JOHANNES 18:1-27

JOHANNES 18:1-27 NLV

Nadat Jesus dit gesê het, het Hy saam met sy dissipels die Kedronspruit oorgesteek. Aan die oorkant was daar ’n tuin geleë. Hy en sy dissipels het die tuin toe binnegegaan. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook die plek geken omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar bymekaargekom het. Judas het op daardie oomblik die afdeling soldate en die wagte van die priesterhoofde en Fariseërs begelei en by die Olyftuin aangekom met lanterns, fakkels en wapens. Jesus was egter deeglik bewus van alles wat oor Hom sou kom en het op sy eie uit die groep na vore beweeg en vir hulle gesê: “Wie soek julle eintlik?” Hulle het Hom geantwoord: “Jesus van Nasaret.” “Dit is Ek,” antwoord Jesus. Judas, die een wat Hom sou uitlewer, het ook daar tussen hulle rondgestaan. En toe Jesus vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle almal padgegee en op die grond neergeval. Jesus het sy vraag aan hulle herhaal: “Wie soek julle eintlik?” “Jesus van Nasaret,” was hulle antwoord. Jesus se reaksie was: “Ek het dan vir julle gesê dat dit Ek is. As julle Mý dan soek, laat hierdie mense wat saam met My is, weggaan.” Sodoende het die woord wat Hy vroeër uitgespreek het, waar geword: “Uit die mense wat U aan My toevertrou het, het niemand verlore gegaan nie.” Simon Petrus het ’n swaard by hom gedra. Hy trek toe sy swaard uit die skede, slaan daarmee na die slaaf van die hoofpriester, en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Jesus sê toe dadelik vir Petrus: “Sit die swaard terug in sy skede. Sal Ek dan nie die beker drink wat die Vader aan My gegee het nie?” Toe het die afdeling soldate en die bevelvoerder en die wagte van die Joodse owerhede Jesus gearresteer en Hom geboei. Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas wat gedurende daardie jaar die hoofpriester was. Dit was Kajafas wat die Jode met die raad bedien het dat dit voordeliger is dat een man vir die volk sterf. Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg. Daardie ander dissipel was bevriend met die hoofpriester en het saam met Jesus die hoofpriester se binnehof ingegaan. Petrus het egter buite by die hek bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat bevriend was met die hoofpriester, uitgegaan, met die meisie wat diens doen by die deur gepraat en Petrus ingebring. Die meisie sê toe vir Petrus: “Is jy nie tog ook een van die dissipels van hierdie man nie?” “Ek is nie!” antwoord Petrus. Die slawe en die wagte het hulle rondom ’n vuur staan en warm maak, omdat dit koud was. Petrus het saam met hulle hom daar staan en warm maak. Die hoofpriester het Jesus uitgevra oor sy dissipels en oor sy onderrig aan die mense. Jesus het hom geantwoord: “Ek het tot nou toe openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die sinagoge en in die tempel onderrig gegee, waar al die Jode saamgekom het, en Ek het niks in die geheim gesê nie. Waarom ondervra u My? Vra liewer dié mense wat gehoor het wat Ek aan hulle gesê het. Hulle weet wat Ek gesê het.” Toe Jesus dié antwoord gegee het, het een van die wagte wat daar rondgestaan het, Jesus ’n vuishou gegee en gesê: “Is dit hoe jy die hoofpriester antwoord?” Jesus het hom geantwoord: “As Ek kwaadwillig gepraat het, sê dan wat so kwaadwillig was; maar as dit met goeie bedoelings was, waarom slaan jy My?” Annas het Hom toe geboei na Kajafas, die hoofpriester, gestuur. Simon Petrus was nog besig om hom te staan en warm maak toe iemand vir hom sê: “Is jy nie tog ook een van sy dissipels nie?” Hy het dit heftig ontken en gesê: “Nee, ek is nie!” Een van die hoofpriester se slawe, verwant aan dié een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou nie ook in die tuin saam met hom gesien nie?” Petrus het dit weer ’n keer heftig ontken en onmiddellik het die haan gekraai.

Gratis leesplanne en oordenkings oor JOHANNES 18:1-27

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid