Johannes 14:6-31

Johannes 14:6-31 AFR20

Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My leer ken het, sal julle ook my Vader ken. En van nou af ken julle Hom, en het Hom reeds gesien.” Filippus sê toe vir Hom: “Here, wys ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Jesus sê vir hom: “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien. Waarom sê jy dan, ‘Wys ons die Vader?’ Glo jy dan nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen. Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is; of glo dan op grond van die werke self. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie in My glo, hy sal ook die werke doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader gaan. En wat julle in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik mag word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” “ As julle My liefhet, sal julle my gebooie onderhou. En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle 'n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie sien nie en ook nie ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog 'n kort tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek leef en julle sal leef. Op daardie dag sal julle weet: Ek is in my Vader, en julle in My en Ek in julle. Wie my gebooie het en dit onderhou, hy is die een wat My liefhet. En wie My liefhet, my Vader sal hom liefhê, en Ek sal hom liefhê en Myself aan hom bekend maak.” Judas, nie Judas Iskariot nie, vra Hom toe: “Here, hoe is dit dat U Uself aan ons gaan bekend maak en nie aan die wêreld nie? ” Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My egter nie liefhet nie, neem nie my woorde ter harte nie. Die woorde wat julle hoor, is nie myne nie, maar dié van die Vader wat My gestuur het. “Dit het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle gebly het. Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader gaan, omdat die Vader groter as Ek is. En nou het Ek dit vir julle gesê voordat dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo. Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die heerser van die wêreld is aan die kom, en hy het nie mag oor My nie. Maar sodat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen soos wat die Vader aan My opgedra het, staan op, laat ons hiervandaan weggaan! ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid