Jeremia 41:1-9

Jeremia 41:1-9 AFR20

In die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie en hoofamptenare van die koning, met tien manne saam met hom, by Gedalja, seun van Agikam, in Mispa aangekom. Terwyl hulle daar in Mispa saam geëet het, het Ismael, seun van Netanja, en die tien manne wat by hom was, opgestaan en Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, met die swaard neergevel en hom doodgemaak – hy wat deur die koning van Babilonië in die land aangestel is. Ook al die Judeërs wat by hom, Gedalja, in Mispa was, en die Galdeërs wat hulle daar bevind het, die krygsmanne, is deur Ismael neergevel. Die tweede dag ná die moord op Gedalja, terwyl niemand dit nog geweet het nie, het daar tagtig manne uit Sigem, Silo en Samaria aangekom wat hulle baarde afgeskeer, hulle klere geskeur en hulleself stukkend gekerf het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad met die doel om dit na die huis van die HERE te neem. Ismael, seun van Netanja, het hulle al huilend uit Mispa tegemoetgegaan. Toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom in na Gedalja, seun van Agikam!” Maar net toe hulle in die middel van die dorp kom, het Ismael, seun van Netanja, hulle vermoor en hulle in 'n opgaarput gegooi, hy en die manne by hom. Maar tien van die manne onder hulle het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, want ons het weggesteekte voorrade in die veld – koring, gars, olyfolie en heuning.” Toe het hy daarvan afgesien, en hulle nie saam met hulle volksgenote doodgemaak nie. Die opgaarput waarin Ismael al die lyke van die manne wat hy langs Gedalja neergevel het, gegooi het – dit was die opgaarput wat koning Asa gemaak het weens die bedreiging van Baesa, koning van Israel. Ismael, seun van Netanja, het dit met die gesneuweldes volgemaak.