JEREMIA 3:3-13

JEREMIA 3:3-13 NLV

Dit is hoekom dit nie in die lente gereën het nie. Jy is net so uitdagend soos ’n prostituut. Jy skaam jou nie eers oor wat jy gedoen het nie. En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, my Vriend van kleins af. U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees oor so ’n klein dingetjie nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om verkeerd te doen.” In die tyd toe Josia koning was, het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie. “Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien. Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien. Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die HERE. Toe sê die HERE vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda! Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: “O, Israel, sê die HERE, julle was ontrou, maar kom terug na My toe. Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie, want Ek is genadig, sê die HERE. Erken net dat julle skuldig is. Erken dat julle teen die HERE julle God in opstand gekom het. Julle was ontrou aan Hom deur onder elke groen boom afgode te aanbid. Bely dat julle My nie gehoorsaam het nie, sê die HERE!