Josua 17
17
Stamgebied van Manasse
1Dit is die gebied wat deur loting aan die stam van Manasse toegewys is; hy was immers die eersgeborene van Josef. Aan Magir, eersgeborene van Manasse en vader van Gilead, is Gilead en Basan toegewys, omdat hy 'n krygsman was. 2Aan die ander nakomelinge van Manasse is daar toe vir hulle familiegroepe grond toegewys: aan die nageslag van Abiëser, die nageslag van Gelek, die nageslag van Asriël, die nageslag van Segem, die nageslag van Gefer en aan die nageslag van Semida. Dit was bedoel vir hulle familiegroepe, die manlike nakomelinge van Manasse, die seun van Josef. 3Selofgad, seun van Gefer, seun van Gilead, seun van Magir, seun van Manasse, het nie seuns gehad nie, slegs dogters. Dit was die name van sy dogters: Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. 4 Hulle het Eleasar, die priester, Josua, seun van Nun, en die leiers genader en gesê: “Die Here het self vir Moses opdrag gegee om aan ons 'n erfdeel te gee tussen ons broers. ” Josua het toe, volgens die bevel van die Here, 'n erfdeel aan hulle gegee tussen die broers van hulle vader. 5 So het tien dele Manasse toegeval, behalwe nog die landstreke van Gilead en Basan, wat oorkant die Jordaan was. 6Want die dogters van die stam van Manasse het tussen sy seuns 'n erfenis ontvang, maar die landstreek Gilead was vir die ander nakomelinge van Manasse.
7Die grens van Manasse was van Aser tot Migmetat, wat teenoor Sigem lê. Dan loop die grens na regs, na die inwoners van En-Tappuag. 8Die landstreek van Tappuag het aan Manasse behoort, maar Tappuag self, op die grens van Manasse, het aan die nageslag van Efraim behoort. 9Die grens loop dan af met die spruit by Kana, suidwaarts met die spruit. Daar is dorpe wat aan Efraim behoort tussen die dorpe van Manasse, maar die gebied van Manasse lê noord van die spruit, en die verste punt daarvan is by die see. 10Die gebied aan die suidekant behoort aan Efraim, en aan die noordekant aan Manasse, met die see as sy grens. Dit grens aan Aser in die noorde en aan Issaskar in die ooste.
11 In die gebied van Issaskar en Aser het Bet-San met sy omliggende dorpies, Jibleam met sy omliggende dorpies, die inwoners van Dor en die omliggende dorpies, die inwoners van En-Dor en die omliggende dorpies, die inwoners van Taänag en die omliggende dorpies, en die inwoners van Megiddo en die omliggende dorpies op drie van die heuwels aan Manasse behoort.
12Die nageslag van Manasse was nie in staat om hierdie stede te onderwerp nie, en die Kanaäniete was vasberade om in hierdie landstreek te bly woon. 13 Toe die Israeliete sterker geword het, het hulle die Kanaäniete dwangarbeid laat doen, maar hulle het hulle nie heeltemal verdryf nie.
Versoek van Efraim en Manasse
14Die nakomelinge van Josef het met Josua gepraat en gesê: “Waarom gee u vir ons met een keer se loting net een deel as erfdeel, terwyl ons 'n groot volk is en die Here ons tot nou toe geseën het?” 15Josua het vir hulle gesê: “As julle dan so 'n groot volk is, gaan self op na die beboste gebied en maak self vir julle daar in die land van die Feresiete en die Refaïete 'n gebied skoon, as die heuwelland van Efraim dan vir julle te nou is.” 16Die nakomelinge van Josef sê toe: “Die bergland is nie vir ons voldoende nie, en al die Kanaäniete wat in die valleigebiede woon, het ysterstrydwaens – dié in Bet-San en sy omliggende dorpies, en dié in die Jisreëlvallei.” 17Daarop het Josua vir die huis van Josef, vir Efraim en Manasse, gesê: “Julle is 'n groot volk met groot krag. Julle kry nie net een loting nie, 18maar die bergland sal aan julle behoort, al is dit bebos. Maak dit skoon en dan sal die voetheuwels ook aan julle behoort; want julle sal die Kanaäniete verdryf, al het hulle ysterstrydwaens, al is hulle sterk.”
Tans Gekies:
Josua 17: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.