JONA 1:1-17

JONA 1:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het met Jona gepraat. Jona was die seun van Amittai. Die Here het gesê: “Jy moet gereedmaak, jy moet na die groot stad Nineve gaan. Jy moet met daardie mense gaan praat en vir hulle sê Ek sal hulle straf, want Ek het gesien hulle doen baie sonde.” Jona het gereedgemaak, maar hy wou na die land Tarsis gaan. Hy wou wegvlug van die Here. Hy het eers na die stad Joppe gegaan. Daar was 'n skip wat na Tarsis sou gaan. Hy het betaal om saam te ry en hy het op die skip geklim. Hy wou saam met die ander mense na Tarsis gaan. Hy wou wegvlug van die Here. Die Here het 'n baie sterk wind oor die see gestuur. Daar het 'n groot storm op die see gekom, en die skip het amper gebreek. Die matrose op die skip het bang geword. Elkeen het tot sy god gebid en gevra sy god moet hom help. Die matrose het die goed wat op die skip was, afgegooi in die see om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip. Hy het daar gaan lê en hy het aan die slaap geraak. Die kaptein van die skip het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, bid tot jou God. Miskien sal Hy aan ons dink, en dan sal ons nie sterf nie.” Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons gekom het.” Hulle trek toe lootjies, en die lootjies wys dit is Jona se skuld. Die matrose het vir Jona gevra: “Is dit jou skuld dat hierdie storm oor ons gekom het? Watter soort werk doen jy? Van waar kom jy? Uit watter land, uit watter volk kom jy?” Jona het vir hulle gesê: “Ek is 'n Hebreër en ek dien die Here, die God van die hemel. Hy het die see en die land gemaak.” Die matrose het baie bang geword en hulle het gebewe. Hulle het vir Jona gesê: “Hoekom het jy dit gedoen?” Hulle het geweet hy vlug weg van die Here, want hy het dit voorheen vir hulle vertel. Die branders in die see het groter geword, en die matrose het vir Jona gevra: “Wat moet ons doen met jou sodat die storm op die see stil kan word?” Jona het vir hulle gesê: “Tel my op en gooi my in die see, dan sal die see stil word rondom julle. Ek weet dit is my skuld dat hierdie groot storm oor julle gekom het.” Die matrose het hard geroei en hulle het eers probeer om terug te kom by die land, maar hulle kon nie, want die branders van die see het groter en groter geword rondom hulle. Hulle het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, U moet ons asseblief nie laat sterf omdat hierdie een man verkeerd gedoen het nie. Help ons ook dat ons nie iemand doodmaak wat onskuldig is nie. U is die Here, U kan doen wat U wil doen.” Hulle het Jona opgetel en hulle het hom in die see gegooi. Toe het die see kalm geword en die branders was nie meer groot nie. Die matrose het baie bang geword vir die Here. Hulle het vir die Here 'n offer gebring en hulle het belowe om nog meer offers vir die Here te gee. Die Here het 'n groot vis gestuur om vir Jona in te sluk. Jona was drie dae en drie nagte binne-in die vis.

JONA 1:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die woord van die HERE het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig. Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af weg; en hy het na Jafo afgegaan en 'n skip gevind wat na Tarsis sou vaar. En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar, van die aangesig van die HERE af weg. Maar die HERE het 'n sterk wind op die see gewerp, en toe daar 'n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly. Toe word die seeliede bang — hulle het elkeen tot sy god geroep en die lading wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting aan te bring. Maar Jona het na die onderste dele van die skip afgeklim en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. Daarop kom die skeepskaptein na hom toe aan en sê vir hom: Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie. Hulle sê toe vir mekaar: Kom en laat ons loot; dan sal ons weet om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het. En hulle het geloot, en die lot het op Jona geval. En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy? En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het. Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee. Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword. En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het. Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het. Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na u welbehae. En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid. Toe het die manne die HERE gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen. En die HERE het 'n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.

JONA 1:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: “Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek. Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.” Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.” Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys. Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?” Jona het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?” Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.” Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.” Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar. Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag.

