JOHANNES 8:1-20

JOHANNES 8:1-20 Bybel vir almal (ABA)

maar Jesus het na die Olyf-berg gegaan. Vroeg die volgende oggend het Hy weer na die tempel gegaan. Al die mense het na Jesus toe gekom. Hy het gaan sit en Hy het vir hulle geleer. Iemand het gesien 'n vrou pleeg egbreuk. Hy het dit vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs vertel. Hulle het die vrou na Jesus toe gebring en hulle het haar laat staan waar almal haar kon sien. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, iemand het gesien hierdie vrou pleeg egbreuk. Die Wette van Moses sê ons moet vroue wat dit doen, doodgooi met klippe. Wat sê jy, wat moet ons doen?” Hulle het dit vir Jesus gevra, want hulle wou hê Hy moes iets sê wat verkeerd is, dan kon hulle Hom daaroor beskuldig by die Joodse Raad. Maar Jesus het gebuk en Hy het met sy vinger op die grond geskryf. Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met 'n klip gooi!” Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf. Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan. Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?” Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.” Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”] Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie. Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie. Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het. In julle wette is daar geskryf dat wanneer twee mense dieselfde sê oor iemand, dan is dit waar. En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.” Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?” Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.” Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie.

JOHANNES 8:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR Jesus het na die Olyfberg gegaan. En vroeg in die môre het Hy weer in die tempel gegaan, en al die mense het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het 'n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring. En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op 'n daad van egbreuk betrap; en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U? En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi. En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie. EN Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Toe sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; u getuienis is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig Ek ook van Myself, my getuienis is waar, omdat Ek weet van waar Ek gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie van waar Ek kom en waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, my oordeel is waar, omdat Ek nie alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En dit is ook in julle wet geskrywe dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus gespreek by die skatkis terwyl Hy in die tempel geleer het. En niemand het Hom gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie gekom het nie.

JOHANNES 8:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan. Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe. Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense. Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: “Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?” “Niemand nie, Here,” sê sy. Toe sê Jesus: “Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” Toe vra hulle vir Hom: “En waar is die vader van jou?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.

JOHANNES 8:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifkenners en die •Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel staan. Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg. In die •wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip na haar gooi.” Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan – net Hy het oorgebly, en die vrou daar in die middel. Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy antwoord: “Niemand nie, meneer. ” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. ” Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie.

JOHANNES 8:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Jesus het na die Olyfberg gegaan. En die môre vroeg het hy weer in die tempel gekom, en die hele volk het na hom gekom; en hy het gaan sit en hulle geleer. En die skrifgeleerdes en Fariseërs het 'n vrou na Hom gebring wat op owerspel betrap is; en toe hulle haar in die middel gestel het, Hulle sê vir Hom: Meester, hierdie vrou is op 'n daad op owerspel gevang. En Moses het ons in die wet beveel dat sulkes gestenig moet word; maar wat sê jy? Dit het hulle gesê om hom te versoek, sodat hulle hom kon aankla. Maar Jesus het vooroor gebuk en met sy vinger op die grond geskryf asof Hy dit nie hoor nie. En toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy homself opgehef en vir hulle gesê: Wie onder julle sonder sonde is, laat hom eers 'n klip op haar gooi. En hy het weer gebuk en op die grond geskryf. En die wat dit gehoor het, deur hulle eie gewete oortuig, het een vir een uitgegaan, begin by die oudste tot die laaste toe; Toe Jesus homself opgehef het en niemand anders as die vrou sien nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie aanklaers van jou? het niemand jou veroordeel nie? Sy het gesê: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie; gaan en sondig nie meer nie. Jesus het toe weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig vir die wêreld; wie My volg, sal nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. Daarom sê die Fariseërs vir Hom: U getuig van Uself; jou rekord is nie waar nie. Jesus antwoord en sê vir hulle: Al getuig ek van myself, tog is my getuienis waar; want Ek weet vanwaar Ek gekom het en waarheen Ek gaan; maar julle kan nie sê waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan nie. Julle oordeel na die vlees; Ek oordeel geen man nie. En as Ek oordeel, is my oordeel waar, want Ek is nie alleen nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. Daar is ook in u wet geskrywe dat die getuienis van twee manne waar is. Ek is een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. Toe sê hulle vir hom: Waar is jou Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. Hierdie woorde het Jesus in die skatkis gespreek terwyl Hy in die tempel geleer het, en niemand het die hande aan Hom geslaan nie; want sy uur het nog nie gekom nie.

