Johannes 18:1-27

Johannes 18:1-27 AFR20

Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy saam met sy dissipels na die oorkant van die Kidrondal vertrek waar daar 'n tuin was. Hy en sy dissipels het toe daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het toe daar aangekom met die kohort soldate, en die tempelwagte van die leierpriesters en die •Fariseërs, met fakkels en lampe en wapens. Jesus het geweet van al die dinge wat met Hom sou gebeur, en het uitgegaan en vir hulle gevra: “Wie soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Jesus, die Nasarener.” Hy sê toe vir hulle: “Ek Is Hy.” Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Hy vir hulle sê, “Ek Is Hy,” het die soldate teruggedeins en op die grond neergeval. Hy het weer vir hulle gevra: “Wie soek julle?” En hulle sê: “Jesus, die Nasarener.” Jesus het geantwoord: “Ek het vir julle gesê, Ek Is Hy. As julle dan na My soek, laat hierdie mense gaan.” Sodoende sou die woorde wat Hy gesê het, vervul word: “Hulle wat U aan My gegee het, van hulle het Ek nie een verlore laat gaan nie.” Simon •Petrus het toe 'n swaard wat hy gedra het, getrek en na die hoëpriester se slaaf geslaan en sy regteroor afgekap. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: “Steek die swaard terug in sy skede. Die beker wat die Vader My gegee het – sal Ek dit dan nie drink nie? ” Toe het die kohort soldate en die chiliarg en die tempelwagte van die Jode Jesus gevange geneem en Hom geboei. En hulle het Hom eerste na Annas geneem. Hy was die skoonvader van Kajafas, wat daardie jaar die hoëpriester was. Dit was Kajafas wat die raad aan die Jode gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterf. Simon •Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie dissipel was aan die hoëpriester bekend, en hy het saam met Jesus by die hoëpriester se voorhof ingegaan. Petrus het egter buite by die deur bly staan. Toe het die ander dissipel, die een wat aan die hoëpriester bekend was, uitgestap en met die deurwag gaan praat, en Petrus na binne gebring. Die diensmeisie wat die deurwag was, sê toe vir Petrus: “Is jy nie ook een van hierdie man se dissipels nie?” Hy antwoord: “Ek is nie!” Die slawe en die tempelwagte het hulle gestaan en warm maak by 'n koolvuur wat hulle gemaak het, omdat dit koud was. Ook Petrus het hom daar by hulle gestaan en warm maak. Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en sy lering. Jesus antwoord hom toe: “Ek het openlik met die wêreld gepraat. Ek het altyd in die •sinagoge en op die tempelterrein, waar al die Jode saamkom, onderrig gegee, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dit sê, het een van die tempelwagte wat daar naby gestaan het, Hom 'n klap gegee en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek iets verkeerds gesê het, bring dan getuienis dat dit verkeerd is; maar as Ek reg is, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboeid na die hoëpriester Kajafas weggestuur. Simon •Petrus het hom nog daar staan en warm maak. Hulle sê toe vir hom: “Is jy nie ook een van sy dissipels nie?” Petrus het dit ontken en gesê: “Ek is nie!” Een van die hoëpriester se slawe, 'n familielid van die een wie se oor Petrus afgekap het, het gesê: “Ek het jou mos in die tuin by hom gesien, dan nie?” Petrus het dit weer ontken. En onmiddellik het 'n haan gekraai.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Johannes 18:1-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid