JOHANNES 5:18-47

JOHANNES 5:18-47 Bybel vir almal (ABA)

Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om 'n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe. Die Vader oordeel niemand nie. Nee, Hy sê die Seun kan die mense oordeel. Daarom moet almal die Seun eer, soos hulle die Vader eer. As iemand die Seun nie eer nie, dan eer hy ook nie die Vader nie, die Vader wat die Seun na die wêreld gestuur het. “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die mense wat luister na wat Ek, die Seun, sê, en wat glo in God wat My gestuur het, daardie mense het klaar die ewige lewe. Hulle is nie meer geestelik dood nie, hulle lewe. Ek sê vir julle, en dit is seker: Daar sal iets gebeur, ja, dit het al klaar begin gebeur: Die mense wat geestelik dood is, sal nou die stem van die Seun van God hoor. Almal wat dit hoor en glo, sal geestelik weer begin lewe. “Die Vader lewe en Hy laat mense lewe. Hy het hierdie lewe ook vir die Seun gegee sodat die Seun ook mense kan laat lewe. Die Vader het ook gesê die Seun mag oordeel, want Hy is die Seun van die mens. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar sal 'n tyd kom wanneer almal wat nou klaar dood is en in hulle grafte lê, sal hoor dat die Seun hulle roep. Almal wat reg gelewe het, sal uitkom uit hulle grafte. Hulle sal weer begin lewe sodat hulle die ewige lewe kan kry. Almal wat sleg gelewe het, sal weer begin lewe sodat die Seun hulle kan oordeel. Ek, die Seun, mag nie self besluit om iets te doen nie. Ek luister eers wat die Vader vir My sê, dan oordeel Ek. Ja, Ek oordeel regverdig, want dit is nie Ék wat besluit wat Ek moet doen nie. Ek doen net wat die Vader wil hê, Hy wat My na die wêreld gestuur het.” Jesus het vir die Jode gesê: “As Ek self sê wie Ek is, dan beteken my woorde niks. Maar daar is Iemand Anders wat sê wie Ek is. Dit is God. Ek weet dat die dinge wat Hy van My sê, waar is. Julle het mense na Johannes die Doper toe gestuur en hy het die waarheid oor My gepraat. Maar dit is nie nodig dat mense moet sê wie Ek is nie. Ek sê dit vir julle sodat julle kan glo en sodat God julle kan red. Johannes was soos 'n lamp wat brand en helder skyn, en julle was 'n kort tydjie bly oor sy lig. “Daar is ander dinge wat sê wie Ek is, daardie dinge sê dit beter as wat Johannes dit gesê het. Dit is alles wat die Vader gesê het Ek moet doen. Die dinge wat Ek doen, wys dat die Vader My na die wêreld gestuur het. “Die Vader wat My gestuur het, het ook gesê wie Ek is. Julle het die Vader se stem nog nooit gehoor nie. Julle het nog nooit gesien hoe Hy lyk nie. Julle het nie die Vader se boodskap in julle harte nie, want die Vader het My na die wêreld gestuur, maar julle glo nie in My nie. Julle lees die Ou Testament om uit te vind hoe julle die ewige lewe kan kry, en dit is die Ou Testament wat sê wie Ek is. Maar julle wil nie na My toe kom en die ewige lewe kry nie. Ek vra nie dat mense My moet eer nie. Ek ken julle. Ek weet daar is nie liefde vir God in julle harte nie. “Dit is nie Ek wat besluit het om na die wêreld te kom nie. Die Vader het My gestuur, maar julle aanvaar My nie. Maar as iemand anders self besluit om te kom, dan sal julle hom aanvaar. Julle kán nie glo nie, want julle wil eer hê van mekaar, nie eer van die enigste God nie. Julle moenie dink dit is Ek wat vir die Vader sal sê wat julle verkeerd gedoen het nie. Julle het gedink Moses sal julle help, maar dit is hý wat vir die Vader sê wat julle verkeerd gedoen het. Julle het nie vir Moses geglo nie, Moses wat oor My geskryf het. Daarom glo julle ook nie in My nie. As julle nie glo wat Moses geskryf het nie, dan sal julle ook nie glo wat Ek sê nie.”

