Johannes 21:7-17

Johannes 21:7-17 AFR20

Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. En toe hulle aan land kom, sien hulle daar 'n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei.