Jeremia 9:3-26

Jeremia 9:3-26 AFR20

Hulle span hulle tong soos 'n boog; met leuens, en nie met betroubaarheid nie, word hulle helde in die land. Ja, van boosheid na boosheid gaan hulle voort, en My ken hulle nie,” is die uitspraak van die HERE. “Wees op julle hoede, elkeen vir sy vriend! Moenie enige broer vertrou nie; want elke broer is 'n bedrieër, en elke vriend gaan rond as 'n kwaadstoker. Elkeen verkul sy vriend; die waarheid praat hulle nie. Hulle rig hulle tonge af om leuens te praat. Hulle dwaal; hulle is nie in staat om terug te keer nie. Verdrukking volg op verdrukking, bedrog volg op bedrog; hulle weier om My te erken,” is die uitspraak van die HERE. Daarom, so sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan hulle smelt en toets. Want wat anders kan Ek doen oor die dogter van my volk? Dodelike pyle is hulle tonge – dit uiter bedrog. Met sy mond praat iemand vrede met sy vriend, maar in sy binneste stel hy vir hom 'n hinderlaag. Sou Ek daaroor nie van hulle rekenskap eis nie?” is die uitspraak van die HERE. “Of sou Ek My nie wreek op 'n nasie soos hierdie nie?” Oor die berge sal Ek 'n geween, 'n treurlied aanhef, en oor die weivelde in die woestyn 'n klaaglied; want dit lê verskroei, sodat niemand daardeur trek nie, en die geluid van vee nie meer gehoor word nie. Die voëls in die lug, sowel as die diere, het gevlug, hulle het padgegee. “Ek gaan van Jerusalem klipstapels maak, 'n lêplek vir jakkalse; en die dorpe van Juda gaan Ek 'n woesteny maak, sonder inwoners.” Wie is die mens wat wys genoeg is om dit te verstaan, iemand met wie die mond van die HERE gepraat het, sodat hy dit kan verduidelik? Waarom het die land ten gronde gegaan, lê dit verwoes soos 'n woestyn, sonder dat iemand daardeur trek? Die HERE het geantwoord: “Omdat hulle my wet verlaat het wat Ek aan hulle voorgehou het, hulle nie na my stem geluister en my wet nie gevolg het nie, maar agter die verstoktheid van hulle eie harte en agter die Baäls aangeloop het, soos hulle voorouers hulle geleer het.” Daarom, so sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Kyk, Ek laat hierdie volk wildeals eet en giftige water drink. Ek sal hulle verstrooi onder nasies wat hulle en hulle voorouers nie geken het nie, en Ek stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle vernietig het.” So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Wees verstandig en roep die klaagvroue, sodat hulle kom. Ontbied die kundige vroue, sodat hulle kom.” Hulle moet gou maak en oor ons 'n treurlied aanhef, sodat ons oë van trane vloei, en ons ooglede stroom van water; want die geluid van treursang word uit Sion gehoor: “Hoe is ons verwoes! Ons staan diep beskaamd, want ons moes die land verlaat, omdat hulle ons woonplekke platgeslaan het.” Ja, vroue, luister na die woord van die HERE, en laat julle ore die woorde van sy mond inneem. Leer julle dogters 'n treurlied, vir mekaar 'n klaaglied: “Ja, die dood het deur ons vensters geklim; dit het ons vestings binnegedring deur kleuters wat in die strate en jong manne wat op die dorpspleine was, uit te roei.” “Sê, ‘Die volgende is 'n uitspraak van die HERE: “Die lyke van mense sal soos mis op die oop veld lê, en soos gesnyde graan agter die snyer, sonder dat iemand dit bymekaarmaak.” ’ ” So sê die HERE: “'n Wyse moet hom nie op sy wysheid beroem nie, 'n magtige moet hom nie op sy krag beroem nie, en 'n ryke moet hom nie op sy rykdom beroem nie. Slegs hierop moet die een wat wil roem, hom beroem: dat hy insig het en My ken, naamlik dat Ek die HERE is wat troue liefde, reg en geregtigheid handhaaf op aarde; want daarin vind Ek vreugde.” Dit is die uitspraak van die HERE. “Kyk, daar kom dae,” is die uitspraak van die HERE, “wanneer Ek rekenskap sal eis van almal wat aan die voorhuid besny is – van Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete, en Moabiete, van al die woestynbewoners wat hulle slape skoonskeer. Want al dié nasies is eintlik onbesnede; maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.”