JOHANNES 5:18-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. As Ek van Myself getuig, is my getuienis nie waar nie. Daar is 'n ander Een wat van My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy van My getuig, waar is. Julle het na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig. Maar Ek neem die getuienis van 'n mens nie aan nie; maar Ek sê dit, dat julle gered kan word. Hy was die lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir 'n tyd in sy lig te verbly. Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gedaante gesien nie. En julle het sy woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie. Eer neem Ek van die mense nie aan nie. Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie. Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem. Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig — Moses op wie julle gehoop het. Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

JOHANNES 5:18-47 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom 'n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” “Uit my eie kan Ek niks doen nie: Ek oordeel soos Ek dit van die Vader hoor, en my oordeel is regverdig, omdat dit nie my wil is wat Ek nastrewe nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. “As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. Daar is ook Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, waar is. “Julle het 'n afvaardiging na Johannes toe gestuur, en wat hy getuig het, is die waarheid. Nie dat Ek op die getuienis van 'n mens steun nie, maar Ek noem dit sodat julle gered kan word. Hy was die lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was gewillig om julle 'n rukkie in sy lig te verheug. “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, het ook oor My getuienis afgelê. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy gestalte ook nie gesien nie. En sy woord lewe nie werklik in julle nie, omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie. “Ek is nie gesteld op die eer wat mense bewys nie, maar Ek ken julle en Ek weet dat julle nie liefde vir God in julle het nie. Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Hoe kan julle ook in My glo terwyl julle gesteld is op die eer wat julle van mekaar ontvang en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat vir julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

JOHANNES 5:18-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het. Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die volle oordeel aan die Seun oorgegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. Amen, amen, Ek sê vir julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die •Seun van God sal hoor, en dié wat hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het, so het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het aan Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die •Seun van die Mens is. Moet julle nie hieroor verwonder nie, want daar kom 'n tyd wanneer almal in die grafte sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, maar dié wat verkeerd gedoen het, tot die opstanding van veroordeling. “Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is •regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. ” “ As Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie waar nie. Daar is 'n ander Een wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis waar is wat Hy oor My aflê. Julle het gesante na Johannes gestuur, en hy het vir die waarheid getuig. Ek aanvaar egter nie die getuienis wat van 'n mens afkomstig is nie, maar Ek sê hierdie dinge sodat julle verlos kan word. Hy was die lamp wat brand en lig gee, en julle was gretig om julle vir 'n tydjie in sy lig te verbly. Maar Ek het 'n getuienis gewigtiger as dié van Johannes: Die werke wat die Vader My gegee het om te voltooi, ja, die werke wat Ek doen, getuig self van My dat die Vader My gestuur het. En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie. “ Ek aanvaar nie verering deur mense nie, maar Ek ken julle – julle het nie die liefde van God in julle nie. Ek het in die Naam van my Vader gekom, maar julle aanvaar My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar. Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal aankla nie; dit is Moses, die een op wie julle julle hoop gevestig het, wat julle aankla. As julle Moses geglo het, sou julle My geglo het; hy het tog oor My geskryf. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”

