JEREMIA 3:3-13
JEREMIA 3:3-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die stortreëns is teruggehou, en die laatreëns was net nie daar nie. Maar jy het die voorkop van 'n prostituut; jy weier om jou te skaam. Het jy My nie so pas aangeroep as ‘my Vader’ nie? ‘Die boesemvriend van my jeug is U! Sal Hy dan vir altyd toornig bly, of toorn vir ewig koester?’ Kyk, so praat jy, maar jy doen bose dinge, en hou daarmee vol.” In die dae van koning Josia het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat die afvallige, Israel, gedoen het? Sy gaan na elke hoë heuwel, en gaan onder elke skaduryke boom in, en daar hoereer sy. Ek het gedink: Nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My terugkeer. Maar sy het nie teruggekeer nie. En die verraderlike, haar suster Juda, het dit gesien. Sy het gesien dat Ek haar suster, die afvallige, Israel, weggestuur het omdat sy egbreuk gepleeg het. Ek het haar skeibrief vir haar gegee. Maar die verraderlike, haar suster Juda, is nie daardeur afgeskrik nie. Ook sy het gegaan en gehoereer. En omdat haar hoerery so ligtelik opgeneem is, het sy die land besoedel. Sy het met klip en hout egbreuk gepleeg. Selfs nieteenstaande dit alles het die verraderlike, haar suster Juda, nie met haar hele hart na My teruggekeer nie, maar met 'n geveins,” is die uitspraak van die HERE. Die HERE het verder vir my gesê: “Die afvallige, Israel, het haarself regverdiger gedra as die verraderlike, Juda. Gaan skreeu hierdie woorde uit na die noorde en sê, ‘Keer terug, afvallige, Israel!’ ” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie met 'n stroewe gelaat na julle kyk nie, want Ek is vol troue liefde,” is die uitspraak van die HERE. “Ek sal nie vir altyd toornig wees nie. Erken net jou sondeskuld, want teen die HERE jou God het jy oortree. Jy het jou paaie in alle rigtings laat loop na vreemdes onder elke skaduryke boom. Na my stem het julle nie geluister nie,” is die uitspraak van die HERE.
JEREMIA 3:3-13 Die Boodskap (DB)
Dit is hoekom die reën nie in die reëntyd gekom het nie. Jou houding is net so uitdagend soos ’n sekswerker s’n. Jy skaam jou nie eens oor wat jy gedoen het nie. En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, U is my vriend vandat ek sommer nog baie klein was. U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees en kwaad bly nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om alles te doen wat verkeerd is.” In die tyd toe Josia koning in Juda was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat die noordelike koninkryk, Israel, gedoen het? Soos ’n persoon wat ontrou is aan sy huweliksmaat het Israel ander gode begin dien. Op elke hoogte en onder elke groen boom het hulle eer aan hierdie gode gebring. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer aan My lojaal sou wees. Dit het nie gebeur nie. Israel se ontroue suster Juda het alles gesien wat gebeur het. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, ’n skeibrief gegee en haar weggestuur het. Maar dit het geen indruk op Juda gemaak nie. Sy het ook in haar ontrou ander gode begin dien. Israel het niks ernstig opgeneem nie. Dit het haar nie gepla dat haar ontrouheid die land ’n slegte naam gegee het nie. Sy het doodgewoon haar eie kop gevolg en voor vreemde gode neergebuig. Die ergste is dat dit gode was wat met die hand uit hout gesny en uit klip gekap is. Maar na alles wat met Israel gebeur het, het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy was vals en het net gemaak of sy jammer is,” sê die Here. Toe het die Here vir my gesê: “Israel was baie dislojaal aan My, maar wat Juda gedoen het, is baie erger. Maar gaan uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: Israel, sê die Here, jy was dislojaal, maar kom terug na My toe. Ek is nie meer kwaad vir jou nie. Ek hou by my beloftes aan jou. Al wat Ek van jou verwag, is om te erken dat jy verkeerd gedoen het. Jy het teen My, wat die Here jou God is, gerebelleer. Jy het jou onder elke liewe koelteboom voor die gode neergebuig. Jy sal moet erken dat jy nie na My wou luister nie. Dit is wat Ek, die Here, wil hê julle moet hoor.
JEREMIA 3:3-13 Bybel vir almal (ABA)
Ek het nie die winter-reën en die lente-reën laat kom nie. maar julle was soos prostitute wat nie skaam word nie. “Julle sê nog altyd vir My: “ ‘Ons Vader, U is nog altyd ons goeie vriend.’ Julle sê Ek moenie aanhou kwaad wees nie, maar julle hou aan om verkeerd te doen waar julle kan.” Dit was die tyd toe Josia koning was. Die Here het vir my gesê: “Het jy gesien wat die mense van Israel gedoen het? Hulle het My verraai. Hulle het afgode gaan dien op elke hoë berg en onder elke groen boom. Ek het gedink hulle sal na My toe terugkom nadat hulle al hierdie dinge gedoen het, maar hulle het nie teruggekom nie. Die ontrou mense van Juda het dit gesien, en hulle het ook afgode gaan dien. Ek het die mense van Israel wat My verraai het, weggejaag soos 'n man vir sy vrou 'n skeibrief gee en haar wegjaag wanneer sy egbreuk gepleeg het. Maar Ek het gesien die ontrou mense van Juda word nie bang nie. Hulle het ook afgode gaan dien. Dit was vir die mense van Israel maklik om afgode te dien. Hulle het die land ontwy en hulle het My gelos om afgode van hout en klip te dien. Toe Ek die mense van Israel weggejaag het, het die ontrou mense van Juda gesê hulle kom terug na My toe, maar hulle het dit nie regtig gedoen nie.” Dit het die Here gesê. Die Here het ook vir my gesê: “Maar die mense van Israel wat My verraai het, was minder skuldig as die ontrou mense van Juda. Jy moet na die noorde kyk en jy moet sê: Die Here sê: Kom terug, mense van Israel wat My verraai het. Ek is nie meer kwaad vir julle nie, Ek wil doen wat Ek belowe het toe Ek 'n verbond gemaak het met julle. Ek sal nie altyd kwaad bly nie. Maar een ding moet julle weet: Julle het sonde gedoen, julle was opstandig teen julle God die Here, julle het gode van ander volke gedien, oral onder elke groen boom, julle was nie gehoorsaam aan My nie.” Dit het die Here gesê.
JEREMIA 3:3-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En die reënbuie is ingehou, en daar was geen laat reëns nie. Maar jy het 'n hoerevoorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam. Het jy My nie nou eers aangeroep nie: My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U! Sal Hy vir ewig die toorn behou, of dit vir altyd bewaar? Kyk, dit het jy gesê, maar jy het slegte dinge gedoen tot die uiterste toe. EN die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer. En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien. En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het. En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die HERE. Toe het die HERE vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die HERE. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die HERE; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die HERE.
JEREMIA 3:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom het Ek die reënbuie teruggehou en het die vroeë reëns nie gekom nie, maar jy het soos 'n hoer geen berou getoon nie, jy het geweier om jou te skaam. En nou noem jy My skielik: “My vader,” en sê jy: “U is my vriend vandat ek 'n kind was. Sal U vir altyd kwaad wees, vir altyd toornig wees?” Dit is wat jy gesê het, maar jy het verkeerd bly doen net waar jy kon. Dit was tydens die regering van koning Josia. Die Here het vir my gesê: Het jy gesien wat die ontroue Israel gedoen het? Sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom gaan ontug pleeg! Ek het gedink: nadat sy al hierdie dinge gedoen het, sal sy na My toe terugkom, maar sy het nie teruggekom nie. En haar ontroue suster Juda het dit alles aanskou. Toe Ek die trouelose Israel oor al haar ontrou verstoot en die skeibrief aan haar gegee het, het Ek gesien dat haar ontroue suster Juda nie afgeskrik is nie. Ook sy het gaan ontug pleeg. Dit was vir Israel niks om haarself en die land te verontreinig nie, sy het owerspel gepleeg met afgodsbeelde van klip en hout. En asof dit nie genoeg was nie, het haar ontroue suster Juda na My toe teruggekom, maar nie met volle oorgawe nie; dit was vals, sê die Here. Toe het die Here vir my gesê: Die trouelose Israel is minder skuldig as die ontroue Juda. Gaan roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Trouelose Israel, kom terug, sê die Here. Ek sal nie langer vir julle kwaad wees nie, want Ek is getrou, sê die Here, Ek bly nie vir altyd kwaad nie. Erken net jou skuld, dat jy teen die Here jou God in opstand gekom het deur onder elke groen boom vreemde gode te gaan dien en so aan My ongehoorsaam te wees, sê die Here.
JEREMIA 3:3-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is die buie teruggehou, en daar was geen laat reëns nie; en jy het 'n hoer se voorhoof gehad, jy het geweier om jou te skaam. Sal jy nie van nou af tot my roep: My vader, jy is die gids van my jeug nie? Sal hy sy toorn vir ewig bewaar? sal hy dit tot die einde toe hou? Kyk, jy het gespreek en slegte dinge gedoen soos jy kon. Die HERE het ook vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige Israel gedoen het? sy het op elke hoë berg en onder elke groen boom geklim, en daar het gehoereer. En ek het gesê nadat sy al hierdie dinge gedoen het: Bekeer u na my. Maar sy het nie teruggekeer nie. En haar verraderlike suster Juda het dit gesien. En ek het gesien toe Ek vanweë al die oorsake waardeur die afkerige Israel owerspel gepleeg het, haar verstoot en haar 'n skeibrief gegee het; maar haar verraderlike suster Juda was nie bang nie, maar het gegaan en ook gehoereer. En dit het gebeur deur die ligtheid van haar hoerery, dat sy die land verontreinig het en egbreuk gepleeg het met klippe en met stokke. Maar oor dit alles het haar verraderlike suster Juda haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar bedrieglik, spreek die HERE. En die HERE het vir my gesê: Die afvallige Israel het haarself meer geregverdig as die ontroue Juda. Gaan roep hierdie woorde uit na die noorde en sê: Keer terug, jy afkerige Israel, spreek die HERE; en Ek sal my toorn oor julle nie laat val nie; want Ek is barmhartig, spreek die HERE, en Ek sal die toorn nie vir ewig bewaar nie. Beken net jou ongeregtigheid, dat jy teen die HERE jou God oortree het en jou weë na die vreemdes verstrooi het onder elke groen boom, en julle het na my stem nie geluister nie, spreek die HERE.
JEREMIA 3:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is hoekom dit nie in die lente gereën het nie. Jy is net so uitdagend soos ’n prostituut. Jy skaam jou nie eers oor wat jy gedoen het nie. En nou skielik sê jy vir My: ‘U is my Vader, my Vriend van kleins af. U sal sekerlik nie vir altyd kwaad wees oor so ’n klein dingetjie nie?’ Dit is die soort praatjies wat julle maak, maar julle hou net aan om verkeerd te doen.” In die tyd toe Josia koning was, het die HERE vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid. Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie. “Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur. Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien. Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien. Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die HERE. Toe sê die HERE vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda! Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit: “O, Israel, sê die HERE, julle was ontrou, maar kom terug na My toe. Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie, want Ek is genadig, sê die HERE. Erken net dat julle skuldig is. Erken dat julle teen die HERE julle God in opstand gekom het. Julle was ontrou aan Hom deur onder elke groen boom afgode te aanbid. Bely dat julle My nie gehoorsaam het nie, sê die HERE!