Die stortreëns is teruggehou,
en die laatreëns was net nie daar nie.
Maar jy het die voorkop van 'n prostituut;
jy weier om jou te skaam.
Het jy My nie so pas aangeroep as ‘my Vader’ nie?
‘Die boesemvriend van my jeug is U!
Sal Hy dan vir altyd toornig bly,
of toorn vir ewig koester?’
Kyk, so praat jy,
maar jy doen bose dinge,
en hou daarmee vol.”
In die dae van koning Josia het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die HERE.
Die HERE het verder vir my gesê: “Die afvallige, Israel, het haarself regverdiger gedra as die verraderlike, Juda. Gaan skreeu hierdie woorde uit na die noorde en sê,
‘Keer terug, afvallige, Israel!’ ”
is die uitspraak van die HERE.
“Ek sal nie met 'n stroewe gelaat na julle kyk nie,
want Ek is vol troue liefde,”
is die uitspraak van die HERE.
“Ek sal nie vir altyd toornig wees nie.
Erken net jou sondeskuld,
want teen die HERE jou God
het jy oortree.
Jy het jou paaie in alle rigtings
laat loop na vreemdes
onder elke skaduryke boom.
Na my stem het julle nie geluister nie,”
is die uitspraak van die HERE.