JOHANNES 5:18-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom het die Jode des te meer probeer om hom dood te maak, omdat hy nie alleen die sabbat verbreek het nie, maar ook gesê het dat God sy Vader is en homself aan God gelyk maak. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit homself doen as wat Hy die Vader sien doen nie; want alles wat Hy doen, dit doen ook die Seun net so. Want die Vader het die Seun lief en maak Hom alles bekend wat Hy doen; en Hy sal Hom groter werke as hierdie toon, sodat julle julle kan verwonder. Want soos die Vader die dooies opwek en hulle lewend maak; so maak die Seun lewend wie Hy wil. Want die Vader oordeel niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun toevertrou. Dat alle mense die Seun moet eer, net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en sal nie in die oordeel kom nie; maar gaan oor van die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die uur kom, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit hoor, sal lewe. Want soos die Vader lewe in Homself het; so het Hy aan die Seun gegee om lewe in homself te hê; En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. Moenie jou hieroor verwonder nie, want daar kom 'n uur waarin almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor, En sal uitkom; die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe; en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling. Ek kan uit my eie niks doen nie; soos ek hoor, oordeel ek; en my oordeel is regverdig; want Ek soek nie my wil nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het. As ek van myself getuig, is my getuienis nie waar nie. Daar is 'n ander wat van my getuig; en ek weet dat die getuienis wat hy van my getuig, waar is. Julle het na Johannes gestuur, en hy het van die waarheid getuig. Maar ek ontvang geen getuienis van 'n mens nie, maar hierdie dinge sê ek, sodat julle gered kan word. Hy was 'n brandende en 'n skynende lig, en julle was gewillig om 'n tyd lank in sy lig te juig. Maar Ek het groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, dieselfde werke wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het. En die Vader self, wat My gestuur het, het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor en sy gestalte nie gesien nie. En julle het sy woord nie wat in julle bly nie; want wie Hy gestuur het, hom glo julle nie. Deursoek die Skrifte; want in hulle meen julle dat julle die ewige lewe het, en dit is hulle wat van My getuig. En julle sal nie na My toe kom om die lewe te hê nie. Ek ontvang geen eer van mense nie. Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God nie in julle het nie. Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle ontvang My nie; as 'n ander in sy eie Naam kom, hom sal julle aanneem. Hoe kan julle glo wat mekaar eer aanneem en nie die eer soek wat van God alleen kom nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie; daar is een wat julle aankla, naamlik Moses, op wie julle vertrou. Want as julle Moses geglo het, sou julle My geglo het, want hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle My woorde glo?

JOHANNES 5:18-47 Die Boodskap (DB)

Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie. Die Vader gaan self nie meer die Regter wees wat die oordeel oor mense gaan uitspreek nie. Hy het aan sy Seun die reg gegee om dit te doen. Daarom sal mense net soveel eer aan die Seun bewys as aan die Vader. Daar is egter ook ’n ander kant van die saak: wie nie die Seun respekteer nie, respekteer ook nie die Vader nie. Die Vader het immers die Seun gestuur om Hom te kom verteenwoordig. “Sowaar, die persoon wat luister na wat Ek sê en daarom glo in Hom wat My gestuur het, het nou reeds die lewe saam met God wat nooit einde sal kry nie. Dié persoon hoef nie bang te wees dat hy met die finale oordeel weer voor die regterstoel van God sal hoef te verskyn nie. Die besluit oor hom is klaar geneem. Hy het mos nou reeds uit die kloue van die geestelike dood oorgegaan in die wonderlike lewe wat God gee. Luister nou mooi. Die oomblik waarop almal gewag het, is hier. Geestelik dooie mense sal die boodskap van die Seun van God hoor. Wie na hierdie boodskap luister en dit aanvaar, sal vir altyd saam met God lewe. Hierdie lewe is natuurlik die tipe lewe wat die Vader self het. Dit is ook die lewe wat Hy aan sy Seun gegee het. Daarmee saam het die Vader ook die Seun gevra om die Regter by die finale oordeel te wees. Julle moenie verbaas wees hieroor nie. Daar kom ’n dag wanneer al die mense wat reeds begrawe is, sy stem sal hoor. Hulle sal uit die grafte uitkom. Die mense wat voorbeeldig en goed gelewe het, sal opstaan om vir ewig saam met God te leef. Aan die ander kant sal daardie mense wat hulle met verkeerde dinge besig gehou het, opstaan om te hoor dat hulle vir ewig en altyd verdoem is.” “Al hierdie dinge doen Ek egter nie op my eie nie. Ek het mooi geluister na wat die Vader sê. As Ek nou besluite oor mense neem, doen Ek dit soos my Vader dit sou doen. Daarom is Ek ook seker dat my besluite altyd reg en regverdig is. Mense kan nie sê dat dit sommer my eie idees is nie, want Ek wil nie my eie wil op mense afdwing nie. Nee, die besluite wat Ek neem, kom van God af; Hy het My gestuur om te kom sê presies wat Hy wil hê. “In ’n hof sou mense miskien kon sê dat hulle My nie sal glo as net Ek alleen al hierdie dinge sê nie. Ek is egter nie die enigste getuie in hierdie saak nie. Daar is ook ander en hulle praat die heilige waarheid. “Julle onthou mos nog die mense wat julle na Johannes die Doper toe gestuur het? Alles wat hy vir hulle oor My gesê het, is waar. Glo dit maar. “Ek het egter nie mense se getuienis nodig nie. Ek hoef Johannes nie eens as getuie te roep nie, want Ek het beter getuies as hy. Ek herinner julle egter net aan wat hy gesê het sodat dit julle kan help op julle pad na redding. Johannes kan met ’n lamp vergelyk word. Hy het gebrand en sy lig gegee. ’n Rukkie lank was dit vir julle lekker om in daardie lig te leef. “Ek het egter getuies wat baie belangriker is as Johannes. My eerste getuie is die wonderlike dinge wat Ek doen. My Vader het My spesiale dinge gegee om hier op aarde te kom doen. Dit is dus ’n goeie bewys daarvan dat die Vader My gestuur het. Die tweede getuie is die Vader. Hy het My gestuur. Julle het Hom nog nooit direk hoor praat nie. Net so min het julle Hom al ooit gesien. Julle weet ook nie wat Hy regtig sê nie en glo dit ook nie wanneer julle dit hoor nie. Dit alles sien ’n mens daaraan dat julle nie glo in die Een vir wie die Vader gestuur het nie. My derde getuie is die Skrif. Julle is oortuig dat julle in die Skrif die pad na die ewige lewe kan ontdek. Daarom lees en bestudeer julle die Skrif so ywerig. Maar julle kyk een ding mis. Hierdie selfde Skrif praat met oortuiging van My. Tog wil julle nie na My toe kom sodat Ek vir julle die ewige lewe kan gee nie. Ek gee nie om wat mense van My dink nie. Ek ken julle mos! Ek weet dat julle God nie regtig uit die hart uit liefhet nie. “Ek het gekom en is hier namens my Vader. Maar julle wil dit nie aanvaar nie. Julle draai julle rug vir My. Julle is egter gou om iemand anders te aanvaar wat geen gesag het nie en sommer op sy eie hier aankom. Dit laat my wonder: Hoe gaan julle ooit glo? Julle is heeltemal op die verkeerde pad. Julle wil so graag belangrik wees in mekaar se oë dat julle glad nie omgee wie of wat vir die enigste God belangrik is nie. “Julle tyd sal kom. Dan sal julle as beskuldigdes in die groot hofsaal voor God moet staan. Dit gaan nie eens vir My nodig wees om te sê wat julle alles verkeerd gedoen het nie. Moses gaan dit doen; ja, daardie einste Moses op wie julle al julle hoop so vestig. Julle wil My nie glo nie? Wel, Ek het nuus vir julle. Baie van die dinge wat Moses geskryf het, het hy oor My geskryf. Daarom, as julle verstaan en aanvaar wat Moses geskryf het, moet julle My ook verstaan en aanvaar. Eintlik is daar nie salf aan julle te smeer nie. As julle dan nie eens wil aanvaar wat Moses self geskryf het nie, watter hoop het Ek dat julle gaan luister na wat Ek vir julle te sê het?”

