Jona 1:1-17

Jona 1:1-17 AFR20

Die woord van die HERE het tot Jona, die seun van Amittai, gekom: “Staan op, gaan na die groot stad Nineve en spreek hulle aan, want die kwaad wat hulle doen, het opgestyg tot voor My.” Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van die teenwoordigheid van die HERE af. Hy het afgegaan na Jafo en daar op 'n skip afgekom wat op pad was na Tarsis. Hy het die reisgeld betaal en in die skip afgeklim om saam met hulle na Tarsis te gaan, weg van die teenwoordigheid van die HERE. Maar die HERE het 'n sterk wind oor die see laat opkom. Daar was 'n groot storm op see en die skip was op die punt om in stukke te breek. Die matrose was bang en het elkeen na sy god om hulp geroep. Hulle het ook die toerusting wat op die skip was, in die see gegooi om hulle vrag ligter te maak. Jona het egter afgegaan na die agterste ruim van die skip en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. Die skeepskaptein gaan toe na hom en sê vir hom: “Wat is dit met jou dat jy so vas lê en slaap? Staan op! Roep jou god aan! Miskien sal dié god aan ons dink en sal ons nie ondergaan nie.” Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons beslis die saak deur die lot, sodat ons kan weet deur wie se toedoen hierdie ramp ons tref.” Hulle het met die lot beslis en die lot het Jona uitgewys. Toe sê hulle vir hom: “Vertel ons asseblief waarom hierdie ramp ons tref. Watter werk doen jy en waar kom jy vandaan? Uit watter land kom jy en van watter volk?” Hy het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër, en die HERE, die God van die hemel wat die see en die droë grond gemaak het, dien ek met ontsag.” Die manne was toe vreesbevange en het vir hom gesê: “Hoe kon jy so iets doen?” Hulle het immers geweet dat hy besig was om te vlug, weg van die teenwoordigheid van die HERE, want hy het dit vir hulle vertel. Hulle sê toe vir hom: “Wat moet ons met jou maak sodat die see om ons kan bedaar?” Want die see het al hoe onstuimiger geraak. Hy het geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal die see om julle bedaar; want ek is seker dit is oor my dat hierdie groot storm oor julle woed.” Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die HERE aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, HERE, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die HERE; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier. Toe was die manne geweldig bang vir die HERE. Hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Die HERE het dit so beskik dat 'n groot vis Jona insluk, en hy was drie dae en drie nagte lank in die vis se maag.