“Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie nie by die hek van die kraal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim – daardie man is 'n dief en 'n rower. Maar hy wat by die hek ingaan, is 'n herder van die skape; vir hom maak die hekwagter oop, en die skape luister na sy stem. Hy roep sy eie skape op hulle naam en lei hulle uit. Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van vreemdes nie ken nie.” Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel, maar hulle het nie begryp wat Hy vir hulle sê nie.
Jesus het toe weer gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Ek is die deur vir die skape. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; die skape het egter nie na hulle geluister nie. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 'n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. Die huurarbeider, wat nie 'n herder is nie, en aan wie die skape nie behoort nie, sien die wolf kom, los die skape en vlug – en die wolf vang en verjaag hulle – omdat die man 'n huurarbeider is en nie vir die skape omgee nie. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie, en my eie ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken. En Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het ook ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Hulle moet Ek ook lei, en hulle sal na my stem luister, en daar sal een kudde wees, en een herder. Om hierdie rede het die Vader My lief – omdat Ek my lewe aflê, sodat Ek dit weer kan opneem. Niemand neem dit van My weg nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het volmag om dit af te lê, en Ek het volmag om dit weer op te neem. Hierdie opdrag het Ek van my Vader ontvang. ”
Oor hierdie woorde het daar toe weer verdeeldheid onder die Jode ontstaan.