JONA 1:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot Jona, die seun van Amittai, gekom: “Staan op, gaan na die groot stad Nineve en spreek hulle aan, want die kwaad wat hulle doen, het opgestyg tot voor My.” Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van die teenwoordigheid van die HERE af. Hy het afgegaan na Jafo en daar op 'n skip afgekom wat op pad was na Tarsis. Hy het die reisgeld betaal en in die skip afgeklim om saam met hulle na Tarsis te gaan, weg van die teenwoordigheid van die HERE. Maar die HERE het 'n sterk wind oor die see laat opkom. Daar was 'n groot storm op see en die skip was op die punt om in stukke te breek. Die matrose was bang en het elkeen na sy god om hulp geroep. Hulle het ook die toerusting wat op die skip was, in die see gegooi om hulle vrag ligter te maak. Jona het egter afgegaan na die agterste ruim van die skip en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. Die skeepskaptein gaan toe na hom en sê vir hom: “Wat is dit met jou dat jy so vas lê en slaap? Staan op! Roep jou god aan! Miskien sal dié god aan ons dink en sal ons nie ondergaan nie.” Die matrose het vir mekaar gesê: “Kom ons beslis die saak deur die lot, sodat ons kan weet deur wie se toedoen hierdie ramp ons tref.” Hulle het met die lot beslis en die lot het Jona uitgewys. Toe sê hulle vir hom: “Vertel ons asseblief waarom hierdie ramp ons tref. Watter werk doen jy en waar kom jy vandaan? Uit watter land kom jy en van watter volk?” Hy het hulle geantwoord: “Ek is 'n Hebreër, en die HERE, die God van die hemel wat die see en die droë grond gemaak het, dien ek met ontsag.” Die manne was toe vreesbevange en het vir hom gesê: “Hoe kon jy so iets doen?” Hulle het immers geweet dat hy besig was om te vlug, weg van die teenwoordigheid van die HERE, want hy het dit vir hulle vertel. Hulle sê toe vir hom: “Wat moet ons met jou maak sodat die see om ons kan bedaar?” Want die see het al hoe onstuimiger geraak. Hy het geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal die see om julle bedaar; want ek is seker dit is oor my dat hierdie groot storm oor julle woed.” Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die HERE aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, HERE, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die HERE; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier. Toe was die manne geweldig bang vir die HERE. Hulle het vir Hom 'n offer gebring en geloftes afgelê. Die HERE het dit so beskik dat 'n groot vis Jona insluk, en hy was drie dae en drie nagte lank in die vis se maag.

JONA 1:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die woord van die HERE het tot Jona, die seun van Amittai, gekom en gesê: Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en roep daarteen; want hulle boosheid het voor my aangesig opgekom. Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die HERE af, en na Joppe afgegaan; en hy het 'n skip gekry wat na Tarsis was, en hy het sy reisgeld betaal en daarin afgeklim om saam met hulle na Tarsis te gaan van die aangesig van die HERE af. Maar die HERE het 'n groot wind in die see uitgestuur, en daar het 'n geweldige storm in die see gekom, sodat die skip gebreek het. Toe het die seevaarders bang geword en elkeen tot sy god geroep en die goed wat in die skip was, in die see gegooi om dit vir hulle ligter te maak. Maar Jona het in die kante van die skip afgeklim; en hy het gelê en vas aan die slaap. Toe kom die skeepshoof na hom en sê vir hom: Wat bedoel jy, o slaper? staan op, roep u God aan, as dit so is dat God aan ons dink, dat ons nie verlore gaan nie. En hulle het elkeen vir sy maat gesê: Kom, laat ons die lot werp, dat ons kan weet om wie se rede hierdie onheil oor ons is. En hulle het die lot gewerp, en die lot het op Jona geval. Toe sê hulle vir hom: Vertel ons tog om wie se rede hierdie onheil oor ons is; Wat is jou beroep? en waar kom jy vandaan? wat is jou land? en van watter volk is jy? En hy sê vir hulle: Ek is 'n Hebreër; en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë grond gemaak het. Toe het die manne baie bang geword en vir hom gesê: Waarom het jy dit gedoen? Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE gevlug het, omdat Hy dit aan hulle gesê het. Toe sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, dat die see vir ons kalm kan word? want die see het gevloei en was onstuimig. En Hy sê vir hulle: Neem my op en gooi my in die see; so sal die see vir julle kalm word, want ek weet dat hierdie groot storm om My ontwil oor julle is. Maar die manne het hard geroei om dit na die land te bring; maar hulle kon nie, want die see het gewoel en teen hulle storm. Daarom het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons smeek U, HERE, laat ons nie omkom ter wille van hierdie man se lewe nie en nie onskuldige bloed op ons gooi nie; want U, HERE, het gedoen wat U behaag het. Toe het hulle Jona opgeneem en hom in die see gegooi, en die see het opgehou van sy woedende. Toe het die manne die HERE uitermate gevrees en aan die HERE 'n offer gebring en geloftes gemaak. En die HERE het 'n groot vis berei om Jona in te sluk. En Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die vis.

