JEREMIA 41:1-9

JEREMIA 41:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Ismael was familie van die konings van Juda en hy was een van hulle belangrike amptenare. Hy en tien manne het in die sewende maand na Gedalja toe gekom in die stad Mispa. Toe hulle een dag daar in Mispa saam geëet het, het Ismael en die tien manne by hom opgestaan en hulle het vir Gedalja met swaarde gekap en doodgemaak. Gedalja was die man vir wie die koning van Babel gekies en aangestel het om oor die land te regeer. Ismael het ook al die Judeërs doodgemaak wat by Gedalja was, en al die soldate van die Galdeërs wat daar was. Op die tweede dag daarna het daar mans uit die stede Sigem, Silo en Samaria in Mispa aangekom. Dit was 80 mans. Niemand buite die stad het toe geweet dat Ismael vir Gedalja vermoor het nie. Die mans het hulle baarde afgeskeer en hulle klere geskeur en hulleself stukkend gesny. Hulle het koring-offers en wierook by hulle gehad, hulle wou dit na die tempel van die Here bring. Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet. Toe hy by hulle kom, het hy gehuil en vir hulle gesê: “Kom na Gedalja toe.” Maar toe hulle in die stad kom, het Ismael en die manne by hom begin om daardie mans dood te maak en hulle het die lyke van die mans in 'n gat gegooi. Tien van die mans het vir Ismael gesê: “Jy moet ons nie doodmaak nie, want ons het baie koring, gars, olyf-olie en heuning in die veld weggesteek.” Ismael het toe nie die tien mans doodgemaak saam met die ander mans nie. Ismael het al die lyke van die mans wat hy doodgemaak het, in 'n gat gegooi. Dit was die groot watergat wat koning Asa laat grawe het toe koning Baesa van Israel oorlog gemaak het teen hom. Ismael het die gat volgemaak met die lyke.

JEREMIA 41:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisáma, uit die koninklike geslag en uit die owerstes van die koning, en tien man saam met hom by Gedálja, die seun van Ahíkam, gekom in Mispa; en hulle het daar saam brood geëet, in Mispa. Toe het Ismael, die seun van Netánja, opgestaan en die tien manne wat by hom was, en hulle het Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, met die swaard verslaan. So het hy hom dan gedood wat die koning van Babel oor die land aangestel het. Ook het Ismael al die Jode verslaan wat by hom, by Gedálja, in Mispa was, en die Chaldeërs, die krygsmanne, wat daar te vinde was. En op die tweede dag, nadat hy Gedálja gedood het, sonder dat dit nog bekend was, kom daar manne van Sigem, van Silo en van Samaría, tagtig man, met afgeskeerde baard en geskeurde klere, wat hulleself stukkend gekerwe het; en spysoffer en wierook was in hulle hand om dit na die huis van die HERE te bring. Daarop gaan Ismael, die seun van Netánja, hulle tegemoet uit Mispa, terwyl hy aldeur loop en huil; en toe hy hulle teëkom, sê hy vir hulle: Kom na Gedálja, die seun van Ahíkam! Maar toe hulle binne-in die stad kom, het Ismael, die seun van Netánja, hulle gedood en in die put gegooi, hy en die manne wat by hom was. Maar onder hulle was daar tien man wat vir Ismael gesê het: Maak ons nie dood nie, want ons het verborge voorrade in die veld: koring en gars en olie en heuning. Toe het hy daarvan afgesien en hulle nie saam met hulle broers gedood nie. En die put waar Ismael al die lyke van die manne wat deur hom verslaan is, langs Gedálja ingegooi het, was dié wat koning Asa gemaak het tot verdediging teen Baésa, die koning van Israel — dié het Ismael, die seun van Netánja, vol gemaak met die wat verslaan was.

JEREMIA 41:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ismael seun van Netanja, seun van Elisama, was uit die koninklike geslag en was een van die hoofamptenare van koning Sedekia. Hy en tien man het in die sewende maand na Gedalja seun van Agikam toe gekom in Mispa, en terwyl hulle daar saam geëet het, het Ismael seun van Netanja en die tien man wat by hom was, opgespring en vir Gedalja seun van Agikam, seun van Safan, doodgemaak. Gedalja was die man wat deur die koning van Babel in bevel van die land geplaas is. Ismael het ook al die Judeërs wat by Gedalja in Mispa was en die Galdese soldate wat daar was, doodgemaak. Die dag ná die moord op Gedalja, toe niemand nog daarvan wis nie, kom daar tagtig mans uit Sigem, Silo en Samaria aan. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere geskeur en hulle was vol wonde wat hulle hulleself toegedien het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad wat hulle na die huis van die Here toe wou bring. Ismael seun van Netanja het hulle huil-huil uit Mispa tegemoet gegaan, en toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom saam na Gedalja seun van Agikam toe!” Maar toe hulle binne in die stad is, het Ismael seun van Netanja, hy en die manne wat by hom was, sewentig van die mans doodgemaak en in 'n put gegooi. Die ander tien mans het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, ons het koring en gars en olie en heuning wat in die veld weggesteek is!” Hy het hulle toe laat staan en hulle nie saam met hulle vriende doodgemaak nie. Die put waarin Ismael die lyke gegooi het van die mans wat hy doodgemaak het, was dié een wat deur koning Asa gegrawe is toe hy deur koning Baesa van Israel beleër is. Ismael seun van Netanja het die put vol lyke gemaak.

JEREMIA 41:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die sewende maand het Ismael, seun van Netanja, seun van Elisama, verwant aan die koninklike familie en hoofamptenare van die koning, met tien manne saam met hom, by Gedalja, seun van Agikam, in Mispa aangekom. Terwyl hulle daar in Mispa saam geëet het, het Ismael, seun van Netanja, en die tien manne wat by hom was, opgestaan en Gedalja, seun van Agikam, seun van Safan, met die swaard neergevel en hom doodgemaak – hy wat deur die koning van Babilonië in die land aangestel is. Ook al die Judeërs wat by hom, Gedalja, in Mispa was, en die Galdeërs wat hulle daar bevind het, die krygsmanne, is deur Ismael neergevel. Die tweede dag ná die moord op Gedalja, terwyl niemand dit nog geweet het nie, het daar tagtig manne uit Sigem, Silo en Samaria aangekom wat hulle baarde afgeskeer, hulle klere geskeur en hulleself stukkend gekerf het. Hulle het graanoffers en wierook by hulle gehad met die doel om dit na die huis van die HERE te neem. Ismael, seun van Netanja, het hulle al huilend uit Mispa tegemoetgegaan. Toe hy by hulle kom, sê hy vir hulle: “Kom in na Gedalja, seun van Agikam!” Maar net toe hulle in die middel van die dorp kom, het Ismael, seun van Netanja, hulle vermoor en hulle in 'n opgaarput gegooi, hy en die manne by hom. Maar tien van die manne onder hulle het vir Ismael gesê: “Moet ons nie doodmaak nie, want ons het weggesteekte voorrade in die veld – koring, gars, olyfolie en heuning.” Toe het hy daarvan afgesien, en hulle nie saam met hulle volksgenote doodgemaak nie. Die opgaarput waarin Ismael al die lyke van die manne wat hy langs Gedalja neergevel het, gegooi het – dit was die opgaarput wat koning Asa gemaak het weens die bedreiging van Baesa, koning van Israel. Ismael, seun van Netanja, het dit met die gesneuweldes volgemaak.

JEREMIA 41:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die sewende maand het Ismael, die seun van Netánja, die seun van Elisama, uit die koninklike geslag, en die vorste van die koning, tien man saam met hom, by Gedalja, die seun van Ahikam, in Mispa aangekom; en daar het hulle saam brood geëet in Mispa. Toe het Ismael, die seun van Netánja, en die tien manne wat by hom was, opgestaan en Gedalja, die seun van Ahikam, die seun van Safan, met die swaard verslaan en hom gedood wat die koning van Babel as goewerneur oor die land aangestel het. Ismael het ook al die Jode wat by hom was, saam met Gedalja, in Mispa gedood, en die Chaldeërs wat daar gevind is, en die krygsmanne. En die tweede dag nadat hy Gedalja doodgemaak het, het niemand dit geweet nie, dat daar sommige uit Sigem, uit Silo en uit Samaria gekom het, tagtig man, met hulle baarde geskeer en hulle klere geskeur en hulleself gesny, met offers en reukwerk in hulle hand, om hulle na die huis van die HERE te bring. En Ismael, die seun van Netánja, het uit Mispa uitgegaan om hulle te ontmoet, terwyl hy al die tyd geween het; en terwyl hy hulle ontmoet, sê hy vir hulle: Kom na Gedalja, die seun van Ahikam. En toe hulle in die middel van die stad kom, het Ismael, die seun van Netánja, hulle gedood en hulle in die middel van die kuil gegooi, hy en die manne wat by hom was. Maar daar is tien mans gevind onder die wat vir Ismael gesê het: Moenie ons doodmaak nie, want ons het skatte in die veld: koring en gars en olie en heuning. En hy het dit verlaat en hulle nie onder hulle broers gedood nie. En die put waarin Ismael al die lyke van die manne gegooi het wat hy ter wille van Gedalja doodgemaak het, was dit wat koning Asa gemaak het uit vrees vir Baesa, die koning van Israel; en Ismael, die seun van Netanja, het dit gevul met die vermoor is.

JEREMIA 41:1-9 Die Boodskap (DB)

In die middel van die herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy het uit die koninklike familie gekom en was een van die koning se offisiere. Gedalja het hulle vir ete genooi. Terwyl hulle nog so by die tafel sit, het Ismael en sy tien manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Hy het ook al die Jode doodgemaak wat daar by Gedalja was. Ismael het ook die Babiloniese soldate vermoor wat by Gedalja in Mispa was. Die volgende dag, nog voordat enigiemand iets van Gedalja se moord gehoor het, het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria in die Mispa-omgewing aangekom. Elkeen se baard was afgeskeer en hulle klere in repies geskeur. Hulle het ook snye aan hulle lywe gehad. Dit was duidelik dat hulle besig was om te rou. Hulle was op pad na die Here se tempel toe. Hulle wou daar vir Hom graanoffers bring en ook wierook brand. Ismael het uit Mispa uitgegaan om hulle te ontmoet. Hy was droewig aan die huil. Toe hy by hulle kom, het hy gesê: “Kom eers na Gedalja toe voordat julle verder gaan.” Toe hulle in die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 mense doodgemaak. Hy het die lyke in ’n put gegooi. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle sou vir hom die koring, gars, olie en heuning gee wat hulle in die veld opgegaar het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ook ’n groot put gegrawe om water in op te vang. Dit was in hierdie put wat Ismael die lyke gegooi het.

JEREMIA 41:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die middel van herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy was van koninklike afkoms en een van die koning se offisiere. Terwyl hulle in Mispa saam met Gedalja geëet het, het Ismael en sy manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Die koning van Babel het Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, as goewerneur oor die land aangestel. Ismael het al die Jode wat daar by Gedalja in Mispa was, doodgemaak. Hy het ook die Babiloniese soldate wat by Gedalja was, vermoor. Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het, het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die HERE graanoffers te bring en ook wierook te brand. Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet terwyl hy droewig gehuil het. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Kom kyk wat het met Gedalja seun van Agikam gebeur!” Toe hulle in die middel van die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 doodgemaak. Hulle het die lyke in ’n put gegooi. Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle het belowe dat hulle vir hom die koring, gars, olie en heuning sou gee wat hulle in die veld versteek het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie. Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.