JOSUA 22:12-19
JOSUA 22:12-19 Bybel vir almal (ABA)
Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering in Silo bymekaargekom om oorlog te gaan maak teen die twee en 'n halwe stamme. Maar die Israeliete het eers vir Pinehas seun van die priester Eleasar gestuur na die twee en 'n halwe stamme in die land Gilead. Tien leiers het saam met hom gegaan, 'n leier van elke stam. Elke leier was die hoof van 'n groep families van Israel. Toe hulle by die twee en 'n halwe stamme in die land Gilead kom, het hulle vir daardie stamme gesê: “Die volksvergadering van die Here vra: Hoekom is julle ontrou aan die God van Israel? Julle het opgehou om die Here te dien toe julle vir julle 'n altaar gebou het. Julle is nou opstandig teen die Here. Ons het voorheen by die stad Peor groot sonde gedoen en die Here het die volk swaar gestraf, maar tot nou toe het ons nog nie weer rein geword nie. As julle vandag ophou om die Here te dien en as julle opstandig is teen Hom, dan sal Hy môre kwaad wees vir ál die Israeliete. As die land wat aan julle behoort, onrein is, dan moet julle kom na die land wat aan die Here self behoort, die land waar sy tempel-tent is, en julle moet vir julle grond vat tussen ons. Maar julle moenie opstandig wees teen die Here en teen ons nie. Julle moenie vir julle 'n eie altaar bou wat nie die altaar van ons God die Here is nie.
JOSUA 22:12-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaargekom in Silo om op kommando teen hulle op te trek. En die kinders van Israel het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, na die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse, na die land Gílead gestuur, en tien owerstes saam met hom, vir elke familie van al die stamme van Israel een owerste; en hulle was elkeen 'n familiehoof van die stamme van Israel. Toe hulle by die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse in die land Gílead kom, het hulle met hulle gespreek en gesê: So sê die hele vergadering van die HERE: Wat is dit vir 'n troubreuk wat julle begaan teen die God van Israel, dat julle vandag van die HERE afvallig word deur vir julle 'n altaar te bou, deur vandag teen die HERE in opstand te kom? Is die ongeregtigheid in verband met Peor vir ons nog nie genoeg nie, waarvan ons tot vandag toe ons nie gereinig het nie — toe die plaag oor die vergadering van die HERE gekom het? En julle wil vandag van die HERE afvallig word! As julle dan vandag in opstand kom teen die HERE, sal Hy môre toornig word op die hele vergadering van Israel. As die land van julle besitting egter onrein is, trek dan oor na die eie land van die HERE waar die tabernakel van die HERE gevestig is, en verkry onder ons vaste besittings; maar kom nie teen die HERE in opstand nie, en moenie teen ons opstandig wees deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die HERE onse God nie.
JOSUA 22:12-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het die hele Israelitiese volksvergadering in Silo bymekaargekom, gereed om oorlog te maak teen die twee stamme en die halwe stam. Die Israeliete het vir Pinehas seun van die priester Eleasar na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. Saam met Pinehas was daar tien volksleiers, een vir elke stam van Israel, elkeen 'n hoof van 'n Israelitiese familiegroep. Toe hulle by die stamme in Gilead kom, sê hulle vir die stamme: “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Tot vandag toe is ons nie daarvan gereinig nie, ten spyte van die plaag wat die volk van die Here getref het. Vandag verlaat julle die Here en kom julle in verset teen Hom, môre breek sy toorn los teen die hele Israel. As julle gebied onrein is, kom oor na die Here se eie gebied toe waar sy tabernakel staan, en vat vir julle 'n gebied tussen ons. Maar moenie in verset kom teen die Here en teen ons deur vir julle 'n altaar te bou bo en behalwe die altaar van die Here ons God nie.
JOSUA 22:12-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die Israeliete dit hoor, het die hele volksvergadering van die Israeliete byeengekom by Silo om teen hulle op te trek vir die stryd. Die Israeliete stuur toe vir Pinehas, seun van die priester Eleasar, na die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek, en saam met hom tien leiers, een leier vir elke stamvader van al die stamme van Israel. Elkeen van hulle was 'n stamhoof van die leërafdelings van Israel. Hulle het by die nageslag van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse in die Gileadstreek aangekom, met hulle gepraat en gesê: “So sê die hele volksvergadering van die HERE, ‘Wat is die bedoeling van hierdie troubreuk wat julle teen die God van Israel pleeg deur vandag van die HERE af weg te draai? Met die bou van 'n altaar vir julleself is julle vandag in opstand teen die HERE. Is die sonde by Peor, waarvan ons tot vandag toe onsself nog nie gereinig het nie, vir ons onbelangrik? Die plaag het dan teen die volksvergadering van die HERE uitgebreek! Julle draai vandag weg van die HERE af. As julle vandag in opstand teen die HERE is, is Hy môre vertoornd vir die hele volksvergadering van Israel. As die land van julle erfgrond egter •onrein is, kom dan oor na die land van die HERE se eiendom, waar die •tabernakel van die HERE staan, en kry vir julle erfgrond tussen ons. Maar teen die HERE moet julle nie in opstand kom nie, en teen ons moet julle ook nie in opstand kom deur vir julle 'n altaar te bou naas die altaar van die HERE ons God nie.
