JOHANNES 6:38-49
JOHANNES 6:38-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.” Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?” Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien. “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf.
JOHANNES 6:38-49 Bybel vir almal (ABA)
Ek het uit die hemel gekom, nie om self te besluit wat Ek wil doen nie, maar om te doen wat die Vader wil hê Ek moet doen, die Vader wat My gestuur het. Die Vader wat My gestuur het, wil hê Ek moenie een van die mense wat Hy vir My gegee het, laat verlore gaan nie. Hy wil hê Ek moet hulle op die laaste dag weer laat lewe. My Vader wil hê elkeen wat My sien en wat glo in My, die Seun, moet die ewige lewe kry. Ek sal hulle almal op die laaste dag weer laat lewe.” Die Jode was baie ontevrede en hulle het oor Jesus begin kla. Hulle het nie daarvan gehou dat Jesus gesê het Hy is die brood wat uit die hemel kom nie. Die Jode het vir mekaar gesê: “Jesus is die seun van Josef, ons ken sy pa en sy ma. Hy kan nie sê dat hy uit die hemel kom nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet ophou kla. My Vader het My na die wêreld gestuur. As die Vader iemand nie trek nie, dan kan daardie persoon nie na My toe kom nie, maar as die Vader hom trek, sal Ek hom op die laaste dag weer laat lewe. Een van die profete in die Ou Testament het geskryf: “ Hulle sal almal God se leerlinge wees. “Dit beteken dat elkeen wat na die Vader luister en wat by Hom leer, na My toe kom. Dit beteken nie dat iemand anders ook die Vader gesien het nie. Net Ek het die Vader gesien, Ek wat van God kom. Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe. Ek is die brood wat die ewige lewe gee. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf.
JOHANNES 6:38-49 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe.
JOHANNES 6:38-49 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?” Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe.
JOHANNES 6:38-49 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil uit te voer nie maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: Dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie 'n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar hulle op die laaste dag sal opwek. Want dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo die ewige lewe sal hê, en Ek sal elkeen van hulle op die laaste dag laat opstaan. ” Toe het die Jode oor Hom gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.” En hulle het gesê: “Is hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe kan hy nou sê, ‘Ek het uit die hemel neergedaal?’ ” Jesus het hulle geantwoord: “Hou op om onder mekaar te mor. Niemand kan na My kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. In die Profete staan daar geskryf, ‘En hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie – net die Een wat van God af kom, Hy het die Vader gesien. Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf.
JOHANNES 6:38-49 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat Ek van alles wat Hy My gegee het, niks sal verloor nie, maar dit sal opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe kan hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Die Jode het toe oor hom gemurmureer, omdat hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het. En hulle sê: Is dit nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? hoe is dit dan dat hy sê: Ek het uit die hemel neergedaal? Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Moenie onder mekaar murmureer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Daar is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer word. Elkeen dan wat gehoor het en van die Vader geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe hy wat uit God is, hy het die Vader gesien. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het manna in die woestyn geëet, en hulle is dood.
JOHANNES 6:38-49 Die Boodskap (DB)
Ek het mos van die hemel af gekom om te kom doen wat my Vader beplan het. Laat Ek julle vertel wat my Vader se plan is: Hy wil nie hê dat een enkele mens wat aan Hom en My behoort, iets oorkom nie. Ek moet hulle almal op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan. Sy wens is dat elkeen wat raaksien wie die Seun is en Hom met sy hele hart aanvaar, die lewe sal kry wat nooit sal ophou nie. Ek sal daardie persoon op die laaste dag liggaamlik uit die dood laat opstaan.” Die Jode het toe onderlangs begin mompel omdat Jesus gesê het dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom het. “Is Josef nie sy pa nie? Ja-nee, ons ken sy pa en ma goed. Ons weet mos waar hy vandaan kom. Hoe kan hy nou hier vir ons kom staan en vertel dat hy uit die hemel gekom het?” “Vir wat staan julle so onder mekaar en mompel?” vra Jesus toe. “Spaar julleself die moeite! My Vader wat My gestuur het, trek mense na My toe wat by My hoort. Dit is die mense wat Ek op die dag van die wederkoms uit die dood sal laat opstaan. Julle moet dus nie die idee kry dat julle op julle eie sonder my Vader deel sal word van God se familie nie. Een van die boodskappers van God het juis dít bedoel toe hy geskryf het: ‘Hulle almal sal leerlinge van God self wees.’ Elkeen wat dus soos ’n goeie leerling mooi luister na wat die Vader sê, sal weet dat hy na My toe moet kom. Daarmee sê Ek nie dat iemand anders die Vader al persoonlik gesien het nie, behalwe die Seun. Hy was by die Vader en het van Hom af gekom. Hy het eerstehandse kennis van die Vader. Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. Want Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood.
JOHANNES 6:38-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het van die hemel af gekom, nie om mý wil uit te voer nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. Dít is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van dié wat Hy My gegee het, nie ’n enkele een verlore sal laat gaan nie, maar elkeen op die laaste dag sal laat opstaan. “Dit is die wil van my Vader dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe besit; en Ek sal hom op die laaste dag opwek.” Die Jode het gemor omdat Jesus gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” Hulle het gesê: “Is hierdie man nie Jesus, die seun van Josef nie? Ken ons nie sy pa en ma nie? Hoe kan hy nou beweer dat hy vanuit die hemel afgekom het?” Jesus het reageer en vir hulle gesê: “Moenie onder mekaar protesteer nie. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe laat kom nie; en Ek sal daardie persoon op die laaste dag opwek. In die profete staan daar geskryf: ‘Hulle sal almal deur God onderrig word.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. Nie dat iemand al die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van die Vader af gekom het – Hý het die Vader gesien. “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf.