Josua 22:12-19

Josua 22:12-19 AFR20

Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering van die Israeliete byeengekom by Silo om teen hulle op te trek vir die stryd. Die Israeliete stuur toe vir Pinehas, seun van die priester Eleasar, na die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek, en saam met hom tien leiers, een leier vir elke stamvader van al die stamme van Israel. Elkeen van hulle was 'n stamhoof van die leërafdelings van Israel. Hulle het by die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek aangekom, met hulle gepraat en gesê: “So sê die hele volksvergadering van die HERE, ‘Wat is die bedoeling van hierdie troubreuk wat julle teen die God van Israel pleeg deur vandag van die HERE af weg te draai? Met die bou van 'n altaar vir julleself is julle vandag in opstand teen die HERE. Is die sonde by Peor, waarvan ons tot vandag toe onsself nog nie gereinig het nie, vir ons onbelangrik? Die plaag het dan teen die volksvergadering van die HERE uitgebreek! Julle draai vandag weg van die HERE af. As julle vandag in opstand teen die HERE is, is Hy môre vertoornd vir die hele volksvergadering van Israel. As die land van julle erfgrond egter •onrein is, kom dan oor na die land van die HERE se eiendom, waar die •tabernakel van die HERE staan, en kry vir julle erfgrond tussen ons. Maar teen die HERE moet julle nie in opstand kom nie, en teen ons moet julle ook nie in opstand kom deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die HERE ons God nie.