Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom 'n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’ Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.” En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos 'n duif, en Hy het op Hom gebly. Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God.’ ”
Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan. Toe Jesus verbyloop, het hy stip na Jesus gekyk en gesê: “Kyk, die Lam van God!” Die twee dissipels het hom dit hoor sê, en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omdraai en hulle Hom sien volg, vra Hy hulle: “Wat wil julle hê?” En hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – wat, as dit vertaal word, beteken, ‘Meester’, “waar bly U?” Hy sê toe vir hulle: “Kom kyk!” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuisgaan, en hulle het dié dag by Hom gebly. Dit was omstreeks die tiende uur.
Andreas, die broer van Simon •Petrus, was een van die twee wat gehoor het wat Johannes sê, en Jesus gevolg het. Hy het sy broer Simon eerste teëgekom en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” – dit is, as dit vertaal word, Christus. Hy het hom na Jesus geneem. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon, die seun van Johannes. Jy sal ‘Sefas’ genoem word,” wat vertaal word Petrus.
Die volgende dag het Jesus besluit om na Galilea te gaan, en toe Hy Filippus teëkom, sê Hy vir hom: “Volg My!” Filippus was afkomstig van Betsaida, die tuisdorp van Andreas en Petrus. Filippus loop toe vir Natanael raak en sê vir hom: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die Wet geskryf het, en ook die Profete – Jesus wat van Nasaret kom, die seun van Josef.” En Natanael vra hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Filippus sê vir hom: “Kom kyk!” Jesus het Natanael na Hom sien aankom, en sê toe van hom: “Kyk, hy is waarlik 'n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.” Natanael vra Hom: “Waarvandaan ken U my?” Jesus het hom geantwoord: “Nog voordat Filippus jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” Toe antwoord Natanael Hom: “Rabbi, U is die •Seun van God; U is die Koning van Israel!” Jesus antwoord hom: “Glo jy omdat Ek jou gesê het dat Ek jou onder die vyeboom gesien het? Jy sal nog groter dinge sien.” En Hy sê vir hom: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Julle sal die hemel oop sien en die engele van God wat opstyg en neerdaal op die •Seun van die Mens.”