JONA 1:1-17 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Jona, die seun van Amittai, geroep om sy boodskap te gaan oordra. Hy het vir hom gesê: “Gaan sê vir die groot stad Nineve dat Ek hulle gaan straf. Hulle sonde is so groot dat dit al aan die hemel raak.” Jona het die Here se opdrag probeer ontduik. Hy het weg van Nineve af in die teenoorgestelde rigting na Tarsis toe gevlug. Hy het afgegaan na die hawe in Joppe. Daar het hy ’n skip gehaal wat na Tarsis toe sou vaar. Hy het die reisgeld betaal en op die skip geklim om saam met hulle soontoe te vaar. Hy het van die Here af probeer wegkom. Maar die Here self het ’n baie sterk wind oor die see laat opsteek. ’n Yslike storm het op die see losgebars. Dit het gelyk of die skip uitmekaar gaan breek. Die matrose het bang geword en gedink dat die skip gaan sink. Elkeen het sy god gesoebat dat hy hulle nie sal laat doodgaan nie. Hulle het selfs van die vrag op die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Jona het onder in die skip gelê en slaap. Die skip se kaptein gaan toe na hom toe en vra vir hom: “Hoe kan jy in hierdie storm lê en slaap? Staan dadelik op. Bid ook tot jou god. Miskien sal daardie god hom aan ons steur en keer dat ons vergaan.” Die matrose het toe onder mekaar besluit om lootjies te trek. So sou hulle kon agterkom wie die oorsaak van die groot storm was. Hulle het lootjies getrek. Jona se naam is getrek. Hulle het hom toe begin uitvra: “Sê vir ons, wat het jy dan gedoen dat hierdie storm oor ons losgebars het? Wat doen jy vir ’n lewe? Van watter land af kom jy? Aan watter volk behoort jy?” Hy sê toe vir hulle: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel. Dit is Hy wat die see en die land gemaak het.” Die matrose het verskriklik bang geword. Hulle het geweet dat hy van die Here af probeer wegkom het. Jona het vir hulle vertel dat die Here hom na Nineve toe gestuur het en dat hy nie wou gaan nie. Hulle het vir hom gevra: “Hoe op aarde kan jy so iets doen?” Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?” “Julle moet my in die see gooi,” sê Jona, “dan sal die see weer kalm word. Ek besef nou dat ek die oorsaak is dat julle in hierdie storm beland het.” Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar. Dit het die matrose baie groot respek vir die Here gegee. Hulle het net daar ’n offer vir Hom gebring en belowe dat hulle Hom voortaan sal aanbid. Die Here het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk. Jona was drie dae lank binne-in die vis.

JONA 1:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het die volgende boodskap vir Jona, die seun van Amittai, gegee: “Maak klaar en gaan na die groot stad Nineve toe! Praat ernstig met hulle, want Ek het hulle slegte lewenswyse raakgesien.” Maar Jona het in die teenoorgestelde rigting gegaan om van die HERE af weg te kom. Hy het afgegaan na die kus toe, na die hawe Joppe. Daar het hy ’n skip gekry wat Tarsis toe sou vaar. Hy het ’n kaartjie gekoop en aan boord gegaan. Jona het gehoop dat as hy in ’n westelike rigting gaan, hy van die HERE af sou wegkom. Tydens die vaart het die HERE skielik ’n sterk wind oor die see laat opkom. Daar het ’n hewige storm ontstaan en gedreig om die skip te laat sink. Uit vrees vir hulle lewens het die matrose tot hulle gode om hulp geroep. Hulle het van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak. Terwyl dit alles gebeur het, het Jona afgegaan na die vragruim van die skip en daar gelê en geslaap. Die kaptein van die skip het afgegaan na Jona toe en vir hom geskreeu: “Hoe kan jy in sulke omstandighede slaap? Staan op en bid tot jou god! Miskien sal hy ons genadig wees en ons lewens spaar.” Die matrose sê toe vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan vasstel wie hierdie krisis veroorsaak het.” Hulle het dit gedoen en Jona is uitgewys. Toe vra hulle hom: “Wat het jy gedoen om hierdie storm oor ons te laat losbars? Wie is jy en wat is jou beroep? Waar kom jy vandaan? Wat is jou nasionaliteit?” Jona het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die HERE, die God van die hemel wat die see en die land gemaak het. Ek is besig om van die HERE af weg te vlug.” Toe het groot vrees die matrose beetgepak. Hulle het uitgeroep: “Hoekom doen jy dit?” Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?” Jona het hulle geantwoord: “Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.” Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword. Hulle het die HERE aangeroep en gesê: “Ag, HERE, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. HERE, U het gedoen soos U wou.” Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword. Groot vrees vir die HERE het die matrose aangegryp. Hulle het ’n offer vir die HERE gebring en ’n belofte gemaak om Hom te dien. Toe stuur die HERE ’n groot vis om Jona in te sluk. Jona was vir drie dae en drie nagte in die vis.