Johannes 17:9-19

Johannes 17:9-19 AFR20

“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir hulle wat U aan My gegee het, omdat hulle aan U behoort. En alles wat myne is, behoort aan U, en wat aan U behoort, is myne, en in hulle is Ek verheerlik. Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is nog in die wêreld, en Ek kom na U. Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees. Toe Ek by hulle was, het Ek hulle wat U aan My gegee het, in u Naam bewaar. Ek het hulle ook beskerm; en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word. Maar nou kom Ek na U. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek in die wêreld is, sodat hulle my blydskap volkome in hulle kan hê. Ek het aan hulle u woorde gegee; maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle deur die waarheid – u woorde is die waarheid. Net soos U My in die wêreld ingestuur het, so het Ek ook hulle in die wêreld ingestuur. En ter wille van hulle heilig Ek Myself, sodat hulle ook deur die waarheid geheilig kan wees.