Job 35

35
Elihu se derde betoog
1 Elihu het toe voortgegaan en gesê:
2“Dink jy dit is reg as jy sê,
‘Ek, eerder as God, het gelyk!’?
3 Ja, jy sê,
‘Watter nut het dit vir U?
Wat baat dit my as ek nie sondig nie?’
4Ek sal jou daarop antwoord,
jou en jou vriende.
5 Kyk na die hemel en sien!
Aanskou die wolkehemel!
Dit is hoër as jy.
6 As jy sondig,
wat doen dit aan Hom?
As jou oortredinge baie is,
wat veroorsaak jy vir Hom?
7As jy regverdig is,
wat gee jy vir Hom,
of wat ontvang Hy uit jou hand?
8Jou oortreding raak
net 'n mens soos jy,
jou regverdigheid net 'n mensekind.
9“ Omdat daar soveel verdrukking is,
roep mense om hulp;
aanhoudend roep hulle
oor die krag van magtiges,
10maar wat hulle nie sê nie, is,
‘Waar is God, my Maker,
Hy wat lofsange gee in die nag,
11Hy wat ons onderrig,
meer as die diere van die aarde,
en ons slim maak,
meer as die voëls van die hemel?’
12Dan roep hulle om hulp
oor die hoogmoed van slegte mense,
maar Hy antwoord nie.
13Na 'n leë geroep
luister God egter nie;
die Almagtige slaan nie daarop
ag nie.
14 Hoeveel minder nog wanneer jy sê
dat jy Hom nie sien nie,
dat die regsaak voor Hom is,
maar dat jy steeds op Hom wag?
15Maar nou, omdat sy toorn
nie verantwoording eis nie,
en Hy nie veel ag slaan
op oortreding nie,
16 het Job sy mond vol onsin,
vermeerder hy woorde sonder kennis.”

Tans Gekies:

Job 35: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid