maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifkenners en die •Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel staan. Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg. In die •wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip na haar gooi.” Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan – net Hy het oorgebly, en die vrou daar in die middel. Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy antwoord: “Niemand nie, meneer. ” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. ” Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie.
Lees Johannes 8
Deel
Vergelyk alle weergawes: Johannes 8:1-20
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's