Job 34

34
Elihu se tweede betoog
1 Elihu het toe voortgegaan en gesê:
2“Luister na my woorde, wyses!
Kenners, hoor my aan!
3 Die oor toets immers woorde
soos die tong kos proe.
4Wat reg is –
laat ons dit vir onsself uitmaak;
laat ons onder mekaar kennis neem
van wat goed is.
5 Want Job het gesê,
‘Ek het gelyk;
God het my my reg ontneem.
6Sal ek lieg teen my regte in?
Ongeneeslik is my pylwond –
sonder dat ek 'n oortreding begaan het.’
7 Wie is daar nog soos Job
wat 'n gespot soos water drink,
8hom in die geselskap bevind
van dié wat onreg pleeg
en wat saamloop met goddelose manne?
9 Hy het immers gesê,
‘Dit baat 'n man nie as hy 'n goeie
verhouding met God het nie.’
10“ Daarom, verstandige manne,
luister na my:
God sal nooit ooit goddeloos optree nie,
of die Almagtige ooit onreg pleeg nie.
11 Ja, Hy vergeld 'n mens sy dade;
volgens sy gedrag laat Hy hom dit ervaar.
12 Boonop staan dit vas:
God maak Hom aan niks skuldig nie;
die Almagtige verdraai nie die reg nie.
13Wie het die aarde aan Hom toevertrou?
Wie het die hele wêreld daargestel?
14 As Hy net aan Homself sou aandag gee,
sy Gees en asem by Homself sou hou,
15sal alles wat leef, saam tot niet gaan,
en die mens tot stof terugkeer.
16“As daar dan by jou insig is,
luister hierna;
neem kennis van die bedoeling van my woorde!
17Kan iemand wat die reg haat,
hoegenaamd regeer?
Of kan jy die Regverdige,
die Magtige, skuldig verklaar,
18 Hy wat vir 'n koning sê, ‘Booswig!’
vir vooraanstaandes, ‘Goddeloses!’
19 Hy wat nie partydig is
vir bevelvoerders nie,
wat nie aan vooraanstaande mense
voorkeur gee bo armes nie,
omdat hulle almal die werk
van sy hande is?
20 Binne 'n oomblik sterf hulle
in die middel van die nag.
Mense word geskud en gaan heen.
Magtiges word sonder menslike ingryping verwyder.
21 Want God se oë is gerig
op die mens se paaie;
al sy treë hou Hy dop.
22 Daar is geen donker, geen pikdonkerte,
waar hulle wat onreg pleeg,
kan wegkruip nie.
23Dit berus immers nie by 'n mens
om 'n vaste tyd te bepaal
om na God te gaan met 'n regsaak nie.
24 God verpletter magtiges
sonder 'n ondersoek,
Hy plaas ander in hulle plek.
25Daarom is Hy vertroud
met hulle dade;
Hy werp hulle oornag omver,
sodat hulle verpletter daar lê.
26Daar waar die goddeloses is,
tref Hy hulle,
op 'n plek waar mense dit kan sien
27– omdat hulle agter Hom wegdraai
en nie ag slaan op al sy paaie nie –
28 sodat die hulpgeroep
van armes Hom kan bereik,
en Hy die noodkreet
van magteloses kan hoor.
29As Hy stil is,
wie kan veroordeel?
As Hy sy gesig verberg,
wie kan Hom sien?
Maar oor 'n nasie
sowel as oor die mensdom
het Hy beheer,
30sodat iemand wat 'n godlose is,
nie sal regeer nie,
en daar nie vangstrikke
vir die volk sal wees nie.
31As iemand vir God sou sê,
‘Ek het skuld op my gelaai,
ek sal my nie meer sleg gedra nie;
32leer U my wat ek nie raaksien nie,’
of ‘as ek onreg gepleeg het,
ek sal dit nie weer doen nie,’
33dink jy dan dat God hom moet vergeld,
omdat jy hom verwerp het?
Jy is immers die een wat moet kies,
nie ek nie.
Wat jy weet, sê dit!
34Verstandige manne,
ja, 'n wyse man wat na my luister,
sal vir my sê,
35‘Job is die een
wat sonder kennis praat;
sy woorde is sonder insig.
36Mag Job tot die uiterste getoets word,
omdat hy antwoord soos misdadigers;
37want hy voeg oortreding by sy sonde;
onder ons saai hy twyfel.
Hy stapel sy woorde teen God op.’ ”

Tans Gekies:

Job 34: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid