Johannes 8:1-20

Johannes 8:1-20 ABA

maar Jesus het na die Olyf-berg gegaan. Vroeg die volgende oggend het Hy weer na die tempel gegaan. Al die mense het na Jesus toe gekom. Hy het gaan sit en Hy het vir hulle geleer. Iemand het gesien 'n vrou pleeg egbreuk. Hy het dit vir die skrifgeleerdes en die Fariseërs vertel. Hulle het die vrou na Jesus toe gebring en hulle het haar laat staan waar almal haar kon sien. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, iemand het gesien hierdie vrou pleeg egbreuk. Die Wette van Moses sê ons moet vroue wat dit doen, doodgooi met klippe. Wat sê jy, wat moet ons doen?” Hulle het dit vir Jesus gevra, want hulle wou hê Hy moes iets sê wat verkeerd is, dan kon hulle Hom daaroor beskuldig by die Joodse Raad. Maar Jesus het gebuk en Hy het met sy vinger op die grond geskryf. Hulle het aangehou om vir Jesus te vra wat Hy dink hulle moet doen. Toe het Jesus opgestaan en Hy het vir hulle gesê: “As daar een van julle is wat nog nooit sonde gedoen het nie, dan moet hy haar eerste met 'n klip gooi!” Jesus het weer gebuk en Hy het op die grond geskryf. Toe die mense hoor wat Jesus sê, het hulle almal weggegaan. Die leiers het eerste weggegaan, en toe het die ander mense begin weggaan. Net Jesus het daar gebly en die vrou het nog voor Hom gestaan. Jesus het regop gestaan en Hy het vir die vrou gevra: “Mevrou, waar is die mense wat jou beskuldig het? Het iemand gesê die mense moet jou doodgooi met klippe?” Sy het gesê: “Nee, niemand nie, Here.” Jesus het vir haar gesê: “Ek doen dit ook nie. Jy mag gaan, maar jy moenie weer die sonde doen nie.”] Jesus het weer met die mense gepraat. Hy het gesê: “Ek is die lig vir die mense van die wêreld. Elkeen wat My volg, sal nie in die donker loop nie. Hy sal die lig hê wat lewe gee.” Die Fariseërs het vir Jesus gesê: “Jy praat oor jouself. Ons kan nie glo wat jy oor jouself sê nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Ja, Ek praat oor Myself, maar wat Ek oor Myself sê, is waar, want Ek weet van waar Ek kom en waarnatoe Ek gaan. Julle weet nie van waar Ek kom of waarnatoe Ek gaan nie. Julle kyk na mense se buitekant en dan oordeel julle die mense. Ek oordeel niemand nie. Wanneer Ek mense oordeel, dan oordeel Ek reg, want dit is nie Ek alleen wat oordeel nie. Dit is Ek en die Vader wat oordeel, die Vader wat My na die wêreld gestuur het. In julle wette is daar geskryf dat wanneer twee mense dieselfde sê oor iemand, dan is dit waar. En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.” Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?” Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.” Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie.