JOHANNES 21:7-17

JOHANNES 21:7-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. En toe hulle aan land kom, sien hulle daar 'n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: “Kom eet ontbyt!” Niemand van die dissipels het egter gewaag om Hom te vra, “Wie is U?” nie, want hulle het geweet dit is die Here. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en so ook die vis. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei.

JOHANNES 21:7-17 Bybel vir almal (ABA)

Die dissipel vir wie Jesus lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bo-kleed aangetrek, want hy het nie al sy klere aangehad nie. Hy het in die see gespring en na Jesus toe gegaan. Die ander dissipels het met die boot gekom en hulle het die visnet gesleep wat vol visse was. Dit was nie ver na die land nie, omtrent 200 el. Die dissipels het uit die boot geklim. Hulle sien toe 'n vuur op die strand, en daar was vis op die kole. Daar was ook brood. Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en hy het die visnet op die land getrek. Die visnet was vol groot visse, daar was 153 visse. Daar was baie visse in die net, maar die visnet het nie geskeur nie. Jesus het vir hulle gesê: “Kom eet julle oggend-ete!” Die dissipels wou nie reguit vir Hom vra wie Hy is nie, hulle het geweet dit is die Here. Jesus kom toe en Hy neem van die brood en gee dit vir hulle. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Dit was die derde maal dat Jesus aan die dissipels verskyn het nadat God Hom weer laat lewe het. Toe die dissipels klaar oggend-ete geëet het, sê Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My, meer as die ander dissipels?” Petrus het gesê: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy my skape laat wei, jy moet sorg vir my mense.” Jesus het die tweede maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?” Petrus sê vir Hom: “Ja, Here, U weet ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy 'n herder wees vir my mense.” Jesus het die derde maal vir Petrus gevra: “Simon, seun van Johannes, is jy lief vir My?” Petrus het baie hartseer geword omdat Jesus die derde maal vir hom gevra het of hy lief is vir Hom. Hy sê toe vir Jesus: “Here, U weet alles! U weet Ek is lief vir U!” Jesus sê toe vir hom: “Dan moet jy sorg vir my mense.

JOHANNES 21:7-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el. En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was. En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode. Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.

JOHANNES 21:7-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.” Nie een van die dissipels het sover gekom om vir Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het geweet dat dit die Here is. Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle, en net so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Jesus vra hom weer 'n tweede keer: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Pas my skape op.” Jesus vra hom die derde keer: “Simon seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Jesus hom die derde keer gevra het: “Het jy My lief?”, en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my skape wei.

JOHANNES 21:7-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom sê daardie dissipel vir wie Jesus liefgehad het vir Petrus: Dit is die Here. En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy visserskleed aan hom omgord, want hy was naak, en hom in die see gegooi. En die ander dissipels het in 'n klein skippie gekom; (want hulle was nie ver van die land af nie, maar soos 't ware twee honderd el–) en sleep die net met visse. Toe hulle aan land gekom het, het hulle daar 'n kole vuur gesien en vis daarop gelê en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het opgegaan en die net op die land getrek vol groot visse, honderd drie en vyftig; en daar was almal so baie, maar die net is nie gebreek nie. Jesus sê vir hulle: Kom eet. En nie een van die dissipels het dit gewaag om Hom te vra: Wie is U? met die wete dat dit die Here is. Jesus kom toe en neem brood en gee aan hulle, en ook vis. Dit is nou die derde keer dat Jesus Homself aan sy dissipels vertoon het, nadat Hy uit die dood opgestaan het. Toe hulle dan geëet het, sê Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My meer lief as hulle? Hy sê vir hom: Ja, Here! jy weet dat ek jou liefhet. Hy sê vir hom: Wei my lammers. Hy sê weer vir hom vir die tweede keer: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Hy sê vir hom: Ja, Here! jy weet dat ek jou liefhet. Hy sê vir hom: Laat my skape wei. Hy sê vir die derde keer vir hom: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus was bedroef omdat hy die derde keer vir hom gesê het: Het jy My lief? En hy sê vir hom: Here, U weet alles; jy weet dat ek jou liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.

JOHANNES 21:7-17 Die Boodskap (DB)

Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis. Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree. Toe hulle daar land, sien hulle dat daar alreeds ’n vuurtjie brand met vis wat daarop braai. En daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ’n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.” Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie. “Kom, eet ’n stukkie ontbyt,” nooi Jesus hulle uit. Nie een van hulle het die moed gehad om te vra: “Wie is U?” nie. Dit was ook nie nodig om te vra nie. Hulle het geweet dit is die Here. Jesus gee toe vir elkeen van hulle brood en ’n stukkie vis. Dit was die derde keer dat Jesus so aan sy getroue volgelinge verskyn het nadat Hy uit die dood opgestaan het. Na ete vra Jesus vir Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My liewer as wat hierdie ander My het?” “Ja, Here,” kom dit van Petrus. “U weet hoe toegewy en lojaal ek teenoor U is.” “Kyk dan asseblief na my lammers,” vra Jesus toe. ’n Tweede keer vra Jesus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here. U weet mos hoe lief ek U het,” sê Petrus weer. “Pas dan asseblief my skape soos ’n herder op,” vra Jesus. ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief? Kan Ek heeltemal op jou lojaliteit staatmaak?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus so aanhou. “Here,” sê hy toe, “U hoef nie eens te vra nie, want U weet alles; ook wat in my hart aangaan. U weet mos hoe lief ek vir U is.” “Sorg dan vir my skape,” sê Jesus. “Ek wil vir jou iets belangriks sê.

JOHANNES 21:7-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring. Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie. Jesus het hulle uitgenooi: “Kom kry ontbyt.” Nie een van sy dissipels het dit gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie. Hulle het net geweet dat dit die Here is. Jesus het nadergekom, die brood geneem en aan hulle uitgedeel, net so ook die vis. Dit was reeds die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy uit die dood opgewek is. Toe hulle klaar ontbyt geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hierdies?” Petrus sê vir Jesus: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my lammers.” Jesus vra hom toe ’n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet,” antwoord Petrus. Jesus sê vir hom: “Wees ’n herder vir my skape.” ’n Derde keer vra Jesus hom: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het hartseer geword omdat Jesus hom ’n derde keer gevra het: “Het jy My lief?” en hy antwoord Jesus: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Gaan versorg my skape.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid