Johannes 6:38-49

Johannes 6:38-49 AFR20

want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie 'n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan. ” Toe het die Jode oor Hom gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” En hulle het gesê: “Is hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan hy nou sê, ‘Ek het uit die hemel neergedaal?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Hou op om onder mekaar te mor. Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. In die Profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie – net die Een wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf.