JOSUA 18:1-10

JOSUA 18:1-10 Bybel vir almal (ABA)

Die hele volksvergadering van die Israeliete het in die stad Silo bymekaargekom en hulle het die tent daar opgeslaan, die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het die hele land klaar oorwin, maar sewe van die stamme van die Israeliete het nog nie hulle eie grond gekry nie. Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank wil julle nog wag voordat julle die land gaan vat wat die Here, die God van ons voorvaders, vir julle gegee het? Julle moet drie persone van elke stam bring sodat ek hulle kan stuur om deur die land te gaan en om elke deel van die land op te skryf en dit vir my te bring. Julle moet die land deel in sewe dele. Die stam Juda moet op hulle grond in die suide bly en die nageslag van Josef moet op hulle grond in die noorde bly. Julle moet opskryf waar elkeen van die sewe dele is en julle moet dit vir my bring, dan sal ek hier lootjies trek voor ons God die Here. Die Levi-stam kry nie 'n deel van die land saam met julle nie, want hulle deel is om priesters van die Here te wees. En die stamme Gad en Ruben en die halwe Manasse-stam het klaar hulle grond gekry oos van die Jordaan-rivier. Moses, die dienaar van die Here, het daardie grond vir hulle gegee.” Die manne wat moes gaan opskryf waar die verskillende dele van die land is, het dadelik gegaan. Josua het vir hulle gesê: “Julle moet deur die land gaan en julle moet die plekke opskryf en dit vir my bring. Dan sal ek hier voor die Here in die stad Silo vir julle die lootjies trek.” Die manne het deur die land gegaan en hulle het die stede in die sewe dele opgeskryf in 'n boek, en daarna het hulle teruggekom na Josua toe in die kamp by die stad Silo. Josua het toe in die tempel by Silo die lootjies getrek en hy het die land verdeel tussen die stamme van die Israeliete.

JOSUA 18:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROP het die hele vergadering van die kinders van Israel in Silo byeengekom en daar die tent van samekoms opgeslaan, aangesien die land voor hulle onderwerp was. Maar daar was onder die kinders van Israel nog sewe stamme oor wie se erfenis hulle nie verdeel het nie. Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Hoe lank sal julle jul so traag hou om die land in besit te gaan neem wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle gegee het? Bring tot drie man uit elke stam, dat ek hulle kan uitstuur, en dat hulle kan klaarmaak en die land deurgaan en dit beskrywe met die oog op hulle erfdeel; dan moet hulle na my toe kom en dit onder mekaar in sewe dele verdeel: Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou. Maar julle moet die land in sewe dele beskrywe en die beskrywing hier na my toe bring; dan sal ek vir julle die lot werp, hier voor die aangesig van die HERE onse God. Want die Leviete het geen aandeel onder julle nie, omdat die priesterskap van die HERE hulle erfdeel is; en Gad en Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel ontvang oorkant die Jordaan in die ooste, wat Moses, die kneg van die HERE, hulle gegee het. Die manne het toe klaargemaak en gegaan; en by hulle vertrek het Josua hulle bevel gegee om die land te beskrywe, met die woorde: Gaan heen, trek rond in die land en beskrywe dit, en kom na my terug; dan sal ek hier vir julle die lot werp voor die aangesig van die HERE in Silo. En die manne het gegaan en die land deurgetrek en dit in 'n boek beskrywe, volgens die stede, in sewe dele, en na Josua gekom in die laer van Silo. Toe het Josua vir hulle die lot gewerp in Silo, voor die aangesig van die HERE; en Josua het die land daar onder die kinders van Israel verdeel volgens hulle afdelings.

