Die hele volksvergadering van die Israeliete het in Silo byeengekom en die Tent van Ontmoeting daar opgeslaan. Die land is deur hulle onderwerp, maar daar het sewe stamme onder die Israeliete oorgebly wie se erfenis hulle nog nie verdeel het nie. Josua sê toe vir die Israeliete: “Hoe lank nog gaan julle sloer om die land wat die HERE, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, in besit te neem? Bring vir julle drie manne uit elke stam, sodat ek hulle kan uitstuur. Hulle moet dan gereedmaak, in die land rondbeweeg en daarvan 'n beskrywing gee met die oog op hulle erfdeel. Wanneer hulle by my terug is, moet hulle die gebied in sewe dele onder mekaar verdeel. Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou, maar julle moet die gebied in sewe dele afbaken in julle beskrywing en dit hier na my toe bring. Ek sal vir julle die lot werp hier voor die HERE ons God. Daar is immers geen deel vir die Leviete onder julle nie, want die priesterskap van die HERE is hulle erfenis. Gad, Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir hulle gegee het, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang. ” Die manne het toe gereedgemaak en vertrek. Josua het dié wat op pad was, opdrag gegee om die land te beskryf: “Gaan, beweeg rond deur die land, beskryf dit en kom terug na my. Dan sal ek hier in Silo vir julle die lot werp voor die HERE.” Die manne het gegaan en die land deurkruis. Hulle het dit dorp vir dorp, volgens die sewe dele, in 'n •boekrol beskryf, en teruggekeer na Josua, na die kamp in Silo. Josua het vir hulle in Silo voor die HERE die lot gewerp. Daar het Josua die land vir die Israeliete verdeel ooreenkomstig hulle indeling in stamme.
Lees Josua 18
Deel
Vergelyk alle weergawes: Josua 18:1-10
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's