Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het.
Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom 'n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling.
“Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is •regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. ”
“ As Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie waar nie. Daar is 'n ander Een wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis waar is wat Hy oor My aflê. Julle het gesante na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig. Ek aanvaar egter nie die getuienis wat van 'n mens afkomstig is nie, maar Ek sê hierdie dinge sodat julle verlos kan word. Hy was die lamp wat brand en lig gee, en julle was gretig om julle vir 'n tydjie in sy lig te verbly. Maar Ek het 'n getuienis gewigtiger as dié van Johannes: Die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, ja, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.
“ Ek aanvaar nie verering deur mense nie, maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. Ek het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”