JOHANNES 8:1-20 Die Boodskap (DB)

Jesus is intussen Olyfberg toe, maar nie vir lank nie. Teen sonop was Hy al weer in die omgewing van die tempel. Daar het die mense om Hom saamgedrom. Oudergewoonte het Hy met hulle oor God gesels. Die Joodse geleerdes en die Fariseërs kom toe met ’n vrou daar aan. Sy is gevang toe sy seksueel ontrou was aan haar man. Hulle laat haar toe tussen die mense staan sodat almal haar kon sien. Hulle sê toe vir Jesus: “Jy is mos die hele tyd besig om mense te vertel wat hulle moet doen. Nou ja, ons het hierdie vrou op heterdaad betrap toe sy by ’n man geslaap het wat nie haar eie is nie. Moses se wet vertel vir ons presies wat ons met so ’n vrou moet maak: sy moet dood! Met klippe moet ons die laaste asem uit haar uitgooi. Maar sê jy nou ’n bietjie vir ons: Wat dink jy moet ons met die vrou maak?” Die Joodse geleerdes wou egter nie regtig hoor wat Jesus dink nie. Hulle het Hom dit maar net gevra om Hom in die moeilikheid te probeer bring. Hulle het gehoop Hy sou sy mond verbypraat en iets sê waaroor hulle Hom voor die hof kon sleep. Maar Jesus was te uitgeslape vir hulle. Net daar waar Hy gesit het, het Hy vooroor gebuig en met sy vinger iets in die grond geskryf. Die Joodse geleerdes het egter aangehou neul. Uiteindelik kyk Jesus op en sê vir hulle: “Nou goed, gaan maar aan. Julle weet skynbaar wat om te doen. Maar daar is een voorwaarde: die een van julle wat nog nooit aan God ongehoorsaam was nie, moet die leiding neem. Hy moet eerste ’n klip optel en haar daarmee gooi.”Weer het Jesus vooroor gebuig en iets in die grond geskryf. Daar staan die Joodse geleerdes toe met ’n mond vol tande. Hulle het nie geweet wat om te doen of te sê nie. Een vir een het hulle toe maar weer tussen die mense in verdwyn. Die belangrikstes het eerste gemaak dat hulle wegkom. Hulle het die vrou net daar by Jesus gelos. Jesus kyk toe weer op en sê vir haar: “En nou? Waar is al daardie mense? Kon niemand so ver kom om ’n klip op jou te gooi nie?” “Nie eens een nie, Here,” kom die antwoord. Jesus sê toe: “Ek gaan ook nie. Gaan gerus, maar ook vir jou is daar ’n voorwaarde: gaan stel nou vir daardie mense ’n voorbeeld hoe om gehoorsaam aan God te leef.” Jesus praat toe verder met die mense: “Wat lig beteken vir iemand wat in die pikdonker sit, beteken Ek vir mense op geestelike gebied. Daarom sal iemand wat My volg se lewe nie sinloos wees soos dié van iemand wat in die donker rondstrompel nie. Hy sal sy lewe sinvol kan leef omdat hy sal kan sien wat om te doen om God tevrede te stel.” Die Fariseërs val Hom toe dadelik aan: “Jy praat darem baie oor jouself, nè? Dit is net ‘ek, ek’ die hele tyd. Iewers moet ’n skroef los wees! Al hierdie dinge wat jy sê, kan tog nie waar wees nie, want niemand anders sê dit nie, net jy.” “Al praat Ek ook oor Myself, kan julle maar glo wat Ek sê, want dit is die waarheid. Is dit regtig so dat iets ’n leuen is as iemand dit oor homself sê? Is dit nie baie belangriker om liewer te vra of ’n mens die persoon kan glo wat dit sê nie? Nou ja, julle kyk die Persoon mis. Julle besef glad nie wie Ek is nie. Julle het nie ’n idee waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Ek weet dit egter. Tipies mens kyk julle net deur menslike oë. Ek sien en beoordeel dinge anders. “As Ek egter dinge oor mense sê, kan julle maar weet: alles wat Ek sê, is waar. Selfs ’n regter in ’n hof sal dit moet toegee. Daar is immers twee van ons wat die waarheid daarvan waarborg. Daar is natuurlik Ek en my Vader wat My gestuur het. Julle eie wet sê mos dat as twee mense dieselfde sê, die regter dit ernstig moet opneem. Nou ja, Ek praat wel oor Myself, maar my Vader wat My gestuur het, bevestig dat alles waar is wat Ek sê.” “Nou toe, waar’s jou pa? Wys hom vir ons!” sê hulle toe. “Julle het nie ’n benul wat julle vra nie. Julle weet nie wie Ek is nie en nog minder wie my Vader is. As julle geweet het wie Ek is, sou julle ook dadelik geweet het wie my Vader is,” kom dit toe van Jesus. Hierdie gesprek het plaasgevind by die plek waar mense hulle bydraes vir die tempel kom inbetaal het. Ten spyte van hulle wraakplanne het die Jode nie eens probeer om die polisie te roep om Hom te kom vang nie. God het besluit dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie.

JOHANNES 8:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het egter na die Olyfberg toe gegaan. Teen dagbreek die volgende oggend het Jesus weer na die tempel toe gekom en die hele volk het na Hom toe gestroom. Hy het toe gaan sit en hulle onderrig. Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ’n vrou wat op die daad van owerspel betrap is, en laat haar tussen hulle staan. Hulle sê vir Hom: “Leermeester, hierdie vrou is betrap terwyl sy besig was met ’n daad van owerspel. Moses het in die wet aan ons die opdrag gegee om sulke vroue te stenig, maar wat sê u daaroor?” Dit het hulle net gesê om Hom te toets sodat hulle iets kon kry om Hom oor aan te kla. Jesus het egter afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. Toe hulle aanhou om vrae te vra, het Jesus regop gestaan en vir hulle gesê: “Laat die een onder julle wat sondeloos is, die eerste een wees wat ’n klip na haar gooi.” Daarna het Jesus weer gehurk en op die grond geskryf. Nadat hulle dit gehoor het, het hulle een vir een begin weggaan, eerste die familiehoofde. Jesus is alleen agtergelaat terwyl die vrou nog in hulle midde staan. Toe Jesus weer orent kom, het Hy vir haar gesê: “Vrou, waar is hulle heen? Het niemand jou veroordeel nie?” Sy het geantwoord: “Niemand nie, Meneer.” Jesus sê toe vir haar: “Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” Verder, by ’n ander geleentheid, het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het toe vir Hom gesê: “Jy getuig oor jouself; daarom is jou getuienis nie geldig nie.” Jesus het reageer: “As Ek oor Myself getuig, is my getuienis geldig omdat Ek weet waarvandaan Ek gekom het en waarheen Ek teruggaan. Julle weet egter nie waarvandaan Ek kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel volgens die uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. As Ek egter oordeel, is my oordeel geldig omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet is dit opgeskryf dat die getuienis van twee persone geldig is. Dit is Ek wat oor Myself getuig, asook die Vader wat My gestuur het, wat oor My getuig.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Waar is jou vader?” Jesus het geantwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het.” Jesus het hierdie stellings gemaak in die skatkamer van die tempel terwyl Hy besig was om in die tempel te onderrig. Niemand het Hom egter gearresteer nie omdat sy tyd nog nie aangebreek het nie.