JOSUA 18:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die hele Israelitiese volksvergadering het in Silo bymekaargekom en die tent van ontmoeting daar opgeslaan. Die land was nou onderwerp, maar daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grondgebied ontvang het nie. Josua het vir die Israeliete gesê: “Hoe lank gaan julle nog talm voor julle die land in besit gaan neem wat die Here die God van julle voorvaders aan julle gegee het? Bring drie man uit elke stam dat ek hulle kan stuur en dat hulle die res van die land kan deurgaan en 'n beskrywing kan maak van die verskillende dele en dit vir my bring. Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Juda behou sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle s'n in die noorde. “Julle moet 'n beskrywing maak van die sewe dele van die land en dit vir my bring dat ek die loting hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. Die Leviete kry nie 'n deel saam met julle nie, want hulle besondere voorreg is die priesterskap in diens van die Here. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het hulle deel oos van die Jordaan gekry waar Moses, die dienaar van die Here, dit aan hulle toegeken het.” Die manne het toe klaargemaak en vertrek. By hulle vertrek om 'n beskrywing van die land te maak, het Josua hulle beveel: “Gaan die land deur, maak 'n beskrywing daarvan en kom terug na my toe dat ek vir julle die loting hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here kan doen.” Die manne is weg en het die land deurgegaan en in 'n boek 'n beskrywing van die sewe dele opgeteken, stad vir stad. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. Josua het toe die loting daar in Silo in die teenwoordigheid van die Here gedoen en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.

JOSUA 18:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die hele volksvergadering van die Israeliete het in Silo byeengekom en die Tent van Ontmoeting daar opgeslaan. Die land is deur hulle onderwerp, maar daar het sewe stamme onder die Israeliete oorgebly wie se erfenis hulle nog nie verdeel het nie. Josua sê toe vir die Israeliete: “Hoe lank nog gaan julle sloer om die land wat die HERE, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, in besit te neem? Bring vir julle drie manne uit elke stam, sodat ek hulle kan uitstuur. Hulle moet dan gereedmaak, in die land rondbeweeg en daarvan 'n beskrywing gee met die oog op hulle erfdeel. Wanneer hulle by my terug is, moet hulle die gebied in sewe dele onder mekaar verdeel. Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou, maar julle moet die gebied in sewe dele afbaken in julle beskrywing en dit hier na my toe bring. Ek sal vir julle die lot werp hier voor die HERE ons God. Daar is immers geen deel vir die Leviete onder julle nie, want die priesterskap van die HERE is hulle erfenis. Gad, Ruben en die halwe stam van Manasse het hulle erfdeel wat Moses, die dienskneg van die HERE, vir hulle gegee het, oorkant die Jordaan, aan die oostekant, ontvang. ” Die manne het toe gereedgemaak en vertrek. Josua het dié wat op pad was, opdrag gegee om die land te beskryf: “Gaan, beweeg rond deur die land, beskryf dit en kom terug na my. Dan sal ek hier in Silo vir julle die lot werp voor die HERE.” Die manne het gegaan en die land deurkruis. Hulle het dit dorp vir dorp, volgens die sewe dele, in 'n •boekrol beskryf, en teruggekeer na Josua, na die kamp in Silo. Josua het vir hulle in Silo voor die HERE die lot gewerp. Daar het Josua die land vir die Israeliete verdeel ooreenkomstig hulle indeling in stamme.

JOSUA 18:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die hele vergadering van die kinders van Israel het in Silo vergader en daar die tent van samekoms opgerig. En die land is voor hulle onderwerp. En daar het onder die kinders van Israel sewe stamme oorgebly wat nog nie hulle erfdeel ontvang het nie. Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Hoe lank is julle traag om die land in besit te neem wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle gegee het? Gee uit julle midde drie manne vir elke stam, en Ek sal hulle stuur, en hulle sal opstaan en die land deurtrek en dit beskrywe volgens hulle erfdeel; en hulle sal na My toe terugkom. En hulle moet dit in sewe dele verdeel: Juda sal in hulle grondgebied in die suide bly, en die huis van Josef sal in hulle grondgebied in die noorde bly. Julle moet dan die land in sewe dele beskrywe, en die beskrywing hierheen na my toe bring, dat ek hier vir julle die lot kan werp voor die aangesig van die HERE onse God. Maar die Leviete het geen deel onder julle nie; want die priesterdom van die HERE is hulle erfdeel; en Gad en Ruben en die helfte van die stam van Manasse het hulle erfdeel ontvang oorkant die Jordaan aan die oostekant, wat Moses, die kneg van die HERE, aan hulle gegee het. En die manne het opgestaan en weggegaan; en Josua het die wat gegaan het om die land te beskrywe bevel gegee en gesê: Gaan trek deur die land en beskryf dit en kom terug na my toe, dat ek hier vir julle die lot kan werp voor die aangesig van die HERE in Silo. En die manne het gegaan en deur die land getrek en dit volgens stede in sewe dele in 'n boek beskryf, en hulle het teruggekom na Josua na die leër in Silo. En Josua het vir hulle die lot gewerp in Silo voor die aangesig van die HERE, en daar het Josua die land onder die kinders van Israel verdeel volgens hulle afdelings.

