Jeremia 51:54-64

Jeremia 51:54-64 AFR20

Daar klink 'n hulpgeroep op uit Babel, die geluid van totale ineenstorting uit die land van die Galdeërs. Want die HERE gaan Babel verwoes, en die groot rumoer uit haar laat verdwyn. Die vyande se golwe sal dreun soos magtige waters, die geluid van hulle gedruis sal weergalm. Ja, teen haar, teen Babel, trek 'n verwoester op. Haar helde word gevange geneem, hulle boë word stukkend gebreek; want 'n God van vergelding is die HERE – Hy sal ten volle vergeld. “Ek maak haar bevelvoerders, haar wyses, haar streekgoewerneurs, haar landvoogde en haar helde dronk. Hulle sal 'n ewige slaap ingaan en nie weer wakker word nie,” is die uitspraak van die Koning. Die HERE, Heerser oor alle magte, is sy Naam. So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Die dik stadsmuur van Babel sal heeltemal afgebreek word; haar hoë poorte sal afgebrand word. Volke het hulle vermoei vir niks, en nasies vir die vuur; hulle het hulle afgesloof.” Dit is die saak wat die profeet Jeremia aan Seraja, seun van Nerija, seun van Magseja, opgedra het, toe hy saam met Sedekia, koning van Juda, in die vierde jaar van sy koningskap, na Babel gegaan het. Seraja was kwartiermeester. Jeremia het al die onheil wat Babel sou tref, al hierdie woorde wat oor Babel geskryf is, in een •boekrol neergeskryf. Jeremia het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy sorg dat jy al hierdie woorde hardop lees en sê, ‘HERE, U het self oor hierdie plek gesê dat U dit sal vernietig, sodat daar nie meer inwoners sal wees nie, nie mens of dier nie, maar dat dit vir altyd 'n woesteny sal wees.’ Wanneer jy hierdie boekrol dan klaar gelees het, moet jy 'n klip daaraan vasmaak, dit in die middel van die Eufraat gooi en sê, ‘Só sal Babel sink en nie weer opkom nie, vanweë die onheil wat Ek oor haar bring.’ ”