JOHANNES 5:18-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel. Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit my eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” “As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. Daar is Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, eg is. Julle het mense na Johannes toe gestuur en sy getuienis was die waarheid. Ek hou nie vas aan die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle verlos kan word. “Hý was die lamp wat gebrand en helder geskyn het, en julle was gewillig om julle vir ’n uur in sy lig te verbly. Ek beskik egter oor getuienis wat swaarder weeg as dié van Johannes. Die werk wat die Vader vir My gegee het om klaar te maak, dit is die werk waarmee Ek nou besig is; dit getuig ook oor My dat die Vader My gestuur het. Die Vader wat My gestuur het, dit is Hy wat oor My getuig het. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy persoon het julle ook nog nie gesien nie. En julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig. Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie. “Ek ontvang nie eer van mense af nie, maar Ek ken julle en weet dat julle nie die liefde vir God in julle koester nie. Ek het hiernatoe gekom in die Naam van my Vader, maar julle ontvang My nie. As iemand anders in sy eie naam sou kom, sal julle daardie persoon ontvang. Hoe kan julle in My glo terwyl julle onder mekaar eer ontvang, en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? Moenie dink dat dit Ek is wat julle aankla by die Vader nie. Dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat die aanklaer is. As julle Moses maar vertrou het, sou julle in My geglo het, want dit is oor Mý dat hy geskryf het. As julle egter nie glo in wat hy geskryf het nie, hoe sal julle ooit in my woorde glo?”