JOSUA 18:1-10 Die Boodskap (DB)

Toe die land uiteindelik onder die Israeliete se beheer was, het hulle ’n volksvergadering by Silo gehou en ook die tabernakel daar opgeslaan. Saam met hulle was die sewe stamme wat nog nie hulle deel van die land in besit geneem het nie. Toe vra Josua vir die Israeliete: “Hoe lank gaan julle nog wag om die gebied wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle gegee het, julle eie te maak? Kies nou drie persone uit elkeen van hierdie stamme, dan stuur ek hulle om vir my ’n opname van hierdie gebied te gaan maak. Hulle moet die gebied in sewe dele verdeel. Dit sluit die suidelike deel uit wat aan Juda behoort; ook die noordelike deel waar Josef se kinders bly. “Hulle moet vir my die grense van die sewe gedeeltes bring sodat ek die verdeling hier in die teenwoordigheid van die Here ons God kan maak. Die Leviete kry nie enige grond nie, want die Here het hulle die voorreg gegee om priesters in sy diens te wees. Wat Gad, Ruben en die halwe Manassestam betref, hulle het reeds hulle gedeelte aan die oostekant van die Jordaan gekry toe Moses die dienaar van die Here nog geleef het.” Die groep het hulle toe gereedgemaak om die land te gaan opmeet nadat Josua aan hulle die volgende opdragte gegee het: “Gaan die hele gebied deur en bepaal die grense noukeurig, kom dan terug hier na my toe sodat ek hier in Silo in die teenwoordigheid van die Here ’n verdeling kan maak.” Die groep is toe daar weg. Hulle het die gebied in sewe dele op hulle kaart verdeel en ook al die dorpe in elke gebied opgeskryf. Daarna is hulle terug na Josua toe in die kamp by Silo. Daar het Josua toe die land onder die oorblywende stamme, in die teenwoordigheid van die Here, verdeel.

JOSUA 18:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe die hele land onder Israel se beheer was, het die Israelitiese volksvergadering by Silo bymekaargekom. Hulle het die tabernakel daar opgeslaan. Daar was nog sewe van die Israelitiese stamme wat nie hulle eie grond gekry het nie. Josua het vir die Israeliete gevra: “Hoe lank gaan julle nog uitstel voor julle die hele land wat die HERE, die God van julle voorouers, aan julle gegee het, in besit neem? Kies drie mans uit elke stam dat ek hulle kan uitstuur om deur die land te gaan. Hulle moet terugkom na my toe met ’n skriftelike beskrywing van die grond wat hulle wil hê. Hulle moet die land in sewe dele verdeel. Juda het reeds sy gebied in die suide, en die nageslag van Josef hulle gebied in die noorde. Hulle moet met die geskrewe verdeling na my toe kom. Ek sal hier in die teenwoordigheid van die HERE ons God met die lot bepaal wie van julle watter deel sal kry. Die Leviete kry nie ’n deel saam met julle nie. Hulle erfporsie is die priesterskap vir die HERE. Gad, Ruben en die helfte van Manasse het reeds hulle deel oos van die Jordaan gekry toe Moses, die dienaar van die HERE, dit vir hulle gegee het.” Die mans het toe reggemaak om te vertrek. Josua het vir die mans wat die verdeling van die land moes neerskryf, beveel: “Gaan deur die land, skryf alles neer, en kom terug na my toe dat ek vir julle met die lot hier voor die HERE in Silo kan bepaal watter deel elke stam kry.” Die mans het vertrek en deur die land gegaan. Hulle het die dorpe volgens sewe streke in ’n boek opgeskryf. Hulle het toe teruggekom by Josua in die kamp by Silo. Josua het toe die lot voor die HERE daar in Silo gewerp en die land tussen die Israelitiese stamme verdeel.