JOSUA 22:12-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel in Silo bymekaargekom om teen hulle op te trek. En die kinders van Israel het na die kinders van Ruben en na die kinders van Gad en na die halwe stam van Manasse, na die land Gílead, Pinehas, die seun van die priester Eleásar, gestuur; En saam met hom tien vorste, van elke hoofhuis 'n vors onder al die stamme van Israel; en elkeen was 'n hoof van die huis van hulle vaders onder die duisende van Israel. En hulle het by die kinders van Ruben en by die kinders van Gad en by die halwe stam van Manasse, in die land Gílead gekom, en hulle het met hulle gespreek en gesê: So sê die hele vergadering van die HERE: Watter oortreding is dit wat julle teen die God van Israel begaan het, om vandag van die HERE af te wyk deurdat julle vir julle 'n altaar gebou het, sodat julle vandag in opstand kan kom teen die HERE? Is die ongeregtigheid van Peor vir ons te min, waarvan ons tot vandag toe nie gereinig is nie, al was daar 'n plaag in die vergadering van die HERE? Maar dat julle vandag moet afwyk om die HERE te volg? en terwyl julle vandag teen die HERE in opstand kom, sal Hy môre toornig word op die hele vergadering van Israel. Maar as die land van julle besitting onrein is, trek dan oor na die land van die besitting van die HERE waarin die tabernakel van die HERE woon, en neem onder ons besit; maar wees nie opstandig teen die HERE en kom nie teen ons in opstand nie bou vir jou 'n altaar langs die altaar van die HERE onse God.
JOSUA 22:12-19 Die Boodskap (DB)
het hulle almal by Silo bymekaargekom en gereedgemaak om teen hulle broers aan die oostekant te gaan oorlog maak. Maar voordat hulle iets verder gedoen het, het hulle eers ’n afvaardiging onder aanvoering van Pinehas die seun van die priester Eleasar na die stamme in Gilead toe gestuur. Saam met hom was daar ook tien leiers van die volk, een uit elke stam, elkeen ’n hoof van ’n familiegroep. Met hulle aankoms in Gilead het hulle vir die mense van die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam gesê: “Ons praat namens die hele gemeente van die Here. Hoekom was julle ontrou aan die God van Israel? Toe julle die altaar gebou het, het julle die rug vir die Here gedraai en teen Hom in opstand gekom! Was ons sonde by Peor nie erg genoeg nie? Daar het die Here sy eie volk met ’n epidemie getref en ons dra tot vandag toe nog die gevolge daarvan. En wat doen julle nou? Julle draai sowaar die rug vir die Here! Besef julle nie dat as julle vandag teen die Here in opstand kom Hy môre vir ons almal wat sy volk is, kwaad sal wees nie? As julle gebied nie geskik is om in te aanbid nie, kom dan oor na ons kant toe waar die Here se tent staan. Dit is die teken van sy teenwoordigheid by ons. Op daardie plek aanbid ons Hom. En as julle grond nodig het om op te kom bly, is ons bereid om met julle te deel. Moet asseblief net nie in opstand kom teen die Here en ons dan ook daarby betrek deur ’n ander altaar te bou nie. Julle weet mos daar kan net een ware altaar vir die Here ons God wees.
JOSUA 22:12-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
het hulle by Silo saamgetrek om oorlog teen die twee en ’n half stamme te gaan maak. Die Israeliete het vir Pinehas, die seun van die priester Eleasar, na die stamme Ruben en Gad en die halwe Manassestam in Gilead gestuur. Tien leiers wat elkeen hoof was van ’n Israelitiese familiegroep, en die tien ander stamme verteenwoordig het, het Pinehas vergesel. Hulle het by die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam in Gilead aangekom en vir hulle gesê: “Die volksvergadering van die HERE wil by julle hoor hoekom julle so ontrou is aan die God van Israel. Julle het julle rug op die HERE gedraai toe julle die altaar gebou het! Julle is mos nou in opstand teen Hom! Was ons oortreding by Peor nie groot genoeg nie? Ons het tot vandag toe nog nie die smet daarvan afgeskud nie, selfs al het die HERE die gemeenskap daarvoor gestraf. Julle is nou besig om van Hom af weg te dwaal. Julle kom vandag in opstand teen Hom en net môre is Hy woedend teen ons almal in die gemeenskap van Israel. As julle grond dan besoedel is, moet julle liewer oorkom na die HERE se gebied waar die HERE in sy tabernakel woon. Kry liewer grond tussen ons, maar moenie in verset kom teen die HERE of ons deel maak van julle verset deur ’n ander altaar vir julleself te bou nie. Daar is net een altaar van die HERE ons God.