Josua 17:12-18

Josua 17:12-18 AFR20

Die nageslag van Manasse was nie in staat om hierdie stede te onderwerp nie, en die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie. Die nakomelinge van Josef het met Josua gepraat en gesê: “Waarom gee u vir ons met een keer se loting net een deel as erfdeel, terwyl ons 'n groot volk is en die HERE ons tot nou toe geseën het?” Josua het vir hulle gesê: “As julle dan so 'n groot volk is, gaan self op na die beboste gebied en maak self vir julle daar in die land van die Feresiete en die Refaïete 'n gebied skoon, as die heuwelland van Efraim dan vir julle te nou is.” Die nakomelinge van Josef sê toe: “Die bergland is nie vir ons voldoende nie, en al die Kanaäniete wat in die valleigebiede woon, het ysterstrydwaens – dié in Bet-San en sy omliggende dorpies, en dié in die Jisreëlvallei.” Daarop het Josua vir die huis van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is 'n groot volk met groot krag. Julle kry nie net een loting nie, maar die bergland sal aan julle behoort, al is dit bebos. Maak dit skoon en dan sal die voetheuwels ook aan julle behoort; want julle sal die Kanaäniete verdryf, al het hulle ysterstrydwaens, al is hulle sterk.”