA 8:18-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe sê die HERE vir Josua: “Steek die spies in jou hand na Ai toe uit. Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die spies in sy hand na Ai toe uitgesteek. Toe hy sy hand uitsteek, was dit die teken. Die manskappe wat weggekruip het, het vinnig uit hulle skuilplekke opgespring en die stad bestorm. Hulle het die stad ingestorm en dit verower. Hulle het dit dadelik aan die brand gesteek. Toe die mans van Ai omkyk, sien hulle hoe die rook uit die stad in die lug optrek. Hulle kon absoluut nêrens heen vlug nie. Die mense wat in die rigting van die woestyn gevlug het, het nou teen hulle agtervolgers omgedraai. Josua en al die Israeliete het gesien dat die hinderlaag gewerk het. Toe die rook uit die stad begin opstyg, het hulle omgedraai en die mans van Ai aangeval. Die manskappe van Israel het uit die stad gekom en hulle van agter aangeval. Die mense van Ai het nou Israeliete voor en agter hulle gehad. Die Israeliete het hulle neergevel tot daar nie een oor was wat kon oorleef of vrykom nie.