JOHANNES 17:9-19

JOHANNES 17:9-19 Bybel vir almal (ABA)

“Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, Ek bid nie vir die mense van die wêreld nie. Ja, Ek bid vir die mense wat U vir My gegee het, want hulle behoort aan U. Alles en almal wat aan My behoort, behoort ook aan U. Alles en almal wat aan U behoort, behoort ook aan My. Hulle wys dat Ek God is. Ek sal nie meer lank op die aarde wees nie, maar hulle sal op die aarde wees, en Ek kom na U toe. “ Heilige Vader, U het u Naam vir My gegee. Daarom vra Ek dat U hulle moet beskerm met u Naam. Dan kan hulle saamwerk soos Ek en U saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek u Naam gebruik om hulle te beskerm, die Naam wat U vir My gegee het. Ek het hulle opgepas en hulle het nie verlore gegaan nie. Net een van hulle het verlore gegaan, en hy móés verlore gaan. So het dit waar geword wat in die Ou Testament geskryf is. Nou gaan Ek na U toe. Ek bid al hierdie dinge terwyl Ek nog op die aarde is, want Ek wil die mense bly maak wat U vir My gegee het. Ek wil hulle regtig baie bly maak. “Ek het vir hulle vertel wat U vir My gesê het, en die mense van die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie. Ek behoort ook nie aan die wêreld nie. Ek vra nie dat U hulle moet wegneem uit die wêreld nie. Ek vra dat U hulle moet beskerm teen die duiwel. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. “Wat U sê, is die waarheid. Gebruik die waarheid om hulle aan U te wy. U het My na die mense van die wêreld gestuur. So het Ek die mense wat U vir My gegee het, ook na die mense van die wêreld gestuur. Ek wy Myself aan U, Ek word 'n offer sodat die mense kan lewe wat U vir My gegee het. Dan kan U die waarheid gebruik om hulle aan U te wy.

JOHANNES 17:9-19 Die Boodskap (DB)

“Ek bid vir hulle! Ek bid vir elkeen wat U vir My gegee het om na te kyk. Hulle behoort immers aan U. Oor hulle wil Ek nou met U praat en nie oor al die ander mense in die wêreld nie. Ons is mos soos een groot familie. Hulle lê My net so na aan die hart as vir U en U gee net soveel om vir hulle as Ek. Hulle sal vir mense vertel hoe belangrik Ek is. Ek gaan mos nou nie meer langer fisiek hier op die aarde bly nie. Ek is op pad terug na U toe, maar hulle gaan fisiek hier op die aarde agterbly. Vader, daar is niemand soos U nie. Daarom vra Ek U, kyk asseblief na hierdie mense wat Ek tot nou toe versorg het. U het die gesag om hulle te beskerm. Die gevolg sal wees dat hulle soos een man sal saamwerk, net soos U en Ek saamwerk. Toe Ek by hulle was, het Ek mooi gekyk na die mense wat U aan My gegee het om na te kyk. Ek het hulle soos goud opgepas. Nie een van hulle het die spoor byster geraak nie. (Ek praat natuurlik nie van Judas wat hand om die lyf met Satan loop nie. Dat hy sou afdwaal, het die Skrif lankal gesê.) Ek is nou op pad terug na U toe. Daarom gesels Ek met my volgelinge oor al hierdie dinge terwyl Ek nog by hulle is. Dan kan hulle saam met My bly wees oor alles wat gebeur. Ek het hulle alles vertel wat U wou gehad het hulle moet weet. Die ongelowige mense hou natuurlik niks van hulle nie. Gelowiges is mos nie soos ongelowiges nie. Hulle is anders as die sondige mense van hierdie wêreld, net soos Ek anders is. Ek vra nie dat U hulle van die sondige mense af weghou nie. Net so min as wat Ek my wil ophou met die dinge van die sondige mense, sal hulle dit wil doen. Hulle is nie soos die sondige mense nie. Wat Ek wel vra, is dat U hulle uit die grypende kloue van die duiwel en al sy boosheid sal hou. Laat hulle besef dat hulle spesiaal aan U behoort omdat hulle in niks anders as die waarheid belangstel nie. “Hulle weet wat die waarheid is, want hulle ken u boodskap. Daarom stuur Ek hulle na die sondige mense in die wêreld toe met daardie boodskap. “Ek stuur hulle met dieselfde doel en opdrag as waarmee U My gestuur het. Ek wy My nou geheel en al aan U toe sodat hulle daarby kan baat vind. Hulle sal dan ook geheel en al aan U toegewy wees omdat hulle hulle bes probeer vir wat waar en eg is.”

JOHANNES 17:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek tree vir hulle in. Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir dié mense wat U aan My gegee het omdat hulle U s’n is. Alles wat Myne is, is ook U s’n, en wat U s’n is, behoort ook aan My, en Ek is deur hulle verheerlik. Ek is nie langer in hierdie wêreld nie, maar hulle is nog in hierdie wêreld. Ek is op pad na U toe. Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam wat U aan My gegee het sodat hulle net soos Ons een kan wees. Toe Ek nog by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar; dit is die Naam wat U aan My gegee het. Ek het hulle ook beskerm en niemand van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die één wat vir vernietiging bestem is, sodat die Skrif vervul sou word. “Ek is nou na U toe op pad. Ek sê hierdie dinge terwyl Ek nog in die wêreld is sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulleself kan ondervind. Ek het u boodskap aan hulle oorgedra, maar die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie aan die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Ek vra nie dat U hulle uit die wêreld verwyder nie, maar dat U hulle van die kwaad moet bewaar. Hulle behoort nie aan die wêreld nie, net soos Ek ook nie aan die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid. U woord is die waarheid. Net soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur. En ter wille van hulle wy Ek Myself aan U toe sodat hulle ook deur ’n hegte verbintenis aan die waarheid aan U